HARTSGEMEENSKAP
  “Ek is alleen met haar in my hart.” So het my vriend my geantwoord nadat ek ná die heengaan van sy vrou aan hom 'n briefie van mee-gevoel gestuur het. Ek het geweet haar dood sou vir hom 'n swaar slag wees, want die kinders was lankal uit die huis en hulle twee het maar net vir mekaar gelewe...

En nou was hy alleen. Sy lewens-maat se plek was leeg - oral leeg, behalwe in sy hart. En dit was sy troos: dat sy nog in sy hart gewoon het. Ware liefde vergaan nooit nie. Die dood kan dié wat ons liefhet, van ons wegneem, maar die dood kan hulle nie uit ons hart verwyder nie. Daar leef hulle voort. Daar het ons met hulle 'n hartsgemeenskap wat nie verbreek word nie.

So 'n hartsgemeenskap met Christus bestaan daar by elkeen wat Hom waarlik liefhet. Deur die geloof woon Hy in die hart van almal wat in die liefde gewortel en gegrond is (Ef. 3:17).

Watter storms in ons lewe ook mag kom, watter smart ons ook moet verduur, Christus bly ewig woon in die hart van Sy kinders. Christus in die hart - wat beteken dit vir ons?

Dit lei ons tot oorwinning. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37).

Dit verskaf aan ons vreugde. “Bly in hierdie liefde van My... dat My blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word” (Johannes 15:9, 11).

Dit bring aan ons vrede. “Ons (het) vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1).
Dit gee aan ons krag. “My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring” (2 Korinthiërs 12:9).

Dit maak ons lewe vrugbaar. “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra baie vrug” (Johannes 15:5).

Dit kalmeer ons gemoed. “Kom na My toe... en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28).

Dit verryk ons lewe. “Ek het gekom, dat julle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).
- Oorgeneem

Indeks     Index