|
Hierdie bly vir my een van die besondere stories rondom Michelangelo. Blykbaar is die marmer wat vir sy Dawid-beeld gebruik is, deur verskeie kunstenaars weggewys omdat dit byna onmoontlik was om die marmer te verwerk. Selfs Leonardo da Vinci het dit weggewys en gemeen dat dit nie regtig bruikbaar was om 'n menslike figuur te skep nie. Dit was ook 'n besonder duur stuk marmer. Is dit nie maar wat met ons ook op geestelike gebied gebeur nie? Ons is eintlik ook maar onbewerkbare materiaal wat in die hande van 'n genadige God (wat ten duurste vir die “marmer” betaal het), omskep word in 'n meesterstuk tot Sy eer. Die skoonheid van die beeld lê juis in die gebrokenheid van die materiaal. Ons skoonheid is nie in ons besondere gawes en talente opgesluit nie, maar veel eerder in ons gebrokenheid waardeur 'n lewende God werk. Aan die einde van Michelangelo se lewe het hy so gebewe dat hy hom tot die digkuns gewend het en ook op hierdie vlak beson-dere werk gelewer het. Hy het egter baie hiervan verbrand aangesien hy nie wou hê dat mense sien hoe hy sukkel voordat hy by die eindproduk gekom het nie. Hy is nooit getroud nie, maar 'n baie goeie vriendin, Vittoria, is in 1547 dood en het hom eensamer as ooit agtergelaat. Hy het in 1564 op 89-jarige ouderdom gesterf en tot die einde nog meesterwerke gelewer. Hy was bekend as 'n disfunksionele mens, en ek word net so bewus van die genadige God wat bokant die gebrokenheid van die mens uitstyg en hom tot groot hoogtes in staat stel. In my eie lewe is ek al dikwels deur my eie gebrokenheid oorweldig. Daarom gee stories soos dié van Michelangelo vir my hoop. Ek weet net dat as dit van my afgehang het, ek nooit besondere hoogtes sou kon bereik nie. Ek besef dat die hoogtes nie impliseer dat ek wêreldberoemd moet word nie, maar dat ek 'n verskil maak net daar waar God my met my besondere gawes geplaas het. Soos sovele kere al genoem, is dit dikwels om 'n verskil in net één mens se lewe te maak. Want onthou, die één verlore skaap is vir die Here baie belangrik! “The more the marble wastes, the more the statue grows.” Hoe moeilik ook al, ek moet glo dat God op ‘n besondere manier besig is om die dele wat nie werk nie, weg te kap sodat Hý meer sigbaar word! [Uit: Shrink-stories, Eugene Kemp, Naledi, 2009]. |