IS DIT DIE MOEITE WERD? | ||
  |
Die vraag word dikwels gevra: Is dit die moeite werd om sendelinge uit te stuur? Moet ons nie eerder die geld en hulpbronne plaaslik aanwend nie? Wie die vraag vra, verstaan nie dat Jesus Sy Kerk beveel het om die Evangelie uit te dra nie (Mt. 28:18-20)! Die Kerk bestaan nie ter wille van homself (sy lidmate) nie. God se PLAN is om die werk wat Hy op aarde kom doen het, na Sy hemelvaart deur Sy Kerk te voltooi! Om die Evangelie uit te dra na onbereikte volke, is juis een van die redes waarom die Kerk bestaan. Ons lees in die Bybel dat, nadat die gemeente van die Filippense die Evangelie gehoor het, hulle dadelik vir Paulus as sendeling aangeneem en in sy sendingwerk ondersteun het. U moet let op die vennootskap tussen sendeling en gemeente wat ons in die boek Filippense vind. Die vraag is: Hoe het die gemeente se betrokkenheid by Paulus se sending-uitreike hul eie gemeente geraak? Het dit die arm, sukkelende gemeentetjie bevoordeel of benadeel? Dit is opvallend om te sien hoe beide hierdie gemeente en Paulus (as sendeling) deur hierdie vennootskap bevoordeel word! Daaruit leer ons dat gemeentes (en gelowiges) wat aan God gehoorsaam is en die Evangelie uitdra, juis geestelik groei en ontwikkel! Mense wat bereid is om te doen wat God van hulle vra, groei geestelik vinniger! Wat is jou benadering tot die Bybelboodskap? LET OP: In Filippi het beide die sendende gemeente en die sendeling uit die vennootskap gebaat: Hulle het gebid: Paulus het vir hulle gebid, maar hulle het ook weer op hulle beurt vir Paulus en sy span gebid. Hulle het dus kosbare gebedsbeginsels by hul sendeling geleer. Trouens, hulle het geleer om oor niks besorg te wees nie, maar al hul behoeftes aan God in gebed bekend te maak (Fil. 4:6). Hulle het hul sendeling finansieel versorg (Fil. 4:15): Hulle was op 'n stadium die enigste gemeente wat Paulus geldelik ondersteun het! Nie dat Paulus met sy besondere, nederige karakter daaroor sou kla nie. Tog wonder 'n mens onwillekeurig wat van Antiochië se ondersteuning geword het? Hulle was tog die eerste gemeente wat hom destyds as sendeling uitgestuur het? Dankie aan u wat getrou bydra tot sendingwerk! U gehoorsaamheid aan God is tot Sy eer! Hulle het hul sendeling met hulpmiddele versorg: Die gemeente van Filippi het ook ander dinge wat Paulus nodig gehad het, agterna vir hom gestuur. Selfs nadat hy reeds lankal weg was van die gemeente, het hulle Paulus steeds as sendeling bly versorg! Paulus was ontsaglik dankbaar oor die fisiese en geldelike ondersteuning. Hulle het hul sendeling emosioneel ondersteun: Terwyl Paulus daar ver in Rome in die tronk sit, was hulle bekommerd oor hom. Die gemeente was nie suinig nie, maar bereid om geld te spandeer en hul leraar, Epafrodites, af te staan en uit te stuur, nl. om Paulus daar in Rome in die tronk (onder slegte omstan-dighede), emosioneel te gaan versorg en te bemoedig (vgl. Fil. 2:25, 28-30). Daaruit leer ons dat dit Bybels korrek is dat gemeentes hul geld en tyd spandeer om hul sende-linge fisies en emosioneel te versorg! Nooit mag ons dink dit is geld wat vermors word nie! Om sendelinge fisies en emosioneel te versorg, is Bybels korrek. Sendelinge is deel van die Liggaam van Christus. As hulle swaarkry, raak dit ons ook! As hulle deurbrake behaal, is ons saam bly! 'n Gemeente wat gee, groei self ook geestelik! Let op, in Fil. 4:17-18 sê Paulus dat die gemeente wat gee, ook ander voordele daaruit sal trek! Dikwels kan gemeentes wat na binne-gerig leef, en al hul fondse net op hulself spandeer, nie ver-staan waarom die gemeente nie geestelik groei en in getalle uitbrei nie. Hierin lê die geheim. Dit is vir God welgevallig wanneer gemeentes fondse spandeer om die Evangelie uit te dra! Dit is opvallend hoe die gelowiges in Filippi geestelik ontwikkel het deur die pragtige voorbeeld wat hulle by hul sendeling gesien het. Paulus leer hulle om eensgesind te leef (vgl. Fil. 1:27): Hy leer hulle dat as jy nie gefokus leef op die visie wat die gemeente het nie, dan verval jy in talle argumente en struwelinge. (So berispe hy bv. ook in Fil. 4:2 vir Euodia en Sintige oor hulle onderlinge stryery in die gemeente)! Paulus het baie goed geweet dat onder-linge twis die gemeente uiteindelik heeltemal kan verwoes. Sendingbetrokkenheid het die gemeentelede se karakter ontwikkel: Die gemeente van Filippi het by hul sendeling wat so nederig geleef het, geleer om nie selfsugtig te wees nie. Hulle het geleer om hul hulpbronne met medegelowiges te deel. Al was hulle baie arm, het die gelowige gemeentelede die bietjie geld wat hulle gehad het, bymekaargemaak en gestuur vir die gemeente in Jerusalem wat swaargekry het (2 Kor. 8:1-4). Daar was nog vele ander Christelike waardes wat hulle by hul sendeling geleer het, bv. in nederigheid moes die een die ander hoër ag as homself (Fil. 2:3-4). Paulus self het natuurlik ook die voorbeeld gestel (Fil. 2:5). Hy leer hulle om vir mekaar om te gee; om heilig en onberispelik te lewe (Fil. 2:15); om as ligdraers in die wêreld op te tree; om alles prys te gee ter wille van Christus (Fil. 3:8); om begrip en 'n fyn aanvoeling vir mekaar te toon (Fil. 1:9) en om in blydskap, kommervry en in gebedsafhanklikheid van Christus te leef (Fil. 4:4-6)! 'n Gemeente wat sendingwerk ondersteun, verheerlik God: Paulus sê spesifiek dat die gemeente deur hul offervaardigheid ook God verheerlik! Hul gawe was vir God 'n offer met 'n lieflike geur! Dit was tot God se eer toe die gemeente van Filippi nie meer vir hulself geleef het nie, maar God verheerlik en gedien het met wat hulle besit! (Ons vergeet baie keer dat dit ook tot God se eer is wanneer ons sendelinge ondersteun om die Evangelie na onbereikte volke te neem). Hoe lyk jou betrokkenheid by Sendingwerk in jou gemeente? Deel jy ook in die voorreg om sendelinge te ondersteun? Getuig jy self van die Goeie Nuus van jou verlossing in Jesus Christus? (Artikel: ds. Willem Louw. Besoek www.ngkmiederpark.co.za vir meer inligting). |