SAAI EN OES | |
  |
'n Prediker het eendag 'n sendingkerk in Zaïre besoek. Die mense daar was baie arm en die kerk het uit slegs houtpale met 'n dak oor bestaan. Daar was egter baie mense by die Sondagoggendiens en dit was baie warm. Daarom moes sommige van hulle buite die skadu van die dak, in die son op die grond sit. Dit was 'n Nagmaaldiens en teen die einde daarvan was daar skielik 'n beroering onder die gemeente. Die besoekende prediker het gedink die mense maak gereed om huis toe te gaan, maar opeens het die kerkgangers uit volle bors begin sing. Hierdie keer was dit 'n loflied wat met verbasende entoesiasme en blydskap gesing is. Toe merk die besoeker nog iets op. Elkeen van die mense het 'n mandjie, karton of skottel op hulle koppe en hulle beweeg al singende, ritmies in rye na die voorkant van die kerk. Wanneer hulle voor kom, word die skottel, karton of mandjie vol groente, vrugte, rys of wat ook al hulle gehad het, met vrolikheid en blydskap voor die tuisgemaakte kansel neergesit. Daarna beweeg hulle weer terug na hulle sitplekke. Na afloop van die diens vra die besoekende prediker die plaaslike predikant waarom die mense skielik so vrolik en bly was. Hulle het dan eintlik heel waarskynlik al die kos wat hulle by die huis gehad het, kerk toe gebring. Die predikant het soos volg geantwoord: "Die Bybel sê dat die Here 'n blymoedige gewer liefhet. Hierdie mense neem daardie teksvers baie ernstig op. Hulle glo dat hulle offergawes met blydskap in hulle harte vir die Here gebring moet word." Terug by sy huis kon die prediker nie hierdie gebeurtenis uit sy gedagtes kry nie. Hy was só diep geraak deur die arm mense wat geen geld gehad het nie, maar tog het dit hulle nie gekeer om met groot blydskap dit wat hulle wel gehad het, te gee nie! In ons land word daar feitlik by elke kerkdiens 'n geleentheid gebied waar daar offerandes opgeneem word. Die meeste van die tyd word daar diep in die sak of handsak gesoek na 'n paar muntstukkies om in die bordjie of sakkie te plaas. Jesus het na die aarde gekom om Sy lewe vir die mensdom te gee. Ons kan Hom NOOIT daarvoor terugbetaal nie! Waarom is dit dan so moeilik vir ons om by te dra tot die uitbreiding van die Koninkryk van God? Waarskynlik omdat ons nie altyd verstaan wat "saai en oes" beteken nie. Ons lees in die Bybel daarvan. Die geld wat jy gee vir die opbou van die Koninkryk van God, is nie geld wat jy kwyt is vir altyd nie. Dit is bloot saad wat jy in Sy Koninkryk saai en een of ander tyd sal jy dit weer oes. Nie noodwendig in Rand en Sent nie, maar ook in voorspoed, sukses en seën in ander aspekte van jou lewe. Die prediker van 'n gemeente kan nie eers by sy kerk uitkom as hy nie brandstof in sy motor het nie. Die Bybel sê dat die osse wat die koring maal van die koring mag eet. Ons sien ook hoe sommige gemeentes vir Paulus voorsien het in sy behoeftes. Daar is ook baie organisasies en bedieninge buite die kerk wat die Evangelie van Jesus Christus versprei. Ook hulle het ondersteuning nodig. Geestelike boeke en koerante kan nie versprei word om mense te bereik wie se lewens in nood of krisis is as daar nie geld is vir die druk en verspreiding van die literatuur nie. So is daar ook sendelinge wat nie mense kan bereik en bearbei sonder finansiële ondersteuning nie. Ons bydraes is die wiele waarop die Evangeliewoord van hoop by die mense wat dit nodig het, uitkom. Al ooit die TV-advertensie gesien van die versekeringsmaatskappy wat 'n geel sambreel oor jou geld hou? As jy 'n tiende van jou inkomste vir die Here gee, sal Hy Sy sambreel van beskerming en seën oor die ander negentig persent hou, sodat die sprinkaan en die kaalvreter nie daarby kan kom nie. Ons leef in onseker en ernstige tye. Daar is baie mense wat nog bereik moet word met die Evangelie van Jesus Christus. Sommige mense bevraagteken die gee van tiendes en offergawes omdat hulle vrees dat hulle bydraes nie reg aangewend sal word nie. Hoe ons bydraes gebruik word, is nie óns verantwoordelikheid nie. Ons moet net gehoorsaam wees aan die Here, dan sal Hy ons nog steeds seën. Dink so daaraan: 'n Toe hand kan ook niks ontvang nie! Die Bybel sê dis beter om te gee as om te ontvang. Sommige mense het dit alreeds agtergekom en verklaar met vreugde dat hoe meer jy weggee, des te meer ontvang jy. Probeer dit gerus, met blydskap! Sari van der Berg, 084 679 3397 |