SES-EN-TWINTIG WAGTE | |
  |
Het u al die dringende gevoel gekry om vir iemand te bid, net om dan die persoon se naam vinnig voor die Here te noem, of op 'n lys te plaas om later voorbidding te vra? Dalk sal hierdie ware verhaal 'n verandering maak aan die wyse waarop u aan gebed dink; dalk ook aan die manier waarop u bid. 'n Sendeling het hierdie verhaal met sy tuisgemeente in Michigan, VSA, gedeel terwyl hy daar met vakansie was... Die buitewyke van die stad kom uiteindelik in sig. Ek is al twee dae lank op my fiets se saal, op pad van die klein hospitaal waar ek diens doen. Dit is deel van my werk om elke tweede week vanaf die hospitaal deur 'n digte woud stad toe te ry vir die aankoop van sekere benodigdhede. Van die twee dae op pad, slaap ek altyd een nag oor by 'n halfwegpunt. Ek ry by die eerste huise verby en in die rigting van 'n bank. Nadat ek geld getrek het, moet ek medikasie en ander nood-saaklikhede aankoop. Daarna moet ek feitlik dadelik die terugreis aanpak, omdat die hospitaal die voorraad dringend benodig. Die laaste ding wat ek verwag het, was om tydens hierdie gewone rustige reis op twee bakleiende mans af te kom. Maar vandag gebeur dit. Toe ek egter op die toneel verskyn, hou die geveg summier op. Dit gee my die geleentheid om aan-dag te skenk aan die een wat nogal ernstige beserings opgedoen het. Nadat ek hom behandel het, staan ek bietjie tyd af om met hom oor sy sielstoestand te praat. Ek voel na 'n ruk dat die boodskap tog op goeie grond geval het, en daarna sorg ek dat hy veilig en gemaklik is voordat ek verder gaan. Twee aande later is ek ook veilig tuis, net om veertien dae later weer dieselfde baie kilometers te moet aandurf. In die stad wag daar egter 'n groter verrassing as die vorige keer. Die jongman wat ek gehelp het, wag my op my roete in. Dit kom vir my snaaks voor: hoe weet hy wanneer ek hier verbykom, tensy hy my toevallig gesien het, of dalk my heen-en-weer ryery lankal dophou? Daar is nietemin nie tyd om daaroor te tob nie want hy dring dadelik daarop aan dat ek moet luister na iets wat hy vir my wil vertel. Ek stem in om 'n tydjie saam met hom deur te bring en dit is toe dat sy eerlikheid my uitboul! Is sy storie enigsins moontlik? So wonder ek toe hy klaar gepraat het. Dií kêrel en sy trawante moes my, volgens sy vertelling, skynbaar vir 'n geruime tyd al in die oog gehou het. Hy vertel dat hulle my 'n ruk gelede in die woud in gevolg het, omdat hulle weet dat ek medikasie en kontantgeld vervoer. Hulle het ook geweet waar ek oornag en was van plan om my om die lewe te bring en dan die geld en medikasie (waaronder sterk verdowingsmiddels) te steel. Net hier kry sy storie 'n snaakse kinkel. "Toe ons die nag jou kampplek nader, besef ons dadelik dat al ons beplanning en moeite pure verniet was. Ons moes daaraan gedink het dat die oornagplek deur wagte bewaak word. Ons het ook nie eens probeer om hulle te oorrompel nie want ons het nie minder nie as ses-en-twintig van hulle getel. Vir 'n geveg met soveel ouens het ons nie kans gesien nie en het toe maar stil-stil deur die bos teruggekeer stad toe." Ek val hom laggend in die rede. Ek kan nie uitmaak wat hy met so 'n verregaande storie wil bereik nie. Al band wat tussen ons twee is, is die feit dat ek hom onlangs gehelp het. Wat sou hom besiel om my so 'n vreemde verhaal te vertel? Soek hy dalk simpatie, geld, geestelike hulp Wat my gelag ontlok het, is die storie oor die wagte. Ek verseker hom dat ek daardie aand, soos altyd, alleen by die kampplek in die woud was. Sy reaksie verbaas my. Hy is byna verontwaardig dat ek hom nie glo nie. "Meneer, ek was nie die enigste een wat die wagte gesien het nie. My vyf vriende het hulle ook gesien, en ons het moeite gedoen om hulle te tel. Hulle teenwoordigheid was die enigste rede waarom ons bang geword en die aftog geblaas het." Terwyl die Sendeling die verhaal aan sy tuisgemeente in Michigan vertel, word sy boodskap ineens deur iemand in die gehoor onderbreek. Die man staan op en vra: "Kan u ons die presiese datum gee waarop hierdie gebeurtenis plaasgevind het?" Die Sendeling verskaf die datum en tyd en dit lyk asof die man in die gehoor nie glo wat hy hoor nie. "Mag ek 'n paar oomblikke van u tyd in beslag neem?" vra hy respekvol, maar duidelik meer as net 'n bietjie opgewonde. "Die nag waarop u hierdie ervaring in Afrika gehad het, was dit oggend hier by ons, en ek was besig om gholf te speel. Tydens die spel was ek op die punt om 'n sethou te speel toe ek 'n oorweldigende drang voel om spesifiek vir u te bid. Dit was vir my op daardie oomblik regtig snaaks, want hoewel ek u as 'n vroeëre lid van die gemeente geken het en geweet het dat u diens doen in Afrika, was dit sowaar die laaste ding waaraan ek op daardie oomblik gedink het. Die begeerte het plotseling gekom, maar die gevoel was so sterk dat ek onverwyld 'n aantal mans in die gemeente gebel het om my hier in die kerk te ontmoet sodat ons ernstig vir u kon bid. Hulle is getroue kerkgangers en behoort vanaand almal hier te wees. Mag ek vra dat hulle opstaan?" Die spreker kyk toe terwyl die manne een vir een op hulle voete kom. Toe knik hy - almal was daar. Ook die Sendeling se oë het elkeen gevolg toe hulle opstaan. Hy het nie almal van hulle geken nie, maar dit was ook nie so belangrik nie. Hy was te besig om hulle te tel... Daar was presies ses-en-twintig! [Uit: God is op die Troon, Jannie Hough, Creatix Boeke, 2009]. |