DIE VERHAAL VAN "STILLE NAG" | |
![]() |
|
  |
KERSAAND - in die jaar 1818 - het Franz Grüber, die orrelis van 'n kerkie in die klein dorpie Oberndorf, Bavaria, 'n ontstellende ontdekking gemaak: Die orrel wou nie speel nie!
As gevolg van 'n besonder swaar sneeuval 'n paar dae vantevore, was dit onmoontlik om iemand in die hande te kry om die orrel te herstel. Daar was niemand in Oberndorf wat dit kon herstel nie. Alle aanduidings was dat daar geen musiek op Kersfees sou wees nie! Grüber kon hom beswaarlik 'n Kersfees sonder musiek voorstel. Hy is inderhaas na sy predikant, Joseph Möhr, aan wie hy die slegte nuus meegedeel het. Hy het Möhr versoek om 'n nuwe Kerslied te skryf wat maklik sonder die begeleiding van 'n orrel gesing kon word. Later, terwyl Möhr besig was om die Kersverhaal in die Bybel te lees... "Dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker..." het die woorde soos 'n hemelse loflied in sy siel opgewel. Tot laat in die nag het hy daaroor gesit en peins. Die volle betekenis van die woorde het eindelik sy siel aangegryp en hy het 'n gedig oor die wonderlike verhaal geskryf. Vroeg die volgende oggend het Grüber die pasgeskrewe woorde geneem en 'n melodie daarvoor gekomponeer. Die mense het by die kerk vergader. Daar was 'n man wat wysies op die kitaar kon tokkel. Grüber het hom gevra om te begelei terwyl hy en Möhr die nuwe lied vir die gemeente gesing het. Die mense van Oberndorf het dadelik van die nuwe lied gehou... en só het Joseph Möhr en Franz Grüber aan die wêreld een van sy mooiste en mees geliefde Kersliedere geskenk! Dit was nie lank nie of die Tiroolse Sangers het die lied na Amerika geneem. Vir jare het dit onder die titel "Lied van die Hemel" bekend gestaan. Vandag word "Stille Nag, Heilige Nag" in bykans al die tale van die wêreld gesing. O, mag die ware betekenis van Kersfees ons almal se harte so aangryp soos vir Joseph Möhr! Mag ons tyd neem om na te dink oor die heerlike werklikheid van die bekende Kersverhaal. Christus, die Here, het in die wêreld gekom vir u en vir my... "Hy het na Sy eiendom toe gekom, en tog het Sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." (Johannes 1:11, 12, 14, 16). |