SIMFONIE
  Die begrip “simfonie” word deur die HAT beskryf as: “Veelstemmige musiekstuk vir stryk- en blaasorkes met verskeie gekontrasteerde, maar verwante bewegings…”, asook “Mooi saampassende geheel…” Die Oxford English Dictionary beskryf dit so: “The word symphony is derived from the Greek word ‘sumphonia’ (s?µf???a), meaning “agreement or concord of sound”, “concert of vocal or instrumental music”, and from ‘sumphonos’ (s?µf????), ‘harmonious’.”

In eenvoudige taal gestel, kan ons met reg aanvaar dat die woord “simfonie” dui op ‘n orkes of stemme wat saamvloei om in pragtige harmonie te wees. As slegs maar net één instrument nie reg ingestel is nie, kan dit die hele orkes se eenheid en harmonie belemmer. Een vals stem kan die hele musiekstuk of koorstuk verongeluk.

In Matt. 18:19-20 lees ons die woorde van die Here Jesus: “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van My Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in My Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Die woord “saamstem” is ‘n vertaling van die Griekse woord ‘sumphoneo’ (s?µf??e?), waarvandaan ons woord “simfonie” herlei is, soos hierbo bespreek. Dit beteken dus letterlik “om saam te klink” (“to sound / harmonize together”), “om saam in harmonie te kom”.
Hoe vind ons hierdie harmonie in gebed? Slegs deur die Heilige Gees wat Jesus Christus vir ons gestuur het. Jesus sê: “…maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in My Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26). En verder: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei...” (Joh 16:13).

Slegs húlle wat vervul is met die Heilige Gees, kan in harmonie (sumphoneo) saambid, omdat hulle eenheid nie ‘n menslik geproduseerde eenheid is nie, maar deur die Heilige Gees is hulle één in gebed. Daarom sê Paulus: “...maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin” (Fil. 2:2).

Wanneer ons harte saamgebind is deur die Heilige Gees, slegs dán kan ons “sáámklink” (“sound / harmonize together”). Daarom sluit Judas 1:20 hierby aan: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid.”

Die essensie van die saak is dit: Om in harmonie saam te kan bid sodat God ons gebed sal hoor, is dit van uiterste belang dat ons éérs individueel by God uitkom. Éérs moet elkeen as individu met God in harmonie wees in persoonlike gebed. Sodoende kom ons in harmonie met die Heilige Gees en met mekaar. Daarom sê Jesus in ons teks: “Want waar twee of drie in My Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”

Dit beteken nie dat twee of drie sommer lukraak ‘n gebedjie bid nie, of dat een bid en die ander stem maar net oppervlakkig saam nie. Of dat gelowiges, twee of drie, bymekaar kom om diens te hou nie. Maar wanneer elke indivi-duele gelowige ‘n lewende ver-houding met God het en elkeen, vervul met die Heilige Gees, in Sy Naam vergader, sal daar ‘n korporatiewe salwing wees wanneer ons saambid. En dít is effektiewe gebed! Hier moet ons onsself afvra: Hoe lyk my per-soonlike gebedsverhouding met God? As ons só kan sáámbid, kan ons ook in harmonie saam aan-bid, saam die vloei van die Heilige Gees ervaar, en saam in die teen-woordigheid van God kom. Sodoende kan ons lewens sáám ‘n simfonie vir God wees. Laat ons ons dan beywer om God só welbehaaglik te wees!
Dr. JJ Venter

Indeks     Index