KOLLIG OP KYRGYZSTAN (DEEL 2) | |
  |
Sarie en Kobus Theron 018 294 7991 of 072 752 3697 Terwyl ons in Kyrgyzstan was, was ons deel van 'n groep van ongeveer 10 tot 12 gesinne en ons dames het weekliks byeengekom vir Bybelstudie. Ons het mekaar se laste gedra in gebed. Elke tweede week was die dames en mans saam bymekaar vir Bybelstudie, lekker saamsing en ons het vir mekaar se probleme gebid en ook amptelike sake bespreek. Op 'n stadium het daar 'n dame, Charlene de Han van Kanada, besoek kom aflê. Sy was hoof van die personeelafdeling van Interserve en hulle soek toe 'n geskikte plek om haar te laat tuisgaan. Ek het stilgebly en niks aangebied nie, want ek was nog maar rou, onseker van myself, en skaam. Ek het later só skuldig gevoel daaroor. Dit was nogal 'n ervaring om, hoewel jy glo, soos 'n stout kind in die hoekie te sit. Dit was glad nie lekker nie, totdat ek ingewillig het om haar in ons woonstel in te neem. Op die ou end het ons die vrou se teenwoordigheid só geniet en lekker gekuier! God het gewéét dat sy by ons móés oorbly. Nadat sy vertrek het, het sy 'n koevert op die bedkassie gelaat waarin daar 'n bedankingskaartjie met 'n bedrag geld was. Op daardie stadium het ons almal begin met voorbereidings om 'n Sendingkonferensie by te woon, maar ons het nog nie geld gehad vir ons vliegtuig-kaartjies nie. Die bedrag in die koevert was presies genoeg om al ons uitgawes te dek! God het medelye met ons, ons gevoelens en ons omstandighede, maar ons moet Hom gehoorsaam, anders kan Hy ons nie seën nie! Tolk by die poskantoor Ons wou ons ondersteuners in Suid-Afrika 'n bietjie bederf omdat hulle vir ons gebid en finansieel ondersteun het. Daarom het ons besluit om aan elkeen 'n kalender, waarop pragtige natuurtonele van Kyrgyzstan verskyn het, te pos. Dit is een ding om 'n kalender te bekom, maar om dit in jou ondersteuners se posbusse te kry, uit Kyrgyzstan gepos, is natuurlik iets heeltemal anders! Ons sou dus 'n besoek aan die poskantoor bring om uit te vind hoe om te werk te gaan. Maar één ding vergeet ons toe… om te reël vir 'n tolk! Ons was besig om die straat oor te steek, toe ek vir Kobus vra of hy gereël het vir 'n tolk. Hy het ontkennend geantwoord, maar gesê dat God sál voorsien. Na pogings om inligting in te win by die poskantoor, besef ons dat ons tog 'n probleem het. Skielik verander die omstandighede. Die personeel groet iemand vrolik en gesels met 'n dame aan ons linkerkant. Toe sien ons 'n Switserse onderwyseres wat by dieselfde Organisasie as ons werk, by die toonbank staan. Ons het haar baie goed geken. Sy was op daardie stadium reeds sewe jaar lank in Kyrgyzstan en kon die taal vlot praat. Groot was ons vreugde, want ons kommunikasieprobleem was opgelos! Sy is deur God gestuur om ons te help! Kobus se verjaardag Voor ons vertrek na Kyrgyzstan, is ons ingelig dat dit moeilik is om in 'n vreemde land, in 'n vreemde kultuur, te oorleef sonder jou eie keuse van musiek. Ons het toe 'n paar "Gospel" en Klassieke CD's saamgeneem, maar het nie geweet of ons oor 'n CD-speler sou beskik nie. Ons het geweet dat die woonstel gemeubileer sou wees, maar dit was al. In ons eerste jaar in Kyrgyzstan, in April, was dit Kobus se verjaardag. Die dag het baie rustig verloop. Al ons kinders het gebel en dit was eintlik dié hoogtepunt. Later die dag het een van ons spanlede oorgekom vir 'n koppie "chai" (tee), en hy oorhandig toe aan Kobus 'n koevert. Daarop was 'n paar woorde geskryf: "To the Therons, from God"! Die inhoud was 'n $100-noot, wat ons later gebruik het om 'n radio/CD-speler mee te koop. Ons kon toe na ons geliefkoosde CD's luister. So voorsien 'n liefdevolle God telkens aan ons! Aan Hom al die eer! Ons terugreis vir 2 maande Na ons eerste jaar in Kyrgyzstan, moes ons die retoer-vliegkaartjies gebruik, anders sou dit verval. Die vooruitsig om 'n bietjie "huis toe" te kon gaan, was oorweldigend. Ons sou ons kinders en kleinkinders weer kon sien! Eers moes ons egter seker maak dat ons wel sou kon gaan. Vader was getrou en het op Kersdag 2004, voordat ons nog kon vas en bid, ons herinner aan Hand. 28:30-31. Hierdeur het Hy vir ons die tydperk gespesifiseer. Nou moes ons allerhande reëlings tref, want die woonstel moes beman word, huur, krag en gas moes vooruit betaal word. Ons het selfs 'n testament opgestel en Olympia, 'n vriendin, het ingewillig om vir ons die plek te beman. Al hierdie aksies het 'n yslike gat in ons finansies gelaat en ons het niks oorgehad nie. Die dag voor ons vertrek, het ons besoek gekry van Dora, 'n dame van Singapoer. Sy oorhandig aan ons 'n koevert met 'n Amerikaanse $100-noot en toe is ons finansies weer solvent. Dit was uit die Hand van ons Vader wat geweet het wat ons posisie was. Na ons aankoms in Suid-Afrika, het ons elke oomblik terdeë geniet! Die kinders het 'n hartlike ontvangs van naaste familielede gereël en dit was kosbare tye saam. Ons het ook kerke en mense besoek wat ons ondersteun het, om dankie te sê. Op 'n stadium het ons 'n oproep ontvang van Interserve om te vra wat hulle met die Kanadese $500 moet doen. Toe wéét ons ons moet ons plekke bespreek terug na Kyrgyzstan. Soos met enige bespreking, moes ons 'n maand later ons kaartjies koop. Die enigste probleem was dat ons nog nie genoeg fondse gehad het om dit te doen nie! Ons het daaroor gesels en Kobus het daaraan gedink om sy oortrokke fasiliteit by die bank te gebruik. Vir my was dit nie reg nie, maar ons het nietemin besluit om die reisagentskap te besoek. Ons was nog nie eers binne die gebou nie, toe lui my foon en weer was dit Interserve in Kaapstad wat wou weet wat hulle met die Amerikaanse $2000 moes doen wat hulle uit Amerika ontvang het! Ons was stomgeslaan, want ons ken niemand in Amerika nie! Dit was nogeens 'n bewys dat ons wel moes teruggaan! Vader het weer voorsien! |