'N PAD VAN GENADE | |
  |
Mara, dr. Estie & prof. Okkie
de Jager. Tel: (018) 294 8057, 076 391 7529 of 082 853 5121 Ek was my hele lewe nog baie gesond. Ek het net af en toe verkoue gekry. Ek kon enigiets eet, was 'n bietjie oorgewig, maar my hart, koles-terol en al die gewone goed wat middeljarige mans aantas, was in 'n goeie toestand. So ongeveer vyf jaar gelede het ek begin sukkel met 'n spastiese dikderm (hardlywigheid, winde, krampe). My werk is nogal spanningsvol en daarom het ek aanvanklik nie baie aandag daaraan gegee nie. Tydens 'n roetine dokters-ondersoek het ek daaroor gekla, maar hy het gesê dis alles klassieke simptone van 'n spastiese kolon: Ek moet dalk een of ander tyd 'n kolonoskopie ondergaan. Sedert Augustus 2006 het die prentjie egter verander. Ek was oorgewig en het 'n bietjie gesonder begin eet en gewig verloor. Ek het 8 kg in 6 maande verloor. Mettertyd het daar ook dan en wan bloed in my stoelgang verskyn. Die eerste semester van 2007 was baie bedrywig en toe die klasse afsluit aan die einde van die semester, is ek dokter toe. Op 31 Mei 2007 het my huis-dokter na 'n rektale ondersoek 'n kankergewas aan my rektum gediagnoseer. Hy het onmid-dellik vir my 'n afspraak gemaak by 'n baie goeie chirurg by die "Little Company of Mary Hospital” in Pretoria vir die volgende dag. Ewe skielik was die woord “KANKER” deel van ons daaglikse lewens, maar die daaropvolgende maand was veel meer as net 'n stryd teen kanker. Dit het skielik 'n stryd om lewe en dood geword! Die volgende dag is ek geope-reer om die gewas én 30 cm van my dikderm te verwyder, asook 4 kliere wat kankeragtig was. Ek het ook 'n permanente kolostomie gekry. Ek het redelik vinnig en maklik met hierdie dinge vrede gemaak. Ook met die wete dat ek later bestraling en chemoterapie sal moet ontvang. Ek het die dag ná die operasie in die Intensiewe Eenheid 'n paar minute aan 'n eksamenvraestel vir die derde-jaars gewerk. Oor die volgende paar dae was my herstel egter nie heeltemal soos dit moes wees nie. My ingewande het nie gefunksioneer soos dit moes nie. Tien dae gaan verby, my toe-stand gaan agteruit, ek is naar en begin braak. Ek is bitter swak. Ek weet, my vrou weet, ek het obstruksie, maar teen 12 Junie bevestig 'n X-straal-ondersoek dit: dunderm-obstruksie. Ek moet wéér geopereer word - 'n noodoperasie! Ek is terug na die Intensiewe Eenheid (ICU), maar hierdie keer is ek werklik baie siek! Toe ek 'n paar dae later teruggaan saal toe, begin daar geweldige koorspieke ontwikkel: oorsaak onbekend. Ek kry groot dosisse antibiotika, maar die oorsaak van die koors bly onbekend. Teen 20 Junie besluit hulle om 'n “RT-scan” van my ingewande te doen om na die oorsaak van die koors te soek. Daardie middag moet ek 'n groot hoeveelheid kontrasstof drink. Ek sluk bitter moeilik, maar kry dit tog reg. Gedurende die “RT-scan” moet ek doodstil lê. Skielik kry ek die sensasie dat ek in my eie speeksel gaan verdrink. Ek kan nie beweeg nie en kan niemand se aandag trek nie. Maar ek beleef 'n anderwêreldse ervaring wat my tot in my fonda-mente skud. Ek ervaar dat ek op 'n fyn grens tussen lewe en dood is: aan die een kant die lewe as 'n ry groen ligte en aan die ander kant die dood as 'n ry rooi ligte. Ek moet baklei om aan die ry groen ligte meer as die ry rooi ligte te hou! Toe ek daar uitkom en terug in die saal, kan ek nie praat nie! Dit neem my 'n rukkie om aan my vrou te verduidelik dat ek nie die beweging van spraak kan maak nie. Sy sukkel ure om die hospitaal-personeel te oortuig dat daar iets fout is met my. Hulle dink ek het maar net 'n spasma in my keel. My internis kom uiteindelik tot my redding. Sy sien dadelik daar is iets fout en besluit om 'n neuroloog te kry om na my te kom kyk. Die neuroloog