'N GETUIE VAN SY OPSTANDING
 
"Ons sal iemand in Judas se plek as apostel moet kies," sê Petrus aan die dissipels en die ander volgelinge van Jesus wat in die bokamer vergader is. "Maar die persoon moet iemand wees wat heeltyd saam met ons in Jesus se geselskap was, van daardie dag af toe Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy hemel toe is. Iemand wat 'n getuie is van Sy opstanding."
In die bespreking wat volg, word twee mans genomineer: Josef Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias, albei lede van die 70.
Dan bid hulle tot God: "U, o God, ken elkeen van ons deur en deur. Wys tog vir ons wie van hierdie twee mans U gekies het om as apostel te dien in die plek van Judas wat dit alles weggegooi het toe hy die pad byster geraak het." Nadat hulle gebid het, is Mattias as die nuwe apostel aangewys.
Mattias het aanvanklik saam met die ander apostels in Jerusalem bedien deur van huis tot huis te gaan en die mense te leer, totdat die apostels later uitmekaar is om die Evangelie aan al die nasies te gaan verkondig. Van hier af is Mattias na die binneland van Etiopië, waar hy 'n barbaarse stam met die Lig van die Evangelie bereik het en baie bekeerlinge onder hulle gemaak het. Daarna het hy teruggekom en die Evangelie na Judea, Galilea, en Samaria gebring om die Jode te leer wat 'n honger vir Jesus se waarheid gehad het.
Met die res van die apostels elders, het die Joodse Raad Mattias uitgesonder en hom voor die hof gebring. Hulle het geëis dat hy Jesus en die krag van Sy opstanding moes verloën. Toe hy weier, het die hoë-priester verklaar: "Dan is dit jou eie skuld dat jy gaan sterf, want jou eie mond het jou beskuldig."
Mattias is eers aan 'n kruis opgehang en gestenig. Toe hulle sien dat hy nog nie dood was nie, is hy afgehaal en onthoof.
Mattias se omswerwinge saam met Jesus het hom gedring om Sy Evangelie te bly verkondig, ongeag die gevare. Wat het jou omswerwinge saam met Jesus jou al gedring om te doen?
Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om Sy wil te ken, die Regverdige te sien en Sy Stem te hoor, want jy sal vir alle mense Sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy Sy Naam aangeroep het.
- Ananias aan Paulus
(Hand. 22:14-16).
Uit: Fanaties vir Jesus, Volume II, dc Talk en The Voice of the Martyrs, CUM, 2004.

Indeks     Index