5 VOOR MIDDERNAG?
 
Baie mense wonder wat die huidige nuusgebeure impliseer. Hoe verstaan ons al die opstande, vloede, aardbewings, morele en sedelike verval en ekonomiese probleme? In 5 VOOR MIDDERNAG? word wêreldgebeure in die lig van Bybelse profesieë ondersoek.

Hierdie boek is nie bedoel om ‘n teologiese handboek te wees nie. Dit is ook nie ‘n gedetailleerde geskiedenisboek oor die lotgevalle van mense oor al die eeue heen, of net oor die volk Israel nie. Dit is slegs ‘n baie beknopte voëlvlug-oorsig van die skepping van die mens, sy wel en wee op aarde, en dan ten laaste sy eindbestemming.

Ons lees in die boek Daniël:
“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4 OV).

“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry (Daniël 12:4 NV).
Niemand sal stry as ons sê dat die ontdekking en verkryging van kennis deur die eeue heen algaandeweg toegeneem het nie. Trouens, in óns dag begin die geweldige kennisontploffing en bekendmaking daarvan deur tegnologiese en andersoortige media amper ‘n probleem word, omdat die mens naderhand nie so ‘n magdom kennis kan hanteer en absorbeer nie.

Daarom is daar baie min mense wat nie vandag nadink of vrae vra oor al die ontstellende dinge wat daagliks in ons wêreld gebeur nie. Sommige begin wonder of daar nie sprake is van interaksie tussen ons aardse bestaan en hemelse bemoeienis nie.

In gemelde teksvers word dit aan Daniël gestel dat “die kennis sal vermeerder”. Ons glo dat die “kennis” wat hier ter sprake is, hoofsaaklik te doen het met die visioene of geheime wat God aan Daniël toevertrou het. Die uitleg (kennis) daarvan is verseël tot die eindtyd toe.

Aangesien ons van mening is dat ons wel in die eindtyd leef, is dit moontlik dat hierdie kennis nou vir ons “oopgemaak”, verhelder, of ontsluit word. Hierdie boek poog om net kortliks te beskryf hoe Bybelse kennis en inligting perspektief kan bring op daaglikse wêreldgebeure.

Hierdie boek gee ‘n verstaanbare uiteensetting van wêreldgebeure en geestelike ingrypings. Ons opregte bede is dat hierdie boek u as leser net nader aan God die Vader, Jesus die Seun, en die Heilige Gees sal bring!

Die boek 5 VOOR MIDDERNAG? is beskikbaar teen die onoortreflike prys van slegs R100! Die outeurs is dr. Japie en Huegene Venter, uitgewers van “Goeie Nuus”/ “Good News”. Vir enige navrae en bestellings [ook pos-bestellings], skakel ons gerus by 018 293 1996 of 074 254 2319.

Indeks     Index