DIE MIDDELTREK
  Ons ken almal die versoeking om halfpad tou op te gooi. By die wegspring is daar gewoonlik groot geesdrif en baie gewilliges om jou aan te moedig. As die eindpaal eers in sig is, is dit ook nie so moeilik om jou laaste bietjie krag in te span nie.
Maar in die middeltrek - dáár lê die moeilikheid. Die gloed van die wegspringgeesdrif het afgekoel, en die helderheid van die doelwit verdof. Hierdie middeltrek is die moeilikste. Dis hier waar baie verongelukte ondernemings en onuitgevoerde voornemens lê. Moedeloosheid, wat so algemeen by die mens is, laat hom lus voel om tou op te gooi.
Dit was in Nehemia se tyd al so. By al die moeilikhede waarmee hy te doen gekry het toe hy die mure van Jerusalem herstel het, moes hy steeds teen hierdie gevaar waak. Sy werksmense het telkens gedreig om hom in die steek te laat omdat dit nie vir hulle gelyk het of hulle ooit met dié groot onderneming sou klaarkry nie. “Ons kan aan die muur nie bou nie,” het hulle gesê. “Ons krag beswyk. Die puinhoop is te groot.”
In die dagboek van die seevaarder Columbus is daar één sinnetjie wat meer dikwels as enige ander voor-kom: “Vandag het ons voortgevaar.” NIE: “Vandag het ons land gesien” nie.
Om voort te vaar sonder om land te sien, is die toets vir volharding.
Dis op elke gebied van die lewe so. Dis so met die skilder wanneer hy aan sy skildery werk; met die predikant wat sy preek voorberei, met die maat-skaplike hervormer in sy stryd teen euwels, die sendeling in sy arbeid op die voorposte. Dis die aanhou wat tel.
Dis in die middeltrek dat die hart dwing om in die skoene te sak. Dit geld ook die middeljare van die mens se lewe. Dis in dié tydperk, wanneer die gebou van die lewe nog halfklaar is, dat die mens die meeste las van neerslagtigheid het. Sy lewe begin eenselwig en doelloos lyk - hy raak moedeloos...
Maar die neerslagtigheid, die moede-loosheid kán oorwin word. Hy kan 'n nuwe wêreld ontdek as hy net doelbewus voortvaar.
Laat ons onthou dat God in Sy Woord aan ons sê: “Ek is die begin en die einde, die Alfa en die Oméga.” Hy gaan met ons regdeur van A tot Z en sal ons by die middeltrek nie in die steek laat nie! Hy is nie net 'n God wat troon op die berge van verheerliking nie, maar 'n God van liefde wat naby ons is, ook in die valleie van eentonigheid, roetine en teleurstellings.

[Uit: 'n handdruk in die herfs, dr. H J Piek, NG Kerk-Uitgewers].

Indeks     Index