OP DIE TOETSTERREIN | |
  |
“Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe, sodat daar iets te ete in My huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie” (Mal. 3:10). Die lewe het om elke hoek en draai met toetse te maak. Reeds op die skoolbanke kom 'n mens agter dat jy net kan vorder as jy jou toetse en eksamens slaag. So gaan dit dwarsdeur die lewe. Jou naskoolse studies, sport, werkaansoeke, jou huislening, alles het op die een of ander manier met toetse en keuring te maak. Slaag jy dit, dan vorder jy, maar druip jy, staan jou lewe stil of gaan dit selfs 'n paar treë agteruit. Ook op godsdienstige vlak is daar allerhande toetse wat 'n mens moet slaag. Elke kerk het vandag die een of ander stel toelatingsvereistes waaraan mense moet voldoen om lidmate by hulle te mag word. Volgens die Bybel lê God egter net een toets aan wat jy moet slaag om in Sy goeie boekies te kom. Dit is dat jy in Jesus Christus as die Here moet glo. Doen jy dit, het jy die belangrikste toets in die heelal met vlieënde vaandels geslaag. Aan die ander kant: Doen jy dit nie, selfs al leef jy 'n ordentlike lewe, het jy in God se oë gedruip. God se toets is dus nie moeilik nie. 'n Mens hoef Hom nie van die oggend tot die aand te probeer beïndruk met 'n lys goeie kwaliteite nie. Hy aanvaar ook nie omkoopgeld nie. Daarom sal dit nie help om 'n slaagsyfer by Hom te probeer koop met 'n groot maandelikse bydrae soos wat baie mense al tot hulle spyt agtergekom het nie. Nee, Hy vra slegs maar 'n mens se hart. Dit is al. Bo en behalwe God se geloofs-toets wat elke mens op aarde moet aflê, toets Hy ons as gelowiges ook van tyd tot tyd ten einde ons geloof te suiwer sodat ons nog nader aan Hom sal loop. Dit beteken nie dat ons die hele tyd in die hemel se eksa- menlokaal is waar Hy ons van vroeg tot laat takseer nie. Nee, God is nie net 'n toets-afnemer nie. Hy wil hê dat ons Hóm ook 'n slag of wat moet kom toets. Hy stel Sy genade, Sy liefde en krag elke dag tot ons beskikking sodat ons daaruit kan lewe. Maar dan moet ons dit by Hom kom haal. Dit val, met respek gesê, nie sommer vanself uit die hemel op ons af nie. Maar hoe dan gemaak om hierdie voorregte te ontvang? Daar is 'n hele aantal dinge wat ons kan doen om die skatkamers van die hemel oop te sluit. Kom ons kyk na een of twee maniere waarvolgens ons God op die regte manier kan toets. Die Bybel sê dat ons met God moet praat oor dit wat op ons harte lê. Ons moet Hom partykeer selfs in 'n hoek in glo as ons oortuig is dat dít waaroor ons bid tot Sy eer en verheerliking sal strek. Hy wil regtig hê dat ons geloof 'n avontuur sal wees waar ons groot dinge van Hom verwag. Daarom moet ons gebede elke dag die grens tussen die sienlike en die onsienlike getrou (en waagmoedig) oorsteek ten einde God se genade tot hier digby ons en ander mense rondom ons te bring. As dit nodig is, moet ons ook eerlik en op die man af met God in ons gebede praat. Hy kan dit vat. Ons mag nie toelaat dat ons probleme ons van Hom vervreem nie. Ons moet juis met God bly praat as ons agter die doringdraad van aanvegting, swaarkry en twyfel beland het. Hy nooi ons uit om Hom met ons grootste probleme te toets om te kyk of Hy nie iets daaraan sal doen nie. Ons moet God ook toets deur ons lewe elke dag in Sy Hand te plaas en Hom daarmee te vertrou. Ons hoef nie groot of vername gelowiges te wees voordat God ons kan gebruik nie. Nee, Hy wil gewone Christene soos ons hê wat as sy voetsoldate in Sy diens sal staan op daardie stukkie terrein waar Hy ons geplaas het. Hy vra mans en vroue, jongmense en kinders wat elke dag op hulle pos sal wees. En Hy vra Christene wat die durf sal openbaar om selfs stroomop te glo! Natuurlik is dit nie aldag maklik nie. Partykeer verg dit leeue-moed om te glo. Maar God sê dat ons juis in sulke tye by Hom om ondersteuning kan kom aanklop. God is elke dag op Sy pos. Hy nooi jou uit om na Hom toe te kom. Hy is bereid om selfs die hemel te omskep in 'n toets-terrein waar jy voor Sy Aangesig kan verskyn met jou behoeftes en probleme. Gryp asseblief hierdie kans van 'n leeftyd met albei hande aan. God het bedoel dat jou verhouding met Hom 'n avontuur en 'n feesgeleentheid moet wees waar jy elke dag uit Sy Hand leef. Daarom nooi Hy jou uit om Hom gereeld te kom toets. Sal jy dit waag? Uit: Dit kos guts om te bly glo, Stephan Joubert, Lux Verbi.BM, 2003. |