GOD STRAF MAGSVERGRYPE

  Mag, magsvertoon en magsmisbruik is geen vreemde verskynsels in ons wêreld nie.

Magsmisbruik gaan meestal met geweld gepaard. Hoe meer geweld toegepas word, hoe meer ongevoelig en arrogant raak die mense wat dit afdwing. Hulle glo naderhand dat dit reg is om so op te tree en dat hulle aan niemand verantwoording verskuldig is nie.

Daarenteen verloor die mense wat gewelddadig behandel word dikwels alle hoop en raak apaties, omdat hulle glo dat daar vir hulle geen uitkoms is nie. Die gevolg daarvan is 'n geweldskringloop waaraan niemand blykbaar iets kan doen nie of oënskynlik van kan ontsnap nie.

In presies so 'n situasie ontvang Nahum sy profesie. Hy is iemand wat onder die mag en geweld van die Assiriërs deurgeloop het. Assirië was gedurende die sewende eeu v.C. die magtigste land op aarde. Daarom het hulle nasies met geweld aan hulle onderwerp, stede geplunder en die inwoners eenvoudig uitge-moor of weggevoer na vreemde lande toe.

Nahum was so 'n balling in 'n vreemde land en 'n vreemde stad. Vanuit die Assiriese hoofstad profeteer hy nou dat hulle mag verbreek gaan word deur IEMAND wat sterker as hulle is.

Hierdie boodskap dat die mag-hebbers se mag verbreek gaan word en dat die geweldenaars self onder geweld sal deurloop, word as troosboodskap gestuur aan medeverdruktes in Juda. Dit moet vir hulle hoop gee vir die toekoms, en ook hulle geloof versterk dat God die Almagtige is. Daarom kan en sal Hy ingryp om hulle toestand te verander.

Die troos vir die mense in Juda is nie alleen daarin geleë dat die verdrukkers onder wie hulle soveel ly, se mag verbreek gaan word nie, maar ook in die wete dat God in beheer van die geskiedenis en van die lotgevalle van alle mense is.

Die opskrif van die Bybelboek Nahum (1:1) dui aan dat hierdie openbaring aan Nahum die Elkosiet 'n oordeelsaankondiging teen Ninevé bevat. Daarna volg 'n aanhaling uit 'n alfabetiese gedig (1:2-8) waarin die Here se mag oor die natuur en Sy voorneme om Hom op Sy teenstanders te wreek, uitgespreek word. In Nahum 1:9-14 word Ninevé geïdentifiseer as die voorwerp van die Here se wraak. Die volgende rede word aangevoer waarom die Here dit gaan doen: "Daar het een uit jou gekom, Ninevé, wat kwaad bedink teen die Here, planne wat nie sal slaag nie."

Die goeie nuus van verlossing aan Juda en die terugkeer van die noordelike stamme word in Nahum 1:15-2:2 verkondig. Daar-na volg 'n dramatiese beskrywing van 'n leërmag wat Ninevé aanval, verower en plunder (2:3-13). Die beskrywing sluit af met spottende vrae aan Ninevé en 'n persoonlike dreigement van die Here.

Die laaste deel van Nahum (3:1-19) handel oor die ondergang van Ninevé binne die konteks van die nasies. Ninevé word as 'n prostituut voorgestel wat die nasies mislei het, en as gevolg daarvan deur die Here aan die volke ontbloot sal word. Net soos Assirië die hoofstad van Egipte verwoes het, sal Ninevé ook verwoes word (Nahum 3:8-10). In die laaste twee verse van die boek sing die volke wat onder die wreedhede van Assirië gely het, 'n spotlied oor Ninevé se ondergang.

Wanneer jy hierdie boek lees, sal jy sien dat God nie magsmisbruik en geweld duld nie. Skaars veertig jaar nadat hierdie profesie uitge-spreek is, het die Babiloniërs en hulle bondgenote Ninevé verwoes. Daarom moet mense in magsposisies weet dat hulle verantwoording aan God moet doen oor die wyse waarop hulle hul mag gebruik. God se regverdige oordeel bring vandag nog uitkoms vir die mense wat onregverdig en met geweld onderdruk word.

BETEKENIS:
Niemand op aarde kan weerstand bied teen die Here God, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde nie. God, wat die son, die heelal en alles wat daar is, beheer, beheer ook die opkoms en die val van nasies en volke. Wanneer Hy verskyn, is dit om geregtigheid te laat geskied. Die Here is lankmoedig en goed vir diegene wat op Hom vertrou, maar Hy vernietig almal wat op hulle eie mag vertrou en hulle mag misbruik.

[Uit: Die Bybel in Praktyk, Red. Wil Vosloo en Fika J van Rens-burg, CUM, 1993].

Kom elkeen van ons bid opnuut met erns en volharding vir ons land, sodat God die magsvergrype en arrogansie op alle terreine sal uitwis en ons almal in vrede sal kan saamleef! - Red. Goeie Nuus


Indeks     Index