WAARHEID EN LEUENS
 
Om vir iemand te jok (lieg), is dieselfde as om iemand doelbewus te mislei. Dit kan direk wees, bv.: "Ek het nie aan daardie koek geraak nie," (terwyl jy die laaste hap insluk). Of dit kan indirek wees, soos om net 'n gedeelte van die waarheid te vertel omdat dit vir jou voordeliger gaan wees. Om op enige manier die waarheid te verdraai, is om 'n leuen te vertel.
Pilatus het gevra: "Wat is waarheid?" (Joh. 18:38). Dít terwyl die Waarheid reg voor hom gestaan het! "Ek is die weg en die waarheid en die lewe," het Jesus op 'n ander geleentheid gesê (Joh. 14:6). Wat 'n gedagte! Jesus vertel nie net die waarheid nie, Hy ís die Waarheid. Dit is vir ons nie moontlik om 'n God van waarheid te volg as ons permanent die waarheid verdraai nie - selfs nie eens 'n bietjie nie!
Besluit vandag om in alle aspekte van jou lewe die waarheid te praat, maak nie saak hoe belangrik of onbelangrik jy dink dit is nie.
Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak" (Joh. 8:31,32).
Die waarheid hou vir altyd, die leuen net 'n oomblik. (Spreuke 12:19). {Uit: Dagboek 2006, CUM}.

Indeks     Index