‘N DAMASKUS-ERVARING | |
  |
![]() Alta, Herlien en dr. Adriaan Vermooten Op 7 Jan. 2005, het ons huiswaarts gekeer vanaf Linga Linga, 500 km noord van Maputo. Ons motor, die middelste van drie voertuie, se hoofligte was aangeskakel. Om 09:00 die oggend was ons 20 km noord van Xai Xai. Die pad was besaai met slaggate, baie nou en besig. Ons was pas deur 'n klein dorpie teen 'n snelheid van 60 km/h toe ek 'n groepie mense aan die linkerkant van die pad gewaar. 'n Dertienjarige seun met 'n bloedrooi hemp het die pad probeer oorsteek toe ons 50 m van hulle af was. Hy het my gesien toe ek vir hom toeter druk en teruggetree. Ek het nog stadiger aan die regterkant van die pad gery, maar toe ons naby hulle kom, het hy onverklaarbaar oor die pad gehardloop en reg voor ons motor beland. Nadat ons hom getref het, het ons motor teen 'n wal langs die pad geloop en amper omgeslaan. Genadiglik het ons 'n entjie verder tot stilstand gekom. Baie mense het nader gehardloop, gehuil en geskreeu. Iemand het geskreeu dat hy nog leef. Ek het my noodsak gegryp, die basiese gedoen en 'n infuus aan sy arm gekoppel. Hy was duidelik baie erg beseer en komateus. ie seun is op my motor se agterste sitplek getel en met vyf van sy familielede het ons na die hospitaal te Xai Xai gejaag. Met ons aankoms was dit egter reeds te laat. Daar was nie juis sprake van hulp by die hospitaal nie. Ek was toe éérs dankbaar dat ons motor nie gerol het nie. Na 'n lang tyd kon ek die seun by die lykshuis aflaai en na die polisie gaan om die ongeluk aan te meld. Die polisie kon slegs Portugees praat en het my paspoort en bestuurslisensie geneem. Die derdepartymaatskappy by wie ek verseker was, het geen hulp of raad aangebied toe ek hulle skakel nie. Samuel, 'n familielid van die oorledene, kon egter Engels praat. Hy het verduidelik dat, omdat die familie saamstem dat dit 'n ongeluk was, ons verklarings sou moes aflê en ek later sou moes terugkom vir 'n hofsaak. Vier ure later is my en 'n familielid se verklarings afgeneem en is ek en die familie byeengeroep. Via Samuel is aan my gevra wat ek bereid sou wees om aan die familie te betaal vir die begrafnis. Ek het ingewillig om te help, maar gesê dat dit nie 'n skuldbekentenis sou wees nie. Daar is op 'n bedrag van R1 000 ooreengekom. Voordat ons egter ons reis kon voortsit, sou ek eers 'n vorm by die prokureur-generaal se kantoor moes teken. Dit sou blykbaar net vyf minute duur. Met 'n polisieman voor in my motor, het ons vertrek. Toe ons stilhou, was ek geskok om te sien dat ons reg voor die tronk van die provinsie Gaza geparkeer het. 'n Baie aggressiewe tronkamptenaar het my by 'n gebou langsaan ingeneem. My mond het kurkdroog geword toe ek sien my naam word in die tronk-register aangeteken. Buite in die straat kon my familie nie glo wat ek hul vertel nie. My pleitende vrou is weggestamp. Die wagte het met hulle AK47's nadergestaan. Omdat niemand Engels kon praat nie, is 'n prisonier wat kon tolk, uit die tronk laat kom. Altino Sabata (betekenis = "sabbat") moes eintlik net vir my kom sê dat ek geen keuse het nie, maar hy was die engel waarvoor ek gebid het. Ek het hom gevra om my in die tronk te help en my seun Adolf het hom selfs geld belowe as ek veilig sou wees. Toe my nefie hom egter vra of hy 'n Christen is, het hy dit ontken. Sonder dat ek my kinders kon groet, is ek deur die tronkdeur begelei. In 'n lang, smal binneplein het 260 gevangenes