DIE WEDERKOMS VAN JESUS CHRISTUS | ||
  |
Die chaotiese en rampspoedige wêreld waarin ons vandag leef, verg van elkeen van ons om die Woord van God te ondersoek, sodat ons 'n ware perspektief op daaglikse wêreldgebeure kan verkry. Dan sal ons ook tot die ontdekking kom dat die Wederkoms van Jesus nie meer so ver in die verskiet is soos wat baie mense reken nie. Die meeste mense, en veral Christene, is bekend met Jesus se eerste koms na die aarde as 'n Babatjie. Dit is egter nie almal wat soveel aandag aan Sy Wederkoms na die aarde toe, bestee nie. Tog is Bybelnavorsers dit eens dat daar 1 845 verwysings in die Bybel gevind kan word met betrekking tot Sy Wederkoms. Jesus Self het 21 keer hierna verwys. In die 260 hoofstukke van die Nuwe Testament is daar 318 verwysings na die Wederkoms van Jesus Christus - 8 keer meer as oor Sy eerste koms! Daar is 735 profesieë in die Bybel waarvan 593 reeds vervul is. Dus is ongeveer 80% reeds vervul en kan ons met sekerheid glo dat die res ook in vervulling sal gaan. Met Jesus se hemelvaart staan die dissipels op die Olyfberg en staar stip na die hemel. Twee engele verskyn aan die verslae dissipels en vertroos hulle: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien weg-vaar het” (Handelinge 1:11 OV). Hierna het die dissipels van die Olyfberg weggedraai om terug te keer na Jerusalem. Die engele se woorde het vertroosting gebring, maar ook bevestig dat Jesus weer sal terugkeer. Sy hemelvaart beteken dus nie dat Hy wegge-gaan het om nooit weer terug te kom nie. Hy kom wéér! Soos 'n wolk Hom weggeneem het (Handelinge 1:9), so sal Hy wéér terugkom. En Hy sal ook wéér na die Olyfberg terugkeer vanwaar Hy in die eerste plek opgevaar het! Sagaria 14:4 (OV) beskryf dit soos volg: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.” Geografies lê daar 'n slenkdal ('n dal wat ontstaan deur die daling van die bodem, veroorsaak deur onderaardse verskuiwing), van noord na suid in Palestina en hier loop ook die Jordaanrivier. Daar is 'n soort breuk in die aardkors. Hierdie slenkdal strek vanaf die horing van Afrika in die suide, regdeur die Dooie See, deur die Jordaandal noordwaarts, deur die kom van die meer van Galilea, en tot in Asië in die noorde. Dit is hierdie slenkdal wat blykbaar onder die drukking in die aard-kors sal meegee wanneer Jesus Christus Sy voete op die Olyfberg sal plaas. Hierdie geweldige aardbewing wat sal plaasvind, sal die Olyfberg in twee skeur en die berg Megiddo amper letterlik in 'n dal omskep! Hier sal die Slag van Armageddon dan plaasvind! Kom ons kyk na nog 'n paar voorbeelde uit die Bybel waar daar na Jesus se Wederkoms verwys word. Jesus het by geleentheid op die Olyfberg gestaan en Sy Wederkoms in dramatiese taal aan Sy dissipels bevestig: “Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weer-ligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig... Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemel-ruim sal ontwrig word. Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit” (Matteus 24:27, 29-30 NV). Die apostel Johannes skryf: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf” (Openbaring 1:7 OV). Jesus Self bevestig Sy Wederkoms: “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou” (Openbaring 22:20(a) OV). Wanneer Jesus weer na die aarde terugkeer en Sy voete die Olyfberg raak, sal die berg oopbars en 'n wye deurgang van Jerusalem na Jerigo skep. Hierdie gebeurtenis sal ongeëwenaard in mensegeskiedenis wees! Terwyl Hy die eerste keer in nederigheid en eenvoud na die aarde toe gekom het, sal Sy heerlikheid en majesteit hierdie keer skouspel-agtig ten toon gestel word vir almal om te sien: “Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regver-digheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë het soos vuur gevlam, en op Sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy Self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en Sy Naam is: 'Die Woord van God.' Op Sy klere, by Sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: 'Die Koning van die konings en die Here van die heersers'” (Openbaring 19:11-13, 16 NV). - Uittreksel uit: 5 voor Middernag? Japie & Huegene Venter, 2011. Die feit dat JESUS se koms die vervulling van baie Ou-Testa-mentiese profesieë was, is volgens die Evangelieskrywers een van die belangrikste redes om in Hom te glo. Hier volg 'n lys van sommige van die belangrikste profesieë wat deur Hom vervul is. Die sleutel is as volg: 'OT' verwys na Ou-Testamentiese profesieë, en 'NT' verwys na Nuwe-Testamentiese vervulling in onderstaande lys. 1. Die Messias sou in Betlehem gebore word. OT: Miga 5:2. NT: Matt. 2:1-6; Luk. 2:1-20. 2. Die Messias sou uit 'n maagd gebore word. OT: Jes. 7:14. NT: Matt. 1:18-25; Luk. 1:26-38. 3. Die Messias sou 'n profeet wees. OT: Deut. 18:15, 18, 19. NT: Joh. 7:40. 4. Die Messias sou Jerusalem binnegaan. OT: Sag. 9:9. NT: Matt. 21:1-9; Joh. 12:12-16. 5. Die Messias sou deur Sy eie mense verwerp word. OT: Jes. 53:1,3; Ps. 118:22. NT: Matt. 26:3-4; Joh. 12:37-43; Hand. 4:1-12. 6. Die Messias sou deur een van Sy volgelinge verraai word. OT: Ps. 41:10. NT: Matt. 26:14-16, 47-50; Luk. 22:19-23. 7. Die Messias sou verhoor en skuldig bevind word. OT: Jes. 53:8. NT: Luk. 23:1-25; Matt. 27:1-2. 8. Die Messias sou stilbly en nie op die beskuldigings antwoord nie. OT: Jes. 53:7. NT: Matt. 27:12-14; Mark. 15:3-4; Luk. 23:8-10. 9. Die Messias sou deur Sy vyande geslaan en gespoeg word. OT: Jes. 50:6. NT: Matt. 26:67; Matt. 27:30; Mark. 14:65. 10. Die Messias sou gespot en getart word. OT: Ps. 22:7, 8. NT: Matt. 27:39-44; Luk. 23:11, 35. 11. Die Messias sou aan 'n kruis sterf. OT: Ps. 22:15-18. NT: Matt. 27:31; Mark. 15:20, 25. 12. Die Messias sou saam met misdadigers ly en vir Sy vyande bid. OT: Jes. 53:12. NT: Matt. 27:38; Mark. 15:27-28; Luk. 23:32-34. 13. Die Messias sou asyn en gal kry om te drink. OT: Ps. 69:22. NT: Matt. 27:34; Joh. 19:29-30. 14. Ander sou lootjies trek oor die Messias se klere. OT: Ps. 22:19. NT: Matt. 27:35; Joh. 19:23-24. 15. Die Messias se bene sou nie gebreek word nie. OT: Eks. 12:46. NT: Joh. 19:31-36. 16. Die Messias sou sterf as 'n offer vir die sonde. OT: Jes. 53:5,6,8,10-12. NT: Joh. 1:29; 11:49-52; Hand. 10:43;13:38-39. 17. Die Messias sou uit die dood opstaan. OT: Ps. 16:10. NT: Hand. 2:22-32; Matt. 28:1-10. - Die Bybel in Praktyk, CUM, 1993. |