Prysgawe aan God bring wins. 'n Wins wat ons nie kan bereken nie... Dink na oor die Woord in Job 22:24-25: "En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir. Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou."

Gouderts is iets wat ons uit eie menslike poging kan bekom. Dit kos egter 'n moeisame en langdurige proses om wel uiteindelik die suiwer goud te bekom. Daarna kan ons allerhande duursame juwele maak wat ons kan dra om onsself te versier, veral in ander se oë...

Soos dit letterlik met gouderts is, kan dit ook wees met alle ander dinge in ons lewens wat ons graag wil laat skitter sodat ons beter kan vertoon wanneer ander na ons kyk. Ons grawe diep om die gouderts van ons natuurlike talente uit die grond van vergetelheid te haal om dit na die lig te bring. Daarna neem dit soms 'n jarelange en soms pynlike proses waaraan ons ons lewens wy om die "suiwer" goud te verkry, sodat ons "kosbare juwele" kan vervaardig met één doel voor oë: ander mense moet ons goud sien skitter, ons hoog aanslaan, ons prys, ons op die skouer klop en ons eer besing sodat nog méér mense daarvan kennis sal neem. Dit is mos wonderlik wanneer ons in die ego gestreel word!

Wat is ons natuurlike gouderts waarvan ons afstand moet doen? Die ryk jongman moes afstand doen van al sy besittings (vgl. Matt. 19:16-30). Hy was nie bereid daarvoor nie. Die dissipels moes hule beroep as vissermanne laat vaar (vgl. Mark 1:14-20). Hulle het toe alles prysgegee en Jesus gevolg.

Vir elkeen van ons geld dieselfde roeping: Gee alles prys, dan sal jy groter seën van God ontvang. Waarom? Omdat God jou wil gebruik, maar Hy kan nie, omdat jy bly vasklou aan jou eie goud wat jy bekom het deur harde werk! Jy wil mos skitter in ander se oë! Waaraan klou ons só vas? Sommige bly vasklou aan hulle eie status en posisie in die samelewing. Jy skitter mos as jy deur ander hooggeag word!

'n Jongdame het dalk al aan sóveel skoonheidskompetisies deelgeneem, en sóveel titels gewen. Kan sy dit nou prysgee? Iemand anders het sóveel jare spandeer om homself beter te bekwaam deur jarelange studies. Net toe hy begin skitter, kom die roepstem van God: "...gooi die gouderts in die stof..." Ja, gooi jou eie skitterlewe in die stof! Ag dit as niks. Nie dat dit verkeerd is om al hierdie dinge te doen of te verwerf nie. Maar dit kan nadelig wees vir onsself om met alles wat ons het, daaraan vas te bly kleef.

Wíl ons skitter? Gee prys en wen! Wanneer ons alles prysgegee het aan God, "Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou." Met ons eie goud sal ons ego gepoets word sodat ons in onsself sal skitter. Met God se goud sal die ego gekruisig wees sodat net Gód se goud sal skitter. Dan word ons met reg beelddraers van God. Wanneer mense dan na so 'n persoon kyk, sien hulle nie meer die glans van eie eer nie, maar die glans van Godè in hom!

Dán word die Woord 'n werklikheid vir ons: "Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien" (Op. 3:18). Ook verklaar die Woord: "Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit" (Matt. 13:45-46). Die koopman moes alles prysgee om die pêrel van groot waarde te bekom. Is ję ook bereid om dit te doen?

© Dr. J J Venter


Indeks     Index