DIE GEES VAN KERSFEES | |
![]() |
|
  |
KERSFEES, Goeie Vrydag, Hemelvaart en Pinksterfees is groot kerklike feesdae; elkeen met sy eie karakter en boodskap aan die mens. Van hierdie feeste is Kersfees seker die gewildste. Oud en jonk sien uit na Kersfees. Siekes verwag op dié dag iets besonders. Dit is asof daar nuwe hoop in hulle harte opvlam. Oues van dae moet onthou en gelukkig gemaak word. Almal probeer om op hierdie dag geluk rondom hulle te saai. In baie harte word nuwe voornemens gekoester, maar as Kersfees werklik vir ons iets beteken, behoort ons die héle jaar deur die Kersfees-gees uit te leef. Dit sal ons slegs kan doen as ons in die gees neerkniel voor die Kindjie van Betlehem en Hóm die goud, wierook en mirre van ons harte en lewens gee; as ons Hóm erken en huldig, nie alleen as die Koning van die Jode nie, maar ook as ons Koning. Wat ís die gees van Kersfees? DIT IS 'N GEES VAN LOF Die liedere van Sagaria, Maria, Elisabet en Simeon was almal lofliedere. Ook die engelelied was een van lof en eer aan God. Ook ons lewens moet meer van 'n loflied wees as ons dink aan alles wat God aan ons deur Sy Seun gegee het! DIT IS 'N GEES VAN BLYDSKAP Die engele het gesê: "Kyk, ons bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees..." Christus het gesê dat Sy blydskap in ons volkome moet word. Ons moet Kersfees vier met vreugde en blydskap, omdat daar vir ons persoonlik 'n Saligmaker gebore is! Ons het geen reg om ons te verbly oor Kersfees as ons nie die geestelike betekenis daarvan aanvaar en Jesus aanneem as ons Verlosser nie! DIT IS 'N GEES VAN HULDE EN AANBIDDING Skaapherders uit die velde van Betlehem, die wyse manne uit die Ooste, die heiliges, het aan Jesus hulde gebring en Hom aanbid. En ons? Is daar nie by ons 'n gees van ligsinnige pret en plesier op Kersdag nie? En as ons bid, VRA ons nie maar net nie? Daar is 'n groot verskil tussen bid en aanbid. Daar moet by ons wees 'n gees van hulde en aanbidding in heilige eerbied. Dit kan ons alleen besit as ons Hom liefhet: as ons Hom ken as Immanuel - God met ons. DIT IS 'N GEES VAN GEE God het met Kersfees aan ons Sy beste, Sy Eniggebore Seun gegee en ons gee ook met Kerstyd aan mekaar. Maar gee ons aan God? Wat gee ons aan Hom? Gee ons ons beste, ons lewens? Laat ons 'n gees van gee uitleef! Die gee van ons beste, onsself, ons talente, ons tyd, ons gawes, ons diens en ons liefde, omdat ons God se onuitspreeklike Gawe ontvang het! DIT IS 'N GEES VAN VREDE Hy is die Vredevors. Die engele sing: "Vrede op aarde." Laat ons vrede leef en vrede saai. Wees op u hoede; moet nooit kwaad, rusie, twis of agterdog saai met u woorde nie. Hy, die Vredevors, sê self: "Salig is die vredemakers, want hulle sal God sien." DIT IS 'N GEES VAN LIEFDE "Want so lief het God die wêreld gehad..." God het die mens s&oacure; liefgehad! God het Sy liefde bewys deur Sy Seun te gee. Christus het Sy liefde bewys deur Homself, Sy lewe, te gee. Hoe bewys ons ons liefde? Christus het gesê: "Dit is My gebod dat julle mekaar moet liefhê. Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. Hieraan sal die wêreld weet dat julle My kinders is, as julle liefde het onder mekaar". Hoe is dit met die bewys van ons liefde gesteld? Die toets van ons liefde vir Christus lê daarin of ons Sy gebod gehoorsaam en liefde onder mekaar het! - Oorgeneem |