met kaal bolywe vir my gewag en aanmerkings geskreeu toe ek tussen hulle deur na 'n agterste sel geneem is. Ek het dadelik op die grond gaan sit en met van die gevangenes probeer praat. Later het Altino my kom haal en na 'n ander sel gebring wat 12 m x 6 m groot was met 15 drieverdieping-stapelbeddens styf teen mekaar. Ek sou die baie warm, donker, onwelriekende vertrek met 43 ander prisoniers deel. Daar was 3 kleinerige vensters wat min vars lug, maar wel muskiete deurgelaat het. In een hoek het 2 slegruikende porseleinpotte in die grond as toilette gedien: geen lopende water, toiletpapier, spieëls of privaatheid nie. Slegs 'n drom met water waarmee jy kon afspoel. Veral snags was die hitte onhoudbaar en het die water lafenis gebring. Altino het my telkens vergesel om my te beskerm. Ek het my mede-prisoniers gou leer ken. Na 3 dae kon ek 40 van hulle op die naam noem en het baie se hartseerstories aangehoor. Sowat 3 van hulle kon Engels redelik praat, het my Portugees geleer en selfs teen my skaak gespeel. 'n Prisonier het die eerste aand vir my 'n laken geleen. Ek het net my kortbroek, hemp en plakkies gehad. My vrou, Alta, kon die volgende middag 'n tandeborsel, kussing en handdoek bring. Ook 'n hartverskeurende briefie van my kinders. Sondagmiddag het ek die gevange-nes oor hul geloof uitgevra. 'n Hele paar was Rooms- Katolieke en enkeles Moslems. Altino het gesê hy is "Universal" , 'n geloof uit Brasilië. Toe ek hom vra waarin hulle glo, sê hy "In God natuurlik". Ek vra hom toe of hy Jesus Christus ken en hy sê: "Natuurlik, dis God se Seun". Hy was baie verbaas om toe te hoor dat hy eintlik 'n Christen is. Maandag het aangebreek en ek is eers om 12:00 deur twee "prokureurs" na die hof geneem. Hulle het voorgegee dat hulle met my familie gereël het. Die hofsaak het reeds begin toe my familie en regte prokureur opdaag, net om uit die hof gejaag te word. Ons vermoede is dat die hofbeamptes doelbewus my eie prokureur wou dwarsboom. In sy uitspraak het die Portugeessprekende regter gesê dat my "oortreding" in hulle land met 3 jaar tronkstraf gestraf word. Hy het beveel dat ek R8 500 kontant moet betaal vir die hofkoste, begrafniskoste en vir borgtog. Die finale hofsaak is in April. Ek is daarna weer na die tronk geneem en my familie is met die taak gelaat om die geld bymekaar te kry voordat die banke sou sluit. Ek is uiteindelik om 16:30 vrygelaat. Dieselfde toneel as met die inkomslag het hom afgespeel. Al die gevangenes was in die binneplein versamel. Maar hierdie keer het hulle my toegejuig en "high fives" uitgedeel. Ek weet nou dat wat gebeur het, moes gebeur. Ons as gesin en vriende is nader aan mekaar as ooit tevore. Ek lees my Bybel met nuwe oë. Van 'n paar dinge is ek nou baie bewus: * 'n Mens is nie regtig in beheer van jou eie lewe nie. Iets heeltemal buite jou verwysingsraamwerk kan enige oomblik gebeur. * Daar is baie mense onder ons wat baie swaarkry en ons moet vir mekaar bid. * Ons moet ook dankie sê vir ons land en bid dat dit nie maar net nog 'n Afrikaland sal word nie. * Waar ek voorheen baie wetenskaplik oor die godsdiens geredeneer het, weet ek nou dat 'n mens nooit op elkeen van jou vrae 'n antwoord sal kry nie - daar is tye wat jy maar net moet glo. * Die dood kan elkeen van ons met die volgende asemteug tref en dan is dit elkeen alleen voor God. Mag ons gereed wees en mag Hy ons genadig wees! Dr. Adriaan Vermooten Potchefstroom |