![]() |
|
  |
Voordat ek geweet het dat elke naam 'n betekenis het, het ek God se genade in iemand se lewe leer ken... In 1973 word sy deel van ons familie. As jong Zoeloe-vroutjie kom sy by ons woon om by ons te werk. My mamma sukkel met haar gesondheid, en versorging na talle operasies is noodsaaklik. Vir ons kinders was Elizabeth 'n vertroueling en vriendin wat ons deur al ons lewensfases gehelp het om groot te word. Sy was reeds getroud toe sy by ons begin werk het. Haar man het sy eie besigheid gehad en was finansieel sterk daaraan toe. Haar sagte, vriendelike omgee-hart het ook 'n baie seer kant gehad en om haar verhaal te vertel, is die hartseer-gedeelte onlosmaaklik deel van haar verhaal. Sy was bekend met huislike geweld, sowel as met ontrouheid. My ouers moes telkemale wonde versorg, steke insit en haar ondersteun na liggaam en gees. Gelukkig was my vader 'n dokter en my ma 'n gekwalifiseerde mediese suster. Op 'n stadium het Mamma haar na die Here gelei en sy het Jesus gekies as haar Verlosser. Sy het toe begin bid vir haar man se redding, maar intimidasie en geweld het steeds voortgeduur. Sy ontrouheid het tot hul egskeiding gelei. Twee jaar later is sy weer getroud. Haar eksman laat toe haar nuwe man doodskiet in hulle huis. Dit het voor haar plaasgevind. Nooit het sy egter opgehou bid vir sy redding nie en aanhou hoop en vertrou dat Jesus hom ook sal verlos. Tien jaar later voel sy dat sy met haar eksman moet praat. Hy was toe al oud en sieklik. Sy was getrou aan die Gees se vermaning om haar getuienis van vergifnis en die onvoorwaardelike liefde van God met hom te deel. Toe sy terugkeer na daardie naweek, deel sy met ons die verloop van sake. Hy het na haar geluister, was nie aggressief nie, en het baie vrae gevra. Ongeveer 'n jaar daarna, kies hy Jesus! En hy verstaan dat iemand jou kan liefhê en vergewe terwyl jy nog 'n sondaar is. Hy verstaan dit, want hy het dit tasbaar in sy eie lewe gesien en in een oomblik ervaar toe God se begenadigde na hom uitgereik het - Elisabeth het hom gewys hoe vergifnis lyk en hom vertel hoe God se genade haar gesond en heel gemaak het! Toe kon hy ook God se genade en vergifnis vir hóm begryp… In 2007 is sy na haar hemelse Vader en ek is só dankbaar vir haar getuienis en kosbare voorbeeld in ons lewens. - Cilna Erasmus, 084 207 9694 |