WANT DIE HERE GEE KRAG!
  Ek kan waarlik sê die Here is getrou aan Sy belofte dat Hy jou sal bystaan en krag gee om die duiwel te weerstaan wanneer hy kom met sy aanslae en versoekings.
Tot op 17 Januarie 2001 het ek baie gedrink. Met my tuiskoms daardie aand het ek besluit - “Tot hiertoe en nie verder nie!” Ek het met my Bybel, my kussing, jas en lig in my motor geklim en al my geld tuis gelos. Ek is na die ou begraafplaas waar my Ouboet se graf is.
Daar gekom, het ek in gebed en smeking voor die Here gebuig en myself “nugter” gebid. Ek het vir die Heer gevra om my krag te gee om “nee” te sê vir enige soort alkoholiese drank en het Hom belowe dat indien Hy my die krag daartoe sal gee, ek nooit weer enige drank sou gebruik nie. Die Here hét my krag gegee soos ek gevra het en ek het volhard.
Gedurende Augustus 2010 het die duiwel my met soveel geweld aangeval en versoek dat ek die drank in my mond geproe het terwyl ek by die werk besig was om te eet. Ek het my vrou dadelik gebel en haar vertel wat aan die gebeur is, en gevra dat sy vir my moet bid. Sy het my aangeraai om, sodra my omstandighede dit toelaat, na ons leraar te gaan en hom ook te vra om vir my te bid.
Ek het later die dag 'n kans gekry en na sy huis gery met die ver-troue dat hy daar sou wees. Hy was wel tuis en ek het aan hom alles vertel wat gebeur het en hoe geweldig die duiwel my aanval en dat ek dit nie alleen meer kon hanteer nie. Hy het vir my gebid en die Here gevra om my by te staan en die nodige krag te gee om te oorwin. Hy het die duiwel in God se Naam gelas om my met rus te laat.
Nadat hy vir my gebid het en ek met Trens Erasmusweg oor die Schoonspruit ry, het ek gevoel hoe daar 'n groot gewig van my skouers afval. Groot vreugde en vrede het oor my gekom! Ek het besef my leraar se gebed is verhoor en dat God vir my oorwinning bewerkstellig het. Tot vandag toe het die duiwel nog nooit weer na my met 'n soort-gelyke aanslag of versoeking gekom nie. Al die eer en lof kom die Here toe! Hy gee aan my elke dag krag en onderskraging deur die Heilige Gees wat my leer en lei in al Sy waarheid! Ek kan waarlik getuig dat God getrou bly aan al Sy kosbare beloftes. Ek prys God met alles wat binne-in my is vir Sy groot liefde, krag en genade!
Enige persoon wat hulp of raad nodig het, kan my gerus skakel by 074 680 1098. - Nico Smal

Indeks     Index