GOD IS MY VEILIGE VESTING
  Ek het baie uitgesien na die naweek. 'n Klomp vriende het my uitgenooi om saam te gaan bergklim. “Darem nie kranse uitklim nie!” het hulle my verseker. Dit was heerlik so in die natuur. Die uitsig was ongelooflik mooi van bo af. Met verwondering het ek daar gestaan en my longe vol getrek van die silwer-skoon lug en die reuk van fynbos.

Skielik sien ek, reg waar ek staan, 'n gladde afgrond, 100 m loodreg af, beide kante van voor en agter my! Ek word duiselig van vrees. Dit lyk nie of een van die ander klimmers bang is nie. Hulle moedig my aan om die hoogte af te klim na waar hulle op 'n smal lysie sit. Gly-gly en bewerig het ek dit gemaak tot daar. Toe ek by hulle aankom, hoor ek die leier sê dat ons nou weer boontoe moet klim om by die paadjie uit te kom waar ons ons aftog teen die berg sou begin. Ek het net geweet ek gaan dit nie regkry nie!

Met die opklim was my bene bewerig en swak. Voortdurend was daar iemand wat my aangemoedig het. Die paadjie wat na onder gaan, was ook nie net reguit af nie. Soms moes ons teen 'n styl krans opklim en dan weer af om op die gebaande bergklim- paadjie te bly. Daar was geen moontlikheid om op 'n ander manier onder te kom nie. Later bereik ons 'n rots wat 'n skerp punt maak. Ons het op die rots net 'n kort rukkie vertoef om ons asem terug te kry.

Toe almal op die rots is, het ek skielik agtergekom dat ek stok-sielalleen op 'n smal rotslysie van 20 cm staan. Die vastrapplek was min en ek sou nog om die rots op hierdie smal lysie moes gaan om by die ander aan te sluit. Niemand was naby om te help nie! Daar was nie plek vir meer as een op hierdie lysie nie.

Ek het gevries van vrees en begin sweet van angs... Ek was baie na aan trane. Daar staan ek, op die smal lysie, met my rug teen die rots, my arms uitgestrek om aan weerskante van die rots vas te hou. Ek kon nie my bene sover kry om aan te gaan nie. Ek kon ook nie teruggaan nie. 'n Ander persoon, wat ek nie kon sien nie, het aan die agterkant van die rots gestaan... ook op die smal rotslysie, ook met sy arms uitgestrek om weers-kante van die rots vas te hou. Ek was vreesbevange, maar die persoon het my voortdurend aangemoedig. Op 'n stadium kon ek die ander persoon se vinger-punte teen myne voel. Ons het ons vingers ingehaak. Op daar-die oomblik het al my vrees verdwyn...

Hoe verlig was ek toe ek wakker word en besef dit was net 'n droom!

Toe ek die volgende dag in die kerk sit, kom die beeld van Michelangelo se skildery van die skepping in my geestesoog op. Adam steek sy arm uit na God. God, met 'n uitgestrekte arm, raak Adam se vingerpunte aan. Die wete dat ek nie kan nie, maar God kan, het vir my vrede in my gemoed gebring. Die vorige week het ek Jesaja 26:4 getik en in my kantoor opgeplak: “Vertrou altyd op die Here, want Hy is 'n veilige toevlug.” Daardie dag in die kerk, het ek vir die eerste keer Jesaja 26:4 verstaan.

Mada (076 391 7529)

Indeks     Index