MET BLYDSKAP IS DIT ANDERS...
  Die woord “geluk” laat verskillende mense aan verskillende dinge dink: aan Kersfees, aan verrassings op jou verjaardag, aan ‘n heerlike vakansie saam met jou naby-mense, aan spontane, uitbundige gelag.

Wie is daar wat nie graag gelukkig wil wees nie? Vir baie mense bly dit ‘n lewenslange ideaal. Onvermoeid jaag hulle dit tevergeefs na: koop, maak bymekaar en soek telkens weer nuwe ervarings. So asof dit van die dinge om jou, van jou omstandighede afhang. As die nuwe speelding breek, of ‘n geliefde sterf, of jou gesond-heid gee in, of jy beland in ‘n finansiële krisis, of die partytjie is verby - watter uitwerking het dit op jou? Verdwyn jou gevoel van gelukkig wees dan?

Met blydskap / vreugde is dit anders as met geluk. Blydskap het meer diepgang, want dit is gebou op die vaste versekering van God se liefde en Sy betrokkenheid by ons. Die wete dat Hy daar is, kom wat wil! Geluk word bepaal deur jou omstandighede, maar ware blydskap is gewortel in Christus.

Filippense is Paulus se blydskapsbrief. Die gemeente in Masedonië was vir Paulus ‘n bron van groot bemoediging. Die gelowiges in Filippi het ‘n besondere verhouding met hom gehad en daarom het hy vir hulle ‘n brief geskryf waarin hy uiting gegee het aan sy liefde en toegeneentheid. Hulle was vir hom ‘n bron van blydskap (4:1). Hierdie brief is ook ‘n blydskapsbrief aangesien dit ware Christelike blydskap beklemtoon. Nie minder nie as sestien keer skryf Paulus van blydskap of verblyding. Elke bladsy straal hierdie positiewe boodskap uit, en in Fil. 4:4 bereik dit ‘n hoogtepunt: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

Paulus het sy hele lewe aan God gewy, en in die proses het hy nie net oorvloed beleef nie, maar ook armoede. Dit is trouens uit die tronk wat hy hierdie blydskapsbrief skryf! Paulus het geleer om hom onder alle omstandighede te verbly (Fil. 4:11-12). Sy vreugde het hy gevind om hom in te span om Christus te ken en die krag van Sy opstanding te ondervind, al beteken dit dat hy deel moet hê aan Sy lyding (Fil. 3:10).

Paulus verwoord sy allesoortreffende begeerte om Christus te ken, uitnemend met die volgende woorde: “… ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van Sy opstanding te ondervind en deel te hê aan Sy lyding deur aan Hom gelyk te word in Sy dood” (3:8-10).

Mag die lees van hierdie brief jou hunkering om Christus waarlik te ken, wakker maak en rig! Dan sal jy blydskap, ware vreugde, ervaar! Dan sal jou geluk verdiep tot blydskap en jy sal, ongeag jou omstandighede, jou kan verbly in die Here!

- Die Bybel in Praktyk, CUM, 1993

Indeks     Index