ONBEANTWOORDE GELOOF

  "Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: 'Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees en dit gaan sleg.' Maar Hy het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: 'Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.' Jesus antwoord: 'Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.' Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: 'Here, help my!'" (Matt. 15:21-25).

Die verhoog was reg vir 'n wonderwerk. Alles wat nodig was vir Jesus om 'n wonderwerk te doen, was daar.

Eerstens was daar smart, nood - 'n krisis waaraan mense niks kon doen nie.
Tweedens was daar geloof. Hoor net hoe spreek die vrou Hom aan: "Here, Seun van Dawid!" Die benaming "Seun van Dawid" was die Joodse titel vir die Messias. Dit het beteken hierdie vrou het Jesus as die Messias erken. 'n Heidense vrou wat Jesus as die Messias erken! Wat Sy volksgenote nie gedoen het nie, het hierdie vrou gedoen.
Derdens was daar 'n kind in ellende. Hierdie vrou het nie vir haarself kom pleit nie, maar vir haar kind.
Vierdens, en die belangrikste van alles, die Een wat wonderwerke doen, was teenwoordig - Jesus Sélf was daar! Inderdaad was al die bestanddele vir 'n groot wonderwerk aanwesig.

Maar dan gebeur die onverstaanbare, die onverklaarbare! Jesus antwoord haar nie eens nie. Geen woorde van bemoediging of troos kom oor Sy lippe nie. Geen gebed tot God, geen aanraking nie! Hy steur Hom skynbaar nie eens aan haar nie. Die ore wat gewoonlik so gou is om 'n hulpgeroep te hoor, het oënskynlik doof geraak. Die lippe wat gewoonlik heuning vir die behoeftiges drup, is stil. Die fontein waaruit nog altyd strome van seën gevloei het, het skynbaar opgedroog. Die Een wat gewoonlik vra: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?" stel skynbaar nie belang nie.

Hoe dikwels ervaar ons dieselfde. In ons smart roep ons tot die Here - en tog lyk dit of Hy nie hoor nie, of Hy Hom nie aan ons steur nie. Waarom anders antwoord Hy ons dan nie? Maar wag 'n bietjie! Lees hierdie verhaal verder. Kyk hoe dit ontvou... en jy sal beter verstaan!

Here, berei my voor vir 'n wonderwerk! Amen.

LAAT NIEMAND JOU KEER NIE

So anders as gewoonlik, sê Jesus niks vir hierdie vrou wat by Hom pleit ter wille van haar dogter wat in die mag van 'n bose gees was nie. Sy het egter nie opgehou roep nie - so anders as ons wat na die eerste of tweede probeerslag sommer moed opgee. Sy het aangehou, totdat die dissipels later geïrriteerd vir Jesus vra om haar weg te stuur, "want sy hou aan met skreeu hier agter ons" (Matt. 15:23). Soos met die vermeerdering van die brood, toe die dissipels net van die skare ontslae wou raak, is daar by hulle geen diep medelye met en ware omgee vir hierdie vrou nie.

Daar is 'n hele paar dinge wat ons by hierdie vrou kan leer. Een daarvan is om nie toe te laat dat ander - veral dié wat rondom Jesus is - ons keer nie. Hier was dit die mense naaste aan Jesus - Sy dissipels - wat vir haar 'n struikelblok was, wat wou keer dat sy iets van Jesus ontvang. Ons hoor dit deesdae meer as ooit tevore: dat Christene, kerkmense, verantwoordelik is daarvoor dat ander niks meer met die Here of met die kerk te doen wil hê nie. Mohandas Gandhi se woorde eggo die sentiment van vele mense: "Ek sou maklik in Christus kon glo as dit nie vir Christene was nie."

Natuurlik is dit verskriklik jammer en 'n verskriklike aanklag. Maar op die ou end kan nie een van ons ander verantwoordelik hou vir dit wat ons nie van die Here ontvang het nie. Hierin stel dié vrou vir ons 'n voorbeeld: Haar behoefte aan die Here was so groot dat sy haar nie laat ontsenu of laat afsit het nie - nie eens deur die dissipels nie. Volg haar voorbeeld. Moenie toelaat dat enige Christen, ouderling of leraar jou ontmoedig nie. Hou aan roep tot God - totdat jy Sy antwoord kry!

Help my, Here, dat mense my nie van U af weghou nie. Amen.

WAAROM HET HY STILGEBLY?

Na Sy aanvanklike stilswye en die aandrang van Sy dissipels om die vrou weg te stuur, gee Jesus nou die rede vir Sy stilswye - of altans, só lyk dit. Hy het 'n sekere opdrag van Sy Vader gehad. In Matteus 10:5 het Jesus reeds vir Sy dissipels die bevel gegee om nie na die heidennasies te gaan nie, maar "na die verlore skape van die volk van Israel". Die opdrag was duidelik: Eers die Jode, dan die heidene. Jesus het nog nie gesterf nie. Die voorhangsel het nog nie middeldeur geskeur nie. Die muur van skeiding was nog nie afgebreek nie (Ef. 2:14). Die wilde olyftak was nog nie op die mak olyfboom se stam ingeënt nie. Handelinge 1:8, wat die opdrag gee dat die Evangelie tot aan die eindes van die aarde geneem moes word, is nog nie uitgespreek nie.

Ten diepste kan ons egter aanvaar dat dit nie die eintlike rede vir Jesus se aanvanklike stilswye was nie. God het immers reeds in die Ou Testament vir die heidene wonders gedoen. Dink maar aan Naäman, 'n Siriër, wat van sy melaatsheid genees is. God het toe reeds gewys dat Sy genade ook die heidene insluit. Dink net aan die Assiriese stad Ninevé wat Hy gespaar het toe hulle hul bekeer en hulle in sak en as voor Hom verootmoedig het.

Selfs Jesus het voor die tyd al vir die heidene wonderwerke gedoen. Dink aan die besetