KERSNAG EN DIE KRUIS | |
![]() |
|
  |
Dit was 'n Kersnag gedurende die 1939-1945 oorlog in die Pireneë-gebergte in Frankryk. Dit het die hele dag gereën, maar die aand het die wind opgekom en die swaar wolke weggewaai. Die termometer het tot 'n paar grade onder vriespunt gedaal en helder het die sterre op ons regiment neergeskyn waar ons hoog in die berge verskuil gelê het. Behalwe vir die twee snelvuur-kanonne wat dreigend omhoog gewys het, sou 'n mens byna nie kon dink dat daar 'n wrede oorlog aan die gang was nie! Na 'n paar oomblikke van stilte, sê Fritz rustig: "Môre is dit Kersfees, die Fees van Vrede. Ek weet dit is byna heiligskennis om hier in die loopgrawe daaroor te praat, maar wat sal julle daarvan dink as ons hier 'n klein Kersfeesdiens hou, al is dit dan maar net ter nagedagtenis aan hulle wat vanmiddag gesneuwel het?"
Fritz was ons sersant en volgens gerugte het hy vir predikant studeer. Vir 'n oomblik het ons hom met oop monde aangestaar, maar voordat ons tot verhaal kon kom, het hy voortgegaan: "Ons kan maklik 'n Kersboom hier oprig. Hier staan genoeg dennebome. Kerse het ons ook nog oor en eetgoed sal ons ook wel genoeg in die hande kan kry. Kom ons probeer die oorlog en die gebrek aan menslikheid 'n slag vergeet. Toe, wat dink julle daarvan?" Ons was nog nie heeltemal oor ons verbasing nie - dit was so 'n ongelooflike voorstel wat Fritz gemaak het - en tog, waarom nie? Twee minute later was ons almal besig met allerhande take wat as voorbereiding vir 'n Kersfeesviering moes dien. Die een oomblik wou ons uitbars van die lag en die volgende oomblik was ons oë vol trane - Kersfees in die loopgrawe hoog in die Pireneë-gebergtes, 'n paar uur nadat 23 van ons makkers gesneuwel het! Op die vliegveld, 32 km van ons af, was die vyand besig om te beraadslaag: "Daardie vervloekte regiment in die berge doen ons gans te veel skade aan," het die Kaptein aan die Kommandant gesê. "As ons enige vordering wil maak, moet ons hulle eerste van alles vernietig. Van die vier vlieg-tuie wat vanmiddag uit is, het net een teruggekeer en die kêrels kom elke dag nader! Die Kom-mandant het geknik. "Ja, hulle moet vernietig word, maar weet jy, dit is Kersnag. Dit stuit my eintlik teen die bors. "Teen die bors, Kommandant?" antwoord die Kaptein met 'n spotlag. "Dink u nie dit het ons makkers teen die bors gestuit toe hulle vanmiddag neergeskiet is nie? Nee, menslikheid besit daardie kêrels nie. As hulle die kans kry, sal u sien wat hulle op Kersnag met ons gaan aanvang!" "Nou ja, styg dan maar op," het die Kommandant geantwoord. "Ek sal hier op jou verslag wag. Alle sukses, hoor!" Binne 'n paar minute het nege vliegtuie die nagtelike stilte ingeklief... Die ergste honger was reeds gestil en Fritz was besig met sy Kerspreek. Natuurlik was dit nie 'n preek soos wat 'n mens van 'n kansel hoor nie, maar hy het van man tot man gespreek en almal het aandagtig geluister. Die eenvoudige boodskap het reguit na die manne se harte gegaan en menige van hulle het in stilte 'n traan afgevee. Die Kersboom het uitdagend daar gestaan en sy vreedsame lig oral versprei. Hoe primitief ook al, was dit die "simbool van die Lig wat gekom het om in die duisternis te skyn" - selfs tot in die loopgrawe van die Pireneë! "Daar kom hulle!" klink dit meteens van orals op terwyl die naderende gedreun van vliegtuie skielik die nagtelike stilte versteur. Met 'n skok het almal tot die werklikheid teruggekeer en uit hulle primitiewe Kersfeesviering is hulle wreed teruggeslinger tot die werklikheid van die oorlog! Kaptein Lorentz se oë tuur onheilspellend oor die maanverligte berglandskap. Plotseling verstyf hy. Daar ver het hy 'n liggie sien flikker. Dit moet die vyand wees! "Onnosele vyande," brom hy tussen sy tande deur. "Julle dink seker dat ons nie op 'n Kersnag sal aanval nie, maar julle sal skeef opkyk!" Die lig kom al nader en word al helderder. Hy kan dit nie begryp nie! Met 'n glimlag laat hy sy vliegtuig afduik terwyl sy vingers senuweeagtig speel met die hefboom wat nou binne 'n paar sekondes die dodelike bom sal laat val. Plotseling verstyf sy hand en outomaties ruk hy die "stuurknuppel" terug. Het hy goed gesien? Het sy oë hom nie bedrieg nie? Nee, daar staan dit werklik! 'n Kersboom waarvan die ligte met 'n boaardse glans die lug inskyn! Is dit moontlik? Weer duik die bomwerper oor die kamp neer om seker te maak en druk die beangste manne hulself vaster teen die grond. Die vlieëniers kies egter weer die lugruim, sonder om 'n enkele bom te los! Die Kaptein vee met sy hand oor sy oë. Nee, dit was nie 'n droom nie - hy sit nog in sy kajuit en daar onder, ver onderkant hom, staan 'n Kersboom wat sy stralende glans vriendelik versprei. Vir 'n paar oomblikke woed 'n sataniese stryd hom in die Kaptein af - wraak, plig, oorlog teenoor mens-like gevoel, Kersnag! Die verskrikte manne kruip aarselend uit hulle skuilplekke en luister gespanne na die wegster-wende gedreun van die vliegtuie. Hulle kyk mekaar verstom aan. Dan kyk hulle boontoe. Niemand kan verstaan wat daar gebeur het nie! Plotseling verstyf hulle. "Hulle kom terug!" gil iemand, en inderhaas maak hulle aanstaltes om weer in hulle skuilplekke terug te duik. Maar dan klink Sersant Fritz se stem gebiedend deur die kamp: "Staan stil en kyk daarbo." Die nege vyandelike vliegtuie vlieg laag oor die kamp in die vorm van 'n kruis, 'n kruis waar vriend en vyand voor moet buig! Langsamerhand verflou die gedruis in die verte. Onder in die kamp teen die hange van die Pireneë-berge kniel 'n aantal manne met geboë, ontblote hoofde - die Kersnag het gewen! [Oorgeneem: Verhaal soos deur 'n bekeerde soldaat vertel]. |