WAT 'N KRISIS MY GELEER HET! | |
  |
Om in afhanklikheid van God te lewe, is 'n voorreg wat die moderne mens soms ontglip. Dit is só maklik om in ons vinnige lewens met kitsoplossings en soveel hulpmiddele op onsself staat te maak. Maar op 23 November 2017 het ek die voorreg gehad om in totale afhanklikheid en perfekte gehoorsaamheid te reageer op nét dit wat my Hemelse Vader wou hê ek moes doen. Die gebeure van daardie dag spreek van 'n tasbare Vader met soveel liefde vir Sy kinders dat ek dit graag met ander wil deel. 'n Heerlike sonskyndag het skielik verander in een met donker wolke en swaar weerlig. Ek was net besig om vanaf die rugbyveld van die skool, waar ek nou al 15 jaar lank skoolhou, Laerskool Baillie Park, Potchefstroom, te hardloop toe 'n geweldige weerligstraal slaan. Ek het my kop vasgegryp en vinnig teen 'n baksteenmuur gaan skuil. Daar het baie dinge in 'n breukdeel van 'n sekonde deur my kop geskiet: van die hekmotor by die huis wat seker nou weer stukkend is en die assuransie wat nie nog 'n keer sal uitbetaal nie, tot my hoop dat waar ook al daardie straal getref het, daar nie 'n dier seergekry het nie. Ek besluit toe om vinnig oor die aantreeblad te hardloop na waar ek op die stoep veiliger sou wees. Ek loer om die hoek van die muur en in 'n oomblik vang my oog twee seuntjies wat bewegingloos onder die boom reg voor my lê! Ek besef instinktief dat hulle deur die ongelooflike harde weerligstraal getref is. Ek voel hoe my bene in beweging kom en my liggaam letterlik na die seuns gedryf word. Ek sak voor die seuns neer en begin onbewus my reis van diepe afhanklikheid van die Here. Dit voel asof alles stadig - uiters stadig - gebeur. Ek is nie meer in beheer van my denke of my liggaam nie en word gedryf deur 'n Krag ver bo menslike vermoë. In daardie oomblik stuur my Vader nog twee kollegas wat presies in voeling is met wat ek doen om die stryd saam met my te stry. Ons begin met kunsmatige asemhaling op die seun met 'n pols en KPR op die seun waar ek geen pols voel nie. Ons vul mekaar aan en werk sy aan sy. In daardie oomblikke beleef ek ook die wonderwerk van eenheid voor God. Ons werk saam as 'n span, hou aan en aan, want opgee is nie 'n opsie nie! Op die grond langs my sak 'n onbekende dame neer en begin kliphard na ons Vader roep. Sy pleit by Hom en hou aan en aan. Ek hoor haar gepleit en in my hart stem ek met elke woord saam! Dinge lyk nie goed nie, maar dit voel asof ek diep binne my weet dat alles sal uitwerk. Na wat soos 'n ewigheid voel, begin ek besef dat dinge nou kritiek raak en al bid ek in my hart saam met die dame, voel ek dat daar meer is wat ek moet doen. Ek begin ook hardop roep na God: "Asseblief Here, asseblief Here!" smeek ek met elke kompressie. In my hart gaan ek voort: "Ek weet dat ek U kind is en U my Vader is en dat U net die heel beste vir my wil hê en daarom vra ek U om hierdie kind onder my hande te laat lewe!" Vir 'n oomblik voel ek dan 'n hartklop net om dit vinnig weer te verloor. Ek raak amper paniekerig en weer pleit ek by God dat die ouers van hierdie seun asseblief net nie vanaand voor 'n leë bedjie sal moet staan nie! Na wat soos 'n uur gevoel het, slaag ons daarin om albei seuns te stabiliseer en na veiligheid te skuif. Nooddienste neem oor en na 'n paar dae in die hospitaal word twee pragtige, springlewendige seuntjies, Ethan Jacobs en Dylan van Wyk, ontslaan. Hulle kom groet hul maatjies en onderwysers by die skool en in my hart jubel ek! Wat ek in daardie paar minute geleer het, het my lewe só verryk dat ek dit vir altyd sal koester! Ek het geleer dat my Vader ALTYD by my is. Ek het geleer dat Sy warmte 'n mens regtig omvou. Ek het geleer dat die Heilige Gees 'n realiteit is wat met, tussen, en deur ons werk. Ek het totale afhanklikheid van my Vader geleer en watter wonderlike resultate absolute gehoorsaamheid kan oplewer. Ek het besef dat die lewe die kosbaarste besitting is wat ons het en ek het van die omvang van my Pappa se liefde vir my geleer! Die uitkoms van die gebeure van daardie dag kan nie een oomblik toegeskryf word aan enige iets anders as die Here se GROOT genade en liefde vir Sy kinders nie! Ek was daardie aand baie emosioneel, maar nie omdat ek trauma beleef het nie, nee, dit was omdat ek die Here so wérklik en tasbaar beleef het soos nog nooit vantevore in my lewe nie! Wonderwerke gebeur elke dag rondom ons, het ek besef. 23 November was vir baie mense net nog 'n dag, maar vir 'n paar van ons was dit 'n "sielsverrykende", "genadevolle" dag, 'n dag waarop ons Here aan elkeen betrokke 'n geskenkpakkie gegee het met presies die regte geskenk vir elkeen. Ek dank u daarvoor Vader en eer U Naam! - Marlize van der Walt Sel: 084 652 9733 |