NET EEN TREE!
  Gert du Plessis Lamprecht is op 9 September 1955 in die Hooggeregshof in Windhoek ter dood veroordeel weens die moord op Martin Vermeulen. Hier volg sy eie getuienis en daarna ook die aangrypende verhaal van die persoon wat hom geestelik bearbei en tot die laaste oomblikke tydens die teregstelling, vergesel het.
Toe ek nog baie klein was, het my moeder my een dag hoor sing: "Jesus is die soetste Naam vir my". Ek is nou twintig jaar oud en bevind my in 'n dodesel waar ek op die voltrekking van die doodvonnis wag. Dit mag vir u vreemd klink, maar nóú eers kan ek werklik sing: "Jesus is die soetste Naam vir my!"
As kind is ek in 'n goeie, godsdienstige huis opgevoed, waar my moeder vir ons as kinders dikwels uit die Bybel voorgelees en geleer het om te bid. Omdat ons nie ryk was nie, was ek genoodsaak om alreeds op vyftienjarige ouderdom die huis te verlaat om vir my eie onderhoud te gaan werk. Omdat ek nog deur die sonde verslaaf en verblind was, het ek spoedig begin glo dat die Bybel maar net 'n goeie boek was.
Terwyl ek aan die weermag verbonde was, het ek op 'n dag uit die mag gedros en 'n dame ontmoet op wie ek dadelik verlief geraak het. Toe ek nie haar liefde kon wen nie, omdat sy 'n ander vriend gehad het, het ek doelbewus 'n vuurwapen gaan koop met die plan om ons albei daarmee om die lewe te bring. Vandag sidder ek nog as ek dink aan die gevolge van so 'n daad - dat dit my in my sonde sou laat sterf en vir ewig verlore sou laat gaan het.
Een aand, toe ek haar besoek het, met die doel om eers vir haar en dan myself te skiet, het haar vriend onverwags op die toneel verskyn. In 'n onbesonne oombllik van woede en jaloesie het ek die wapen op hom gerig en die sneller getrek!
Terwyl ek amper drie maande lank verhoorafwagtend was, het ek van 'n sekere dame 'n Bybel as geskenk ontvang, waarin min of meer die volgende woorde geskrywe was: "May the Lord reveal Himself to you in your time of need. He will save you if you will go to Him for help." Ek was egter nog volkome in Satan se mag en daarom het ek eerder my toevlug na iemand anders geneem wat saam met my 'n storie versin het, waardeur ons gehoop het om die hof te mislei.
Dit was egter 'n tevergeefse poging. Die doodsvonnis is uiteindelik in die hofsaal oor my uitgespreek, in die teenwoordigheid van my moeder. Ek was diep geskok en omdat ek nie geweet het hoe spoedig dit voltrek sou word nie, was my eerste woorde aan die geregsdienaar wat my na die selle vergesel het: "Is daar nog vir my tyd om my saak met God reg te maak?"
Die dag daarná het ek 'n pragtige Bybel as geskenk van die familie van die vermoorde jong man ontvang, met die volgende woorde daarin geskrywe: "So lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen (ook jy) wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh. 3:16).
'n Paar dae later het 'n sekere mnr. Kilian my kom besoek. Al kan ek nie meer alles onthou wat hy daardie dag vir my gesê het nie, het die volgende paar tekste wat hy my laat lees het, 'n diep indruk op my gemaak: 1 Joh. 1:9; Joh. 1:12; 6:37. Hy het gevra dat ek my eie naam by 1 Joh. 1:9 moes inlees, wat so geklink het: "As Gert sy sondes bely, is Hy getrou en regverdig om Gert se sondes te vergewe en Gert van alle ongeregtigheid te reinig". Die woorde in Joh. 6:37 het my verseker: "En ek sal hom (Gert) wat na My toe kom, nooit uitwerp nie."
Ons twee het toe saam neergekniel en terwyl ek gebid en aan die liewe Heer bely het dat ek gesondig het, het ek begin huil. Daarna het mnr. Kilian ook gebid en toe ons opstaan, het ook hy 'n traan afgevee.
Van toe af het ek Ps. 23 gereeld gelees, maar ten spyte daarvan het ek maar weer begin vloek, leuens vertel en allerhande sondes gedoen. Toe mnr. Kilian my weer besoek het, het ek besluit om eerlik en openhartig met hom te wees. Daardie dag het ons weer saamgekniel en het ek God belowe dat ek voortaan net vir Hom sou lewe. Danksy Sy liefde en genade kan ek nou met die grootste vrymoedigheid sê: "Ek leef nie meer nie, maar Jesus leef in my" (Gal. 2:20).
