HOE OM NA GOD TERUG TE DRAAI
  Dit was net na 17:00 toe Anton daardie Vrydagmiddag sy bagasie in sy motor laai en die motorhuis se deur agter hom toetrek. Hy was op pad om by sy ouers in Bredasdorp te gaan kuier. Dit was egter net toe hy die motorhuis se slot toedruk dat God skielik in 'n beeld aan hom 'n ryloper wys wat net buitekant Caledon staan en duimgooi. Instinktief het Anton geweet dat God wou hê dat hy hierdie man moes oplaai. Maar hoekom?
Met 'n maag wat draai en 'n hart wat al vinniger klop namate hy die spesifieke area buitekant Caledon genader het, het Anton al meer begin bid. Sou die man daar wees? Tot voor daardie oomblik het Anton se beleid om nooit rylopers op te laai nie, vas-gestaan. Vandag was egter anders…
Om nog 'n draai, deur nog 'n kloof en toe... Skielik het Anton na sy asem gesnak. Nie ver voor hom nie, het die man gestaan - presies net soos wat hy hom 'n uur vantevore "gesien" het. Sonder om twee maal te dink, het Anton langs die pad afgetrek en waar hy die ryloper in sy tru-spieëltjie dopgehou het soos hy naderdraf, het hy vir oulaas kliphard in sy motortjie gebid: "Here, ek doen dit nou uit gehoorsaamheid aan U. Asseblief, beskerm my."
Oomblikke later was die ryloper in Anton se motor en saam het hulle na Bredasdorp vertrek. "Die musiek... Is meneer 'n Christen?" Dit was die ryloper langs Anton wat die stilte in die motor verbreek het. "Ja, ek dien die Here met my hele hart. En jy?"
Die man het vir 'n oomblik gehuiwer waarop Anton na die volgende vraag beweeg het: "So wat doen jy vir 'n lewe?" Die man was 'n bakker in Bredasdorp en het vir die volgende paar minute trots van sy werk vertel. Toe dit egter weer stil raak in die motor, het die man ongemaklik rondgeskuif terwyl hy half skaam begin: "Oor jou vraag of ek 'n Christen is..." Skielik het Anton 'n voorgevoel gehad dat wat nou sou volg, dalk die rede mag wees waarom God hom gestuur het om hierdie man op te laai.
Dit was. In 'n half hees stem het die ryloper begin vertel hoe hy 'n paar jaar vantevore met 'n sterk gevoel in sy hart dat God hom na die sendingveld geroep het, met gepakte sakke by die bushalte gestaan het. Dit is egter net toe hy in die bus moes klim dat sy moed hom begewe het. Hy het omgedraai en teruggekeer na Bredasdorp waar hy by die plaaslike bakkery aangesluit het. Vir 'n oomblik het hy stilgebly voordat hy sy sin afsluit: "Dit is nou al jare dat ek met hierdie geweldige skuldgevoel in my hart rondloop. Elke keer wanneer ek wil bid, stop ek omdat ek nie kan verwerk dat ek my rug op God gedraai het nie."
In daardie oomblik het Anton besef waarom hy die jongman moes oplaai. God het hom gestuur om aan die ryloper nuwe hoop te bied. Ook om hom te herinner dat daar altyd 'n tweede kans by God is.
Nadat Anton hom van sy visioen vertel het en oortuig het dat God nie van hom vergeet het nie, het die ryloper met trane in sy oë na hom gedraai voordat hy uitgeklim het. "Baie dankie vir vandag. Jy sal nooit besef watter las jy gehelp het om van my skouers af te lig nie! Ek kan nie wag om by die huis te kom sodat ek uiteindelik weer saam met God tyd kan spandeer nie!"
Jakobus 4:8c: "Nader tot God en Hy sal tot jou nader."
Voel jy vandag soos hierdie bakker? Dalk het jy jou rug in die verlede op God gedraai. Dalk het jou geloofslewe oor die afgelope maande yskoud geword. Of dalk het jy 'n deurbraak in jou lewe nodig, maar dit voel asof jy teen die dak vas bid.
Lees weer die woorde in Jakobus 4:8c. Wie moet eerste nader? JY.
Onthou, net soos God nie van die bakker vergeet het nie, het Hy ook nie van jou vergeet nie. Inteendeel, Hy het jou ontsaglik lief. Moenie dat die vyand jou langer van God af weghou nie. Kies om vandag nog na Hom terug te keer! Ek kan jou waarborg, Hy wag reeds op jou!
Vader God, baie dankie dat U my nooit afskryf nie. Help my asseblief om in hierdie nuwe jaar nie net my verhouding met U daagliks te bou nie, maar om werklik die naaste aan U te kom as wat ek nog ooit was. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

PRAKTIESE RIGLYNE: HOE OM NA GOD TERUG TE DRAAI

STAP 1: Bely jou sondes teenoor God. As daar enige sonde is wat tussen jou en God staan, bely dit voor Hom.
STAP 2: Aanvaar jou vergifnis. Deur Jesus se kruisdood ontvang ons vergifnis vir al ons sondes.
STAP 3: Kies om eerste tot God te nader. Vind 'n stil plek en sluit jou oë. Ek kan jou waarborg, God wag reeds vir jou!
Benescke Botha (Radio-aan-bieder en vryskutskrywer vir verskeie geestelike en inspirasie-tydskrifte).

Indeks     Index