ONS STEL BEKEND... Die NG Kerk Potchefstroom-Noord |
|
  |
![]() Ds. Deon Holtzhausen WIE IS ONS? Ons Gemeente is in 1948 gebore en word op 1 Maart hierdie jaar ’n hele 53 jaar oud. Ons het deur die jare hier en daar ’n plooi bygekry, hoewel ons ook nog jonk bly. Oor die jare heen het Potchefstroom-Noord probeer om 'n verskil te maak in baie mense se lewens deur die bediening van die Evangelie. Vele het hier ingeskakel en meegeleef terwyl hulle nog studente aan die PU vir CHO of die Onderwyskollege was. HOE LYK ONS? As groot gesin het ons baie ouer broers en susters, jonger broers en susters wat ook al kinders het. Voeg hierby die kinders wat al op Universiteit is, op skool en die baie klein bababoeties en -sussies, en jy sien dat ons een groot gelukkige gesin is! Baie van ons ouer broers en susters woon in vier verskillende huise spesiaal vir hulle: Ons Hulde Tehuis vir Bejaardes, Harmonie, Immergroen Woonstelle vir Bejaardes en ook in Groenwilgers. Ons saai elke Sondag die eredienste wat in die Kerkgebou gehou word, direk na hulle uit met telefoonlyne. Ons bied ook weekliks vir hierdie ouer broeders en susters van ons Bybelstudies aan. Ons het ook broers en susters wat op Universiteit is, ongeveer 145. Dan het ons ook broers en susters wat so onlangs soos 5 jaar gelede getroud is, sommige met babas. Laastens is daar ook amper 200 wat nog op skool is. Ons geniet dit baie om in Potchefstroom-Noord te wees. Ons het op die oomblik twee jong dominees. Ds. Deon Holtzhausen en sy vrou, Anneke is al amper sewe jaar hier. Ds. Johan Raubenheimer en sy vrou, Pauline, is nou vier jaar by ons. VERSKILLENDE AKSIES Behalwe vir die Eredienste wat Sondae plaasvind, is daar nog vele dinge waarby mense betrokke is. Jerigo-mure is 'n Gebedsaksie wat weekliks bymekaar kom en vir mekaar en ook vir ander mense bid. Ons het ook 'n groep wat die ALPHA-Evangelisasiekursus deurloop. Vir ons jongmense, waarvan ek deel is, is daar oorgenoeg dinge om te doen. Ons ouer broers en susters op Universiteit kuier weekliks saam met ds. Deon, terwyl ons ouer boeties en sussies Vrydag- en Sondagaande saam met ds. Johan kuier. Ons is almal baie lief vir mekaar in ons Gemeente. Ons as jonger boeties en sussies het baie om te leer by ons ouer broers en susters en ons het mekaar almal nodig. Ons is baie gelukkig in Potchefstroom-Noord en is bly dat ons almal Houtkruiskinders kan wees, want ons is almal - oud en jonk - lief vir Jesus! |