GOD SPAAR MY LEWE!
  “'n Mens wat in die allerhoogste God se beskerming is, word selfs snags ook deur die Almagtige bewaar. Dan kan jy vir die Here sê: U is my skuilplek en my vesting, U is my God, en ek vertrou op U” (Ps. 91:1, Lewende Bybel).
Die nag van 28 Maart 2013 sal ek nooit vergeet nie!
Ek het 'n reëling met vriende gehad om vir 'n paar aande by hul huis te oornag terwyl hulle 'n welverdiende blaaskansie kon geniet.
Na voorsang-oefening by my gemeente, het ek ongeveer 20:30 die aand by my vriende se huis aangekom. Alles het veilig gelyk terwyl ek by die elektroniese hek ingery het. Rustig het ek my goedjies uitgelaai en gaan neersit by die veiligheidshek waar ek moes ingaan om toegang te kon verkry tot hul woning.
Toe ek by die kanthekkie ingaan, kry ek hul hondjie, wat veronder-stel was om in die huis te wees, buite die huis. Ek het opgemerk dat sy snaaks optree, maar het gedink sy voel maar net vreemd omdat ek daar is. Die gedagte het by my geflits dat sy moontlik by 'n lae venster uitgeklim het.
Met die oopsluit van die deur en inloop, het ek so vir 'n oomblik gaan stilstaan. Daar kom toe 'n swartman in die gang afgeloop en hy gaan verbaas staan toe hy my sien. Met 'n hemelse kalmte groet ek hom met 'n “Hallo”. Hy lig sy hand waarin 'n yster was, op in die lug. En dit lyk toe asof hy my wil stormloop…
Ek lig my hand op en met my wysvinger op hom gerig, sê ek deur God se hulp en genade ferm vir hom slegs een woord: “Nee!”
Toe draai ek so vinnig as wat ek kon om en wou na buite vlug. Maar toe ek by die drumpel kom, kom dieselfde man wat die ysterpyp gehad het, uitgehardloop saam met nog 'n ander man. Vader God het hulle op loop gejaag en my lewe gespaar!
Die oomblik toe die rowers weghardloop, het ek my foon in die hande gekry en baie goeie Christenvriende gebel wat my dadelik te hulp gesnel en die polisie geskakel het. Hulle het ook 'n vriend geskakel wat in dieselfde straat woonagtig is waar die gebeure plaasgevind het. Hy en my vriende asook die polisie het my kom bystaan.
Groot dankbaarheid het my hart gevul vir al die hulp en bystand, want dinge kon so anders uitgewerk het. Ek bring ook alle eer aan ons goeie en getroue God en hemelse Vader wat oor Sy kinders waghou!
Yvette van der Sandt
(084 767 7371).

Indeks     Index