ONS TOEKOMS IS SO HELDER SOOS DIE BELOFTES VAN GOD
  Koerantopskrifte verskaf daagliks aan ons die sleutelwoorde wat die noodkrete van die menslike hart uitspel. Angs, benoudheid, kommer, onrus, onsekerheid, ontrou, die bevolkingsontplof-fingskwessie, voedseltekorte, siekte en dood het huishoudelike begrippe geword en die mens word gekondisioneer om daar-mee saam te lewe, só asof dit alledaags behoort te wees.

Geweld is aan die orde van die dag en spanning neem toe. Dit is asof die aarde al vinniger om sy as tol en ons harte en sinne net nie kan byhou by die gejaagde, veeleisende en dikwels chaotiese lewensomstandighede nie. Eko-nomiese, politieke en maatskap-like toestande beïnvloed elke individu direk of indirek en ons kan nie afsydig staan t.o.v. die eise wat in die wêreld gestel word nie, want a.g.v. hedendaagse kommunikasiemedia het lande sitkamergaste van mekaar geword.

Kom ons wel tot stilstand en neem ons die situasie in oënskou, skyn dit asof ons 'n duistere toekoms tegemoetgaan. MAAR die WOORD van GOD het 'n antwoord en oplossing vir elke probleem, vir elke situasie, vir elke krisis. In hierdie wêreld van bitter-suur ondervindinge en leë beloftes van mense, lees ons in Ps. 119:103 - “Hoe soet is U beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.” Ons kan dus letterlik smaak dat die Here goed is. Omdat JESUS CHRISTUS gister en vandag dieselfde is en tot in alle ewigheid (Hebreërs 13:8), kan ons op Sy beloftes staatmaak, want God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie. Daarom is Sy erfenis aan ons so onuitspreeklik kos-baar en meer waardevol as AL die rykdomme van die wêreld.

Een van die mens se grootste behoeftes is die behoefte aan SEKURITEIT. Hy wil iets hê om op terug te val; hy wil veilig en geborge voel. Deurdat ons in so 'n onveilige en vinnig veranderde wêreld leef, word hierdie begeerte al hoe intenser. Ons raak benoud en bevrees as ons sien hoedat geweld en vernielsug toeneem. Bekommerd slaan ons wêreld-gebeure gade, maar GOD belowe in Ps. 46:2-3 dat HY vir ons 'n TOEVLUG en STERKTE is. As HULP in benoudhede is HY in hoë mate beproef en ons hoef nie te vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. WAT 'N BELOFTE!

VASTIGHEID is by die ROTS DER EEUE te vind en dit is alleenlik HY wat in staat is om ons uit AL ons angste te red (Ps. 107:6). Dokters en psigiaters mag tydelik ver-ligting en genesing bring, maar dit is ALLEENLIK die HERE wat ewigdurende VREDE, RUS en GENESING bied. Also is die belofte in Joh. 14:27 só kosbaar: “Vrede laat EK vir julle na, MY vrede gee EK aan julle; nie soos die wêreld gee, gee EK aan julle nie. Laat julle hart nie onsteld word en bang wees nie.”

In 'n wêreld waar regeringshoofde en amptenare lande deurkruis in 'n poging om vrede te bewerk-stellig, is dit wonderlik om vas te hou aan die belofte dat die VREDE van GOD wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en sinne sal bewaar in Christus Jesus (Fil. 4:7) en dat ons, wat as sondaars vyande van God is, ook deur JESUS vrede by God het! (Rom. 5:1). In die hede, maar ook in die toekomstige lewe, is ons deelgenote van die vrede van God omdat SY belofte EWIG en WAAR is.

Skuldgevoelens beroof menige mens van gemoedsrus. Hoe genadig is God wanneer Hy belowe om ons van ons SKULD VRY TE SKELD: “As iemand gesondig het, ons het 'n VOOR-SPRAAK by die Vader, JESUS CHRISTUS, die Regverdige. En HY IS 'n versoening vir ons sondes (skuld), en nie alleen vir ons s'n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:1-2). Gepaard met skuld en vrede, vind ons die begrip “VRYHEID”. Dwarsoor die wêreld hoor ons vryheidskrete opgaan. Bloedige gevegte en gewelddadige optrede en wandade word onder die naam van “vryheid” gepleeg. In baie kringe het sg. “vryheid” 'n term vir losbandigheid en eie gewin geword. Hierdie soort “vryheid” is geen werklike vryheid nie, want die mens bly steeds slaaf van homself en van ander as hy nog nie tot die besef gekom het dat die belofte wat opgeteken is in Joh. 8:36 - “As die SEUN julle dan vrygemaak het, dan sal julle waarlik vry wees” - ook vir hom geldig is nie.

Nog 'n basiese behoefte van die mens is VOEDSEL. In Matt. 6:25-34 toon die Heiland só duidelik dat ons ons nie hoef te bekommer oor wat ons sal eet of wat ons sal drink of wat ons sal aantrek nie. Hy wéét dat ons al hierdie dinge nodig het en Hy belóóf om dit vir ons by te voeg as ons in die éérste plek soek na die Koninkryk van God en SY Geregtigheid.

