JY KAN NIE HIERDIE BEPROEWING VRYSPRING NIE | ||
  |
“Wees bly wanneer allerlei beproewings oor julle kom” (JAKOBUS 1:2, NAV). Met hierdie versie in Jakobus bedoel die Bybel nie dat ons moet vreugdevol wees as ons foute maak en misluk nie. God kán ons foute gebruik om ons te leer, maar dit is nie wat Jakobus in gedagte het nie. Sommige beproewinge kom oor ons pad, want in ons lewe is daar definitief swaarkry. Alles gaan nie altyd volgens plan verloop nie. Gewoonlik is dit nie een groot ding wat skeefloop nie, maar 'n klomp klein goedjies. Ons ondervind fisiese, finansiële, emosionele of verhoudings-probleme wat ons onkant vang en uitslaan! Petrus noem dit “die egtheid van (ons) geloof,” (1 Pet. 1:7, NAV). Hoe lank of hoe groot jou beproewing ook al is, daar is nêrens waar ons hierdie geloofs-beproewing kan vryspring nie. Om dit te probeer vermy, is soos om nie 'n toets te wil skryf nie en van skool te verander! Die volgende skool gaan ook toetse hê, waarskynlik moeiliker toetse as dié van die skool wat jy pas verlaat het. Boonop is jou studie en voorbereiding nou verder agter. Om die hele tyd te probeer weghardloop van die lewe en so beproewings te probeer vryspring, gaan nie werk nie. Beproewings sal wel een of ander tyd oor jou pad kom. Die goeie nuus is dat daar nie iets soos nuttelose beproewing is nie! Met elke beproewing het jy die keuse of jy dit nuttig gaan ervaar of nie. Dit laat jou dan groei tot 'n nuwe geestelike vlak. Die interessante ding van beproewing is dat dit, soos 'n snyerspak, spesiaal vir jou gemaak is. Jou naam staan daarop geskryf! Paulus het twee goed ontdek: (a) Die rede vir die beproewing: “Sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie,” (2 Kor. 12:7, NAV) en (b) Die gevolg van die beproewing: “My (Christus se) krag kom… tot volle werking,” (2 Kor. 12:9, NAV). Soos 'n kleremaker jou meet vir 'n nuwe pak klere wat perfek sal pas, stel die Heilige Gees ook die beproewinge wat oor 'n mens se pad kom, spesiaal op volgens jou geestelike tekortkominge, om jou te vorm, sodat jy meer soos Jesus kan word! (Sielskos: Eks. 20:13, Gen. 4:8-16, Spr. 18:21, Matt. 5:21-22). [Die Woord vir Vandag, Uitgawe 2/2008]. |