DIE WAT HOM SOEK SAL HY BELOON
 
Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon (Heb. 11:6).
Min mense spring motor-ongelukke, gesondheids- en finansiële krisisse of vreesaanjaende situasies vry. Dan roep almal sonder uitsondering na God. Dit is 'n lewensfeit dat daar in lewensbedreigende situasies oor die lippe van selfs die onverskilligste mens noodkrete kom, soos: "O, Here, help!…"
Wanneer vloedwaters die motor meesleur, wanneer die hemele bo ons oopgeklief word en die weerlig op die huis slaan, "ken" elkeen van ons die God van hemel en aarde. Dan "ken" ons die Naam van Hom vir Wie ons daagliks verloën. Dan steek ons ons hande waarmee ons Jesus normaal-weg van ons wegbeduie, vreesbevange na Hom toe uit. Dan is gebed die natuurlikste ding op aarde. God beloof om ons gebede te verhoor. Maar gebed en gewaarborgde, kon-stante gebedsverhoring, die sekerheid dat ons gebede in liefde verhoor sal word, is ligjare verwyderd van hierdie instinktiewe, inherent menslike, noodkrete.
Elke gebed wat ons bid, kán verhoor word. Gebedsverhoring kan 'n patroon, 'n absolute sekerheid, en die sekerste saak van ons hele lewe word.
In Heb. 11:6 lees ons: "God beloon dié wat na Hom soek." En: "Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan."
Die gelowige wat glo dat God bestaan en wat steeds na Hom bly soek (wat God se wil wil ken, wat Sy opdragte wil verstaan en uitvoer, wat meer en meer van Hom wil weet en wat aktief in Sy Woord delf om Hom beter te leer ken), word beloon. Daardie gelowige se gebede word verhoor.
Nee, God gee nie aan daardie gelowige alles wat die mens normaalweg begeer nie. Normaalweg begeer die mens gemak, gesondheid, 'n pro-bleemlose bestaan, welvaart. As enige van hierdie dinge 'n groot begeerte in ons lewe is, leef ons eintlik nog 'normaalweg'.
As ons werklik na God soek, leef ons eintlik nie meer 'normaalweg' nie. Dan vra ons: "Wat is U wil, Here? Is dit reg vir U? Lei U my. Onderrig U my.”
Dán word elkeen van hierdie gebede verhoor, so normaalweg soos wanneer 'n kind vir 'n aardse ouer vra: "Sal Pappa my asseblief wys hoe om hierdie kitskaart te gebruik?"
God verhoor die gebede van hulle wat in 'n noue verhouding met Hom leef.
Hy verhoor hul gebede sonder uitsondering.

GEBED:
Here, ek wil nie langer instink-tiewe noodkrete na U, die heilige God, opstuur nie.
Ek wil U ken; ek wil 'n soeker na God wees: iemand wat U wil leer ken, U opdragte identifiseer, U stem hoor.
Gee asseblief aan my die deursettingsvermoë om U gedissiplineerd en met hartstog te soek.
Uit: Beloftes van Reën en Dou, Maretha Maartens, Aktuapers, 1996.

Indeks     Index