"HERE, AS U "NIKS" KAN GEBRUIK..." | |
  |
By geleentheid het Kathryn Kuhlman ge-bid: “Lord, if You can use nothing, here am I.” En dit is presies wat die Here soek! Hy is voortdurend op soek na “nikswees-mense”, deur wie Hy Sy werk op aarde kan doen. Hy deel Sy eer met niemand nie en geen mens is bevoeg om eer te hanteer nie. Ons moet voortdurend die fokus op Hóm laat val. Laat ons vir 'n wyle die woorde van Jesus in Matt. 5:3 oorpeins: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” In Luk. 6:20 staan geskrywe: “Salig is die armes.” Bedoel Jesus letterlik hier die armes? Indien wel, sou dit beteken dat alle arm mense hemel toe gaan! Nee, 'n mens kan arm wees sonder dat hy “arm van gees” is. Armoede is ook geen waarborg vir geestelikheid nie. Jesus bedoel hier ook nie die swaksinniges nie. Die Griekse woord vir “armes” hier is ptochoi. Hierdie woord beskryf nie bloot 'n arme nie, maar die een wat heeltemal brandarm of hulpbehoewend is. Hy het glad niks nie. Daarom word hierdie woord ook gebruik vir “bedelaar”. In die Ou Testament is die Hebreeuse woord vir arme ani. Hierdie woord se betekenis het deur verskillende ontwikkelingstadiums gegaan, maar dit het uiteindelik beteken die wat arm en getrou is, wat geen hulp op aarde het nie, en wat homself in volle vertroue aan God verbind het. Daarom sê die Psalmis: “Hierdie ellendige (ani - ook arme) het geroep en die HERE het gehoor, en Hy red hom uit al sy benoudhede” (Ps. 35:10; 40:17; 72:2). Bring die Grieks en Hebreeus bymekaar en “armes” beteken die persoon wat sy eie onbevoegdheid en onwaardigheid en afhanklikheid van God besef en sy volle vertroue in Hom stel. Dit beskryf die persoon wat tot die volle besef gekom het dat die lewe oorweldigend is - hy het God se hulp en krag nodig: elke dag, oomblik na oomblik. Hy plaas sy volle vertroue in God. Hy is ten volle afhanklik van God. Spreuke 3:5 verklaar: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Om “arm van gees” te wees, beteken om van hoogmoed en selfverheffing gestroop te wees. Die Nuwe Vertaling stel dit so mooi: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3). 'n Mens wat tot hierdie besef gekom het, word soos klei in die hand van die Skepper. God skep ex nihilo (Latyn vir “uit niks”). Wanneer ons niks word voor Hom, kan Hy nuwe dinge deur ons tot stand bring. Jesus kan slegs daardie hart vul wat leeg is van die self. Die persoon wat homself verloën het, die “ek” gekruisig het, word arm van gees - daar is niks in homself waarop hy kan roem of vertrou nie. Hy kan slegs maar op God vertrou. God soek mense wat soos Kathryn Kuhlman sal bid: “Lord, if You can use nothing, here am I.” En dit nie net te bid nie, maar dit te wees. Dan sal slegs God die eer kry wanneer Hy groot dinge deur jou vermag, en sal jy tot groot seën vir ander mense kan wees! © Dr. JJ Venter |