Daar is seker géén winkel in die ganse wêreld wat die volgende aanbod as belofte sal maak nie: “ALMAL wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” (Jes. 55:1). Verder sê Christus dat HY die BROOD van die LEWE is (Joh. 6:48) en HY belowe dat diegene wat van dáárdie Brood eet, tot in ewigheid sal lewe! (Joh. 6:51). Dís 'n belofte wat elke dag die prominentste plek in elke nuusmedium moet inneem. Hoewel die mens al roemryke mediese en ander prestasies behaal het, kon hy nog geen dooie lewendig maak nie en allermins te kenne gee dat hy oor die mag of kennis beskik om onsterflikheid te bewerkstellig. Aan die VERGANKLIKHEID van die lewe kon die mens nog nooit iets doen nie. Daarom sou 1 Kor. 15:53-54 ewe trefferhoofopskrifte kon wees: “Want hierdie vergank-like moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie ver-ganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning!” Waar ons neerlae in die wêreld ly, kan ons ons verheug in die belofte van OORWINNING wat daar deur Christus Jesus vir ons is (1 Kor. 15:57).

Hierdie gejaagde wêreld veroor-saak dat ons almal smag na RUS, na stilte, na afklim van die immer bewegende wêreldmallemeule. IS DAAR RUS? Matt. 11:28 beloof dit aan ons: “Kom na MY toe, almal wat vermoeid en belas is en EK SAL julle RUS GEE.” In die bekende Ps. 23 verneem ons dat HY ons heenlei na waters waar rus is, sodat ons daar water kan skep met vreugde uit die fonteine van heil (Jes. 12:3). Water werk kalmerend in op die gemoed; dit les die dors, dit gee lewe en bewerkstellig groei. Daarom is dit so 'n liefdevolle daad van die Vader dat HY belowe om ons na rustige waters te lei en dat strome van lewende water uit ons binneste sal vloei (Joh. 7:38).

Op hierdie problematiese en doolhofagtige lewenspad sê Christus dat HY die WEG, die WAARHEID en die LEWE is. Daarmee belóóf HY aan ons 'n pad wat ons met vrymoedigheid kan bewandel; sonder vrees, sonder kommer en sonder onsekerheid, omdat ons weet dat die Here ons Beskermer, ons Leidsman en die Voleinder van ons geloof is. Ons wéét die eindbestemming van dié pad is die ewige heerlikheid en Sabbatsrus wat Hy vir Sy kinders bestem en belowe het.

God wéét dat die mens ook behoefte aan INNERLIKE GENE-SING en VERTROOSTING het en daarom die beloftes in Ps. 147:3 - “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde” en Jer. 31:25 - “Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.”

Hoog op die ranglys van voor-keure by die mens is WYSHEID en KENNIS. Beide hierdie begeerlike “besittings” word deur harde arbeid en jarelange studie en ervaring verwerf. Tog lees ons in Jak. 1:5 die volgende belofte: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” Daar is egter 'n groot verskil tussen die wysheid en kennis wat die mens self bekom en dié wat God aan die mens gee. So dan word dikwels die dwaashede van die wêreld aan die lig gebring deur die Godgegewe wysheid (1 Kor. 3:19). Die beginsel van nuttige kennis is dat ons God moet eer en gehoorsaam.

Die rykdom en volheid van God se beloftes kan nooit uitgeput raak nie en in die bestek van 'n paar honderd woorde word net begin om die wonder daarvan te probeer beskryf. Genoeg vir ons om te weet dat Jesus belowe het dat HY ons nóóit sal begewe en nóóit sal verlaat nie (Hebreërs 13:5b), maar dat Hy met ons is tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28:20). 'n Altyd teenwoordige God trek 'n laer rondom dié wat Hom vrees (Ps. 34:8) en sluit hulle dus van alle kante in. Daar is geen veiliger skuilplek in die wêreld nie!

In 'n immer donker wordende wêreld skyn die SON van GEREGTIGHEID al helderder vir elke mens wat SY beloftes wil aanneem. SY liefde is alomvattend en maak voorsiening vir elke aspek van die menslike liggaam, siel en gees. Niks en niemand kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie en daarom is Sy genade grensloos, Sy seëninge onbeperk en die sekuriteit en rykdomme wat HY bied, legio. “Want Sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; U trou is groot” (Klaagliedere 3:22-23).

Met GOD as die BRON van al die beloftes vervat in SY WOORD, is ons verseker van die grootste en kosbaarste erfenis wat ons ooit kan verkry. JESUS het deur SY BLOED 'n NUWE TESTAMENT vir ons van krag gemaak. Ons kan Rom. 8:31-32 in ons handpalms graveer - “AS GOD vir ons is, WIE kan teen ons wees? HY wat selfs SY eie SEUN nie gespaar het nie, maar HOM vir ons almal oorgegee het, hoe sal HY nie saam met Hom ons ook ALLES genadiglik SKENK nie.”

Dus kan ons verseker wees dat ONS TOEKOMS SO HELDER IS SOOS DIE BELOFTES VAN GOD!!
© Huegene Venter

Indeks     Index