se bevinding is dat ek waarskynlik beroerte gehad het. Daardie aand doen hulle 'n “RT-scan” van my brein wat die beroerte bevestig. Ek is terug na die Hoësorgeenheid. Ek kan nie praat of sluk nie. My vrou en familie is baie erg geskok en bekommerd. Daardie aand praat die dokter met my skoonsuster. Sy noem die moontlikheid dat die kanker dalk na my lewer, longe en nou ook my brein versprei het. Volgens haar is my prognose bitter sleg. My ouers is ontsettend hartseer. Hulle bid. Hulle vra die Here pertinent vir 'n wonderwerk. Maar nie net hulle nie. Almal wat my ken, oral bid mense, en vra die Here vir beterskap. Daardie aand slaan my ma die Bybel oop by die 1953-vertaling van Daniël 10. Sy lees van die visioen wat Daniël gesien het, hoe hy stom geword het, maar later, toe hy gereed was om na God se woorde te luister, weer krag gekry het en kon praat. Die volgende dag is my vrou by my. Ek skryf op papier dat ek reeds dood is. Ek gaan vir 'n MRI (Magnetic Resonance Imaging) van my brein. Ek is deurmekaar. Ek is angstig. Ek wil op 'n manier probeer skryf wat met my gebeur het, maar het nie op daardie stadium die woorde nie. Dan skielik kry ek 'n reuse epileptiese aanval. My vrou weet dit nie, maar dit is reeds die tweede een! Tydens een van hierdie aanvalle het ek 'n hartstilstand. Hulle bring my by. Ek is terug in die Intensiewe Eenheid. Die res van die dag verloop sonder dat ek iets daarvan kan onthou. Dan breek Saterdag 22 Junie 2007 aan. My skoonsussie is die oggend eerste daar tydens besoektyd. Sy is 'n baie spon-tane mens. Sy stap in, kielie my voet en sê ek moet wakker word. Ek maak my oë oop en sê ek wil water hê, want ek is dors. Almal is stom van verbasing: ek kan weer praat! Hulle sê ek kan Yogisip probeer drink. My broer hardloop oor die straat om dit te gaan koop. Intussen kom my vrou en haar sussie daar aan. Ek praat normaal met hulle. Hulle is almal oorstelp van vreugde en in trane! My skoonsuster maak my mond vir my skoon. Ek sluk die Yogisip sonder om te stik terwyl almal grootoog toekyk. Deur die loop van die naweek doen die neuroloog verskeie toetse. Alles is normaal. Hy sê ook dat die MRI toon dat daar geen breinskade deur die beroerte gelaat is nie. Stadig maar seker begin dit tot my deurdring dat daar 'n fantastiese wonderwerk met my gebeur het. Ek het 'n beroerte-aanval gehad. Ek kon vir 36 uur nie praat of sluk nie. Ek is nou weer 100% normaal! My "breinscan" het definitief 'n beroerte gewys, maar dit het wonder bo wonder geen blywende skade gelaat nie. Ons Hemelse Vader was vir my wonderlik goed! Gedurende die daaropvol-gende dae herstel ek vinnig en op 30 Junie 2007 word ek ontslaan. Terug by die huis word ek ook vinnig sterker. 'n Deeglike stel toetse toon dat die kol in my lewer net 'n hemangioom is (niks kwaadaardig nie), die kolle in my longe is slegs ontsteking en dit verdwyn mettertyd. Ek deurloop gedurende Julie en Augustus 6 weke van daaglikse bestraling in Klerksdorp. Nou moet ek nog tweeweekliks chemoterapie ontvang vir die volgende 6 maande. Behalwe vir kleinere skete en kwale, gaan dit goed met my en glo ek vas dat die Here my teruggeplaas het op die pad na herstel. My ma en my dogtertjie sê hierdie teksvers (Ps. 116:3) is van toepassing op my: “Bande van die dood het my omsluit, Doodsangs het my aangegryp, Ek het benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: 'Here, red my tog!' Die Here is genadig en regverdig, Ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered.” Ek was voorwaar hulpeloos: sonder spraak, sonder sluk, my prognose baie swak, maar die Here het seker nog werk vir my en daarom het Hy my nog 'n kans gegee. Ek is baie dankbaar dat ek oorleef het sodat ek vir julle kan vertel hoe genadig die Here vir my was! |