Ek het vir mnr. Kilian gevra of rook sonde is, waarop hy vir my 1 Kor. 3:16-17 voorgelees het. Dit kom daarop neer dat as ons nie die vrymoedigheid sou hê om voor 'n kansel in die kerk te rook nie omdat ons dit as 'n heilige plek van die Here beskou, al is dit met mensehande gebou, dan is ons liggame soveel te meer bedoel om heilig te wees omdat Sy hande ons gevorm het en Sy Heilige Gees in ons wil woon. Van daardie oomblik af het ek deur die liewe Here se bystand nog nie weer 'n sigaret of 'n pyp in my hande geneem om te rook nie.
Ek is nou volkome gereed om Hom te ontmoet, want ek is deur die bloed van Christus verlos en vergewe en Hy het aan my rus en vrede gegee. As dit dan Sy wil is dat ek binnekort moet sterf, dan gaan ek na die skone hemel waar Hy vir my 'n plek berei het om in Sy teenwoordigheid vir ewig te gaan woon. Ek sal aanhou glo, Sy Naam groot maak en altyd uitroep: "Ek weet my Verlosser leef!"
Ek lees Ps. 23; 121; 116 en 103 elke oggend en aand en indien dit Sy wil is om my te neem, selfs langs die weg van die galg, is dit vir my NOG NET EEN TREE. Ek verkies dit bo 'n ordentlike sterfbed, wat die moontlikheid inhou dat ek vir ewig verlore sou wees!

MENEER KILIAN VERTEL:
Ek het vir Gert du Plessis Lamprecht die eerste Sondag na sy veroordeling in die gevangenis besoek en sy eerste woorde aan my was: "Meneer, ek bid baie, maar dit is asof ek teen 'n muur vasbid".
Ek slaan toe my Bybel oop by Jes. 59:1-2 en lees: "Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie."
Ek sê toe vir hom dat sy sonde daardie muur is wat sy gebede verhinder. Ons moet onthou dat as ons in die verlede sonde gedoen het, ons nie daarvan kan wegkom deur dit na agter oor ons skouer te gooi en te dink dat ons daarmee klaar is nie, maar dat dit op daardie muur beland om dit nog hoër te maak. As ons dan op 'n dag wil omdraai om ons toevlug tot God te neem, loop ons teen daardie muur van sonde vas.
Hy het die waarheid hiervan dadelik besef en toe kon ek verder aan hom verduidelik wat hy met daardie muur van sonde moes doen. Ek het 1 Joh. 1:9 aan hom verduidelik en om dit vir hom meer werklik en persoonlik te maak, het ek hom gevra om dit self te lees, met sy eie naam daarin. Ander Skrifgedeeltes soos Joh. 1:12 en 6:37, het ook daartoe bygedra dat hy die waarheid van God se groot verlossingsplan en vryspraak deur die geloof, goed verstaan het.
Ons het saam neergekniel en Gert het sy sonde aan God bely en Jesus Christus as sy persoonlike Saligmaker aangeneem.
'n Paar dae het verloop voordat ek weer vir Gert in die dodesel kon besoek. Ek het dadelik gemerk dat iets hom baie hinder. Spoedig het hy met die waarheid vorendag gekom en aan my gesê: "Oom Kilian, ek wil graag 100% vir Christus lewe, maar ek voel ek is nog maar by 90%."
Ek het aandagtig geluister terwyl hy vra: "Is dit sonde om die reëls van die gevangenis te oortree?" Die Bybel wat die Vermeulen-familie aan hom geskenk het, was byderhand en ek vra hom toe om dit oop te slaan by Rom. 13:1-2. Ek lees toe vir hom: "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang."
Dit was so duidelik dat ek nie eens nodig gehad het om verder te praat nie. Hy vertel my toe dat dit hom hinder dat hy een van die gevangenisreëls oortree het en vra wat hom nou te doen staan. Ek het vir hom gesê dat as hy God se vrede wou ondervind, dit noodsaaklik was dat hy dit aan die owerhede moes bely. Gert het my daarop verseker dat hy dit nog dieselfde middag sou doen.
Toe ek hom weer die volgende middag besoek, was hy vol vreugde. Ek het diep in my gemoed gewaar geword dat God se vrede en lig in hierdie jongman se siel volkome deurgebreek het.
By 'n ander geleentheid het Gert my weer gevra: "Oom Kilian, is dit sonde om te rook?" Hy was 'n strawwe roker. Ek vra hom toe: "Gert, sê my, sal jy in die kerk voor die kansel gaan staan en jou sigaret daar opsteek?" Verontwaardig roep hy uit: "Maar natuurlik nie, want dit is 'n heilige plek."
Ek wys hom toe daarop dat enige kerk maar net 'n tempel is wat deur mensehande opgerig is, maar dat hy moet hoor wat God se woord sê: "Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend, want die tempel van God is heilig, en dit is julle" (1 Kor. 3:16-17).
Dit was die laaste dat Gert ooit gerook het. God was vir hierdie jongman 'n werklikheid en die Here se teenwoordigheid was so lieflik dat dit vir my, elke keer dat ek hom besoek het, meer aan 'n voorportaal van die hemel as aan 'n dodesel laat dink het. Hy het nooit met afsku van die dodesel of van die galg gepraat nie omdat hy daarvoor bereid was.
Gert het sy Bybel intensief bestudeer en die talle versies wat hom getref het, onderstreep. Teenoor my het hy telkens getuig: "Oom Kilian, die Here het hierdie gedeelte vir my so lieflik oopgemaak."
Deur die Woord van God is sy siel gevoed en het hy met rasse skrede vordering gemaak en in genade toegeneem. Binne die bestek van drie maande het hy geestelik vinniger gegroei as ander mense wat bely dat hulle al baie jare lank Christene is.
Hy het 'n ware las vir die redding van ander mense se siele gehad. Telkens wanneer ek en hy saam-gebid het, het hy vir die Here gesê: "Here, ek wil nie vir myself bid nie, maar vir…" En dan het hy die name van die mense wat hy geken het, begin opnoem. Hy het baie briewe geskrywe waarin hy getuig het van wat die Here vir hom gedoen het. Al die trak-taatjies wat hy in die hande kon kry, het hy weer uitgestuur na behoeftige siele buite die gevangenis. Hy het ook met diegene wat hom bewaak het, gepraat en saam met sommige van hulle gebid.
Dit is asof ek nou nog kan hoor hoe Gert gebid het: "Here, ek vra nie om versagting van my vonnis nie, maar dat U wil sal geskied".
Hy was diep bewus van die feit dat sy vonnis regverdig was. Die laaste oggend het hy nog gesê: "Ek kry regverdiglik wat die wet vereis, maar by God het ek genade gevind."
Liewe Leser, weet u wat hierdie woorde beteken?
Die klimaks van hierdie verhaal is die beskrywing van die laaste tonele net voor en tydens die teregstelling. Hy het die nuus dat hy die volgende dag tereggestel sou word, kalm aangehoor en dit is toe gereël dat ek die laaste oomblikke saam met hom sou deurbring. Ek is ook toegelaat om, danksy die vriendelikheid en diepe meegevoel van die tronk-bevelvoerder, wat baie vir Gert beteken het, hom ook die laaste aand te besoek.
Toe ek by hom kom, was hy net so vriendelik en opgeruimd soos altyd en toe hy gaan sit, sê hy: "Oom Kilian, die Heer het dit goed gedink om nie my lewe te spaar nie, maar om my huis toe te neem. Miskien het Hy nood-saaklike werk vir my daar. Dink net daaraan Oom, die komende Kersfees is ek in die hemel!"
Ek sê toe vir hom dat die Here Joh. 14 op my vrou se hart gelê het en sy vra dat hy dit moet lees. Ons twee het toe die versies om die beurt gelees. Toe ons by die 14de versie kom, sê hy skielik: "Kan ek dit nie assebief alleen verder lees nie, oom Kilian?"
Toe hy by die 20ste versie kom, kyk hy skielik op en sê: "Oom, ek jaag, want ek wil graag by die 27ste versie kom. Dit is vir my so 'n mooi versie, 'Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek vir julle. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie'." (Dit is ook die versie waaroor ek by sy begrafnis gepraat het).
Daarna het hy 2 Kor. 5:1-10 gelees en dit 'n persoonlike saak gemaak: "Want ek weet dat as my aardse tentwoning afgebreek word, ek 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele." Ons het saamgebid en gesing en toe is ek huis toe.
Die volgende oggend om elfuur het ek en my vrou hom besoek, want die teregstelling sou daardie middag om drie-uur plaasvind. Hy was baie bly om ons te sien en toe hy so voor ons gaan sit, sê hy: "Oom Kilian, ek is alreeds daar!" (menende in Jesus se teenwoordigheid). Terwyl hy op sy knieë val, voeg hy by: "Dit is nog net die ou liggaam wat hier is." Terwyl ons saam tee drink, het ek gekyk of daar enige teken van senuweeagtigheid by hom te bespeur was, maar hy was kalm en het sy teekoppie stil en stewig vasgehou. Hy sê toe vir my vrou: "Tannie, ek gaan vir u en vir oom Kilian daar inwag; ek sien julle daardie môre."
Daardie middag toe ek by die gevangenis stilhou, klim Gert se ma en suster, wat toe so pas per vliegtuig by Windhoek aangekom het, uit die motor wat hulle van die lughawe vervoer het.
Ons is toe saam na die dodesel en net toe sy ma hom sien, het sy flou neergeval. Toe sy herstel het en op 'n stoel gehelp is, het Gert reg voor haar op sy hurke gaan sit en gesê: "My moeder, ons moenie huil nie, maar bly wees! Jesus kom my haal en ek gaan huis toe."
Op die ou end was hy die een wat sy dierbares vertroos en moed ingepraat het. Daarna het hy sy Bybel, wat hy as sy grootste skat beskou het, aan sy ma oorhandig. Sy het agterna aan my gesê dat sy net stil kon sit en haar verwonder oor sy opgewonde en vreeslose gesindheid.
Omtrent twintig minute voor drie is Gert aangesê om klaar te maak en af te gaan na die dodesel, die naaste aan die galg.
Ek kan nie die toneel vir u beskrywe wat toe daar afgespeel het nie, toe hy sy een arm om sy ma en die ander om sy suster geslaan het. Hulle moes die laaste keer afskeid neem om mekaar nooit weer op aarde te sien nie.
Te midde van alles was hyself kalm en bedaard toe ek by hom inhaak en saam met hom die gang afstap na die dodesel. Terwyl ons loop, het hy sy geliefkoosde koortjie gesing:
Twyfel nie meer, vertrou die Heer.
Hy stel jou nooit teleur.
Al is jou nood ook nog so groot
Jesus help seker deur.
In die dodesel het ons langs mekaar op die bed gaan sit en saamgebid. Terwyl ek sy hande in myne vasgehou het, het ek stip gekyk of ek enige teken van senuweeagtigheid bespeur, maar hy was verbasend kalm.
"Gert," vra ek, "wat moet ek aan die jongmense sê; is dit die moeite werd om die Here te kies?"
"Ja, oom Kilian, dit is die moeite werd," was sy besliste antwoord.
Toe ek omtrent vyf minute voor drie op my horlosie kyk om te sien hoeveel tyd daar nog is, lê hy sy hand op sy hart en sê met 'n betekenisvolle glimlag: "Oom Kilian, die vrede van God is nou so vol hier dat dit vir my voel asof ek kan spring en jubel. Ek het lus om nou soontoe (menende na die galg) te hardloop."
Ons het nog 'n paar koortjies saamgesing en een Engelse koortjie het hy met 'n klokhelder stem alleen gesing. Een van sy laaste vrae aan my was of ek die lyksrede gaan hou en hy was bly toe ek bevestigend antwoord.
Ons het weer saamgebid en toe sê hy: "Here, as die tou nou hier anderkant styf ruk, dan is ek by U."
Toe die laksman inkom, het ons afskeid geneem en toe Gert begin aanstap na die galg, het hy gesing: "Ek kan hoor my Heiland roep my…"
Dit is asof ek hom nou nog kan sien wegstap van my af terwyl hy aanhou sing. By die woorde: "Waar Hy lei daar sal ek mee-gaan…" het die skavot geval en het hy met EEN TREE oorgestap van geloof tot aanskoue; van hierdie aardse tranedal na die heerlikheid van die hemel.
Die teenwoordigheid van God was daardie oomblikke so 'n werklikheid dat almal dwarsdeur daardie gevangenis en tot selfs in die omgewing daarvan bewus geword het. Vir sommige van die aanwesiges was dit oorweldigend. Die aakligheid van die dood was skoon weg en die Kruis het heerlik geseëvier!
Job het gesê: "Volgens hoorsê het ek van U gehoor, maar nou het my oog U gesien." Hiervan kan ek ook getuig. My vriend, ek was 'n ooggetuie van die triomf van die Kruis en vir niks op aarde sou ek hierdie ondervinding wou gemis het nie. Om te sien hoe die krag van God, die krag van die Bloed, deur die werking van die dierbare Heilige Gees, 'n geredde moordenaar triomfantlik deur die poorte dra, maak hierdie dinge vir jou 'n baie groot werklikheid. Mag dieselfde Christus, deur wie Gert Lamprecht lewe en oorvloed van lewe gevind het, ook aan u die ewige lewe gee. Mag God gee dat dit so sal wees.
(AEB Boekhandel, Posbus 1376, Pretoria, 0001).

Indeks     Index