GELUK IS IN ONSELFSUGTIGHEID TE VIND...
  Geluk is om ‘n einde te maak aan selfsug; om te leer om soos Paulus te sê: Ander eerste, dán ekself. Ongelukkig is dit ‘n lewensles wat ons nooit vanself leer nie. Maar dit is die fondament waarop die Christelike geloof berus: dat ons mekaar sal liefhê. “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat,” skryf Paulus aan die gemeente in Galasië. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Gal. 5:14).
Ons is almal van nature selfsugtig. Dit is vir ons onmoontlik om lief te hê met ‘n liefde wat niks vra nie, maar bereid is om alles te gee - ‘n liefde soos dié wat God vir ons in Jesus se lewe en dood kom illustreer. Hierdie liefde is sekerlik die moeilikste, nee, die onmoont-likste eis wat God aan mensekinders stel!
Maar gelukkig los Hy ons nie om dit alleen reg te kry nie - Hy belowe om ons deur Sy Heilige Gees te hulp te kom.
“Moenie net aan julleself dink nie… Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink” (Fil. 2:3, Die Boodskap).
Hoe sou jy vaar in Jesus se toets: Kry jy dit al reg om ander mense nét so lief te hê soos wat jy jouself het? En GOD die liefste?
[Uit: Vonkelvreugde, Nina Smit, Carpe Diem Media, 2008].

Indeks     Index