JY, STOFMENS, SAL NOOIT STERWE NIE | |
  |
Lees Johannes 11:17-32; 1 Korintiërs 15:35-58. Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? (Joh. 11:26). Wanneer al die sonne en sterre en nebulae uitgebrand het, sê CS Lewis, sal jy nog leef. Wanneer die sewentig of tagtig jaar van ons sterflikheid verby is, gaan ons die ewigheid binne. Die aarde is 'n lanseerplek vir die ewigheid; ons klein aardse bestaan is die duikplank vanwaar ons in die bodemlose tyd en ruimte van die ewige lewe moet spring. Elke denkende mens dink na oor die tyd ná sy aardse bestaan. Elke gelowige peins oor die groot ont-moeting met sy Skepper. Diep in die siel van elke mens is daar ook onrus: hierdie kan tog nie die einde wees nie. Wat gebeur met my wanneer ek sterf? Jesus het aarde toe gekom om die antwoord vir ons te kom gee. Daar is geen dood nie, sê Hy. Nie as jy 'n kind van God is nie. Dat die koringkorrel van ons aardse liggaam in die grond moet val, moet sterf en in 'n nuwe gestalte uit die dood moet opstaan, is onvermydelik. Vlees en bloed kan nie aan die Koninkryk van God deel kry nie. Almal sal verander word: die sterflike liggaam sal met die onsterflike beklee word; die verganklike liggaam sal in 'n onverganklike liggaam verander word (1 Kor. 15:50-54). Vir dié wat op aarde agterbly, lyk dit na dood, want vir aardbewoners is die lewende, aardse liggaam sinoniem met lewe. Vir God is die dood van die aardse liggaam die afstroop van die verganklike kleed waarin die onsterflike siel gewoon het; dit is die afgooi van ou vodde voordat die onsterflike siel met sy nuwe, stralende en onverganklike kleed - die nuwe liggaam wat vir ewig leef - beklee word. Maar daar is net één groep mense wat met hierdie hemelse kleed - met geluksalige onsterflikheid - beklee word. Dit is hulle wat glo dat Jesus Christus die Redder is; dit is hulle wat Hom liefhet en eer as Verlosser van die wêreld, wat Sy beloftes glo! IS JY EEN VAN DAARDIE GROEP? Gebed: En so, Here, staan ek nou uiteindelik voor U: diep onder die besef dat U die lug wat ek inasem, vir my gee; dat elke hartklop in my borskas deur U gewil word. Maar ek staan ook hier met die wete dat my ewige bestemming van U afhang; dat ek nie deur verdienste op die ewige lewe aanspraak kan maak nie. U is my enigste hoop. Ek eer U en prys die Naam van my Redder. Amen. [Uit: Beloftes van Reën en Dou, Maretha Maartens, Aktuapers, 1996]. |