VAN KRIP TOT KRUIS TOT KONINGSKAP | |
  |
Jesus het as ‘n gewone baba in die wêreld gekom. Hy is in ‘n stal gebore en Sy wiegie was ‘n krip. Hy was, net soos enige ander mens, onderworpe aan die gang van tyd en moes, net soos alle ander kinders, na Sy ouers luister. Hy het in die Romeinse provinsie Palestina grootgeword, en Sy Hande het hard en sterk geword in skrynwerker Josef se winkel. As mens het Hy van plek tot plek geloop, mense aangeraak en met skares gepraat. Hy het twaalf dissipels opgelei om Sy werk later voort te sit. Op elke tree van Sy lewenspad is Hy gekonfronteer deur misverstand en mense wat Hom wou verhinder om met Sy Vader se werk voort te gaan; mense wat Sy invloed vir altyd wou uitwis. Uiteindelik het hulle so ver gegaan om Hom vanuit Joodse godsdienstige hoek valslik van misdrywe te beskuldig. Hy is verhoor en ter dood veroordeel; Hy is soos ‘n gewone misdadiger tereggestel deur Romeinse soldate. So het Hy dan ook gesterf, nadat Hy mishandel is. Ja, Jesus, wat volkome God én volkome mens was, het Sy lewe gegee sodat die mens kan lewe. Op die tyd wat God daarvoor bestem het, sal die opgestane Jesus terugkeer na die aarde. Dan sal almal weet en erken dat Hy Here van die heelal is! Almal wat Hom liefhet, sal juig. Hulle sal die Verlosser met sang en lofprysing begroet. Sy vyande sal egter van vrees bewe. Hulle sal, onder die vaandel van die Bose, teen Christus en Sy leërs optrek - maar hulle sal gou uitvind dat niemand teen die oordeel van God staande kan bly nie. Christus sal die veldslag finaal wen en vir ewig as die erkende Oorwinnaar heers! Jesus, die nederige dienskneg wat soveel moes ly, is ook die verheerlikte Koning en Regter. [Die Bybel in Praktyk, CUM, 1993]. |