GETUIENIS VAN DIE BEKOMMERDE VROU | |
  |
Verlede jaar het blitsig tot 'n einde gekom en met gemengde gevoelens het die vrou 2012 tegemoetgegaan. Haar kind het verlede jaar matriek geskryf en sy wou baie hê dat haar kind verder moes studeer. Die probleem was dat die vrou nie geld gehad het nie en in haar depresiewe toestand nie meer gelowig genoeg gevoel het om 'n gebed tot God te rig nie. Haar kind se oë was vol vrae en die vrou het aangehou belowe dat daar iewers 'n uitkoms sou wees. Beide die vrou en haar kind bly in verskillende dorpe by mense wat na hul omsien weens die vrou se benarde finansiële situasie. Tydens die kind se matriekjaar verlede jaar kon die vrou nie vir die kind sê dat daar in 2012 nie regtig geld sal wees om haar verder te laat leer nie en het sy stilletjies op haar eie menslike manier plannetjies begin beraam. Niks wou menslik moontlik werk nie en die vrou het haar wéér tot God gewend. Op 4 Januarie 2012 gaan sit sy buite in die donkerte van die tuin en praat deur baie trane wat op die varsgeboude sement-paadjie val, met haar Skepper. Sy dink aan “grênd” woorde om Hom te beïndruk, maar kry niks. Haar probleme is vir haar te groot en al wat sy kon doen is om net eenvoudige woorde te prewel. Sy sê toe vir die Here om haar en haar kind asseblief nie te vergeet nie - dis al wat sy kon uitkry… Maar eintlik wou die vrou graag sê: Dat sy nie geld het vir die registrasie en klasgeld-deposito by 'n kollege nie; dat haar kind probleme het met 'die mense' waar sy bly; dat haar kind nie vervoer kollege toe en terug sal hê nie. Al wat sy kon sê, was: “Here moet ons asseblief nie vergeet nie…” Vyf dae later is haar gebed verhoor! Bykans R30 000 is vir die registrasie, deposito, ontgroening, klere, handboeke, toerusting, ens. deur Sy genade voorsien; 'die mense' het vir die kind 'n voertuig beskikbaar gestel om kollege toe en terug te ry en hulle houding teenoor haar het drasties verander; 'die mense' het vir die kind verder 'n gratis woonstel aangebied en kyk steeds goed na haar en die vrou het 'n goeie werk gekry… Nooit het die vrou gedink die Here stel so belang om na haar eenvoudige hartsgebed te luister nie. Sy was verteer deur smart en kon nie 'n behoorlike gesprek met haar Here voer nie. Die Here het vanuit die hemel aandagtig geluister en vandag is die vrou en haar kind se harte weer vol vreugde. Die vrou het daardie aand geleer om God eerder 'n kans met haar probleme te gee en op te hou om alles SELF te wil doen. Vertrou vandag op God en wie weet, miskien lees ons volgende keer jóú getuienis in die “Goeie Nuus” Koerant! - Die nou vreugdevolle, kommerlose vrou 073 385 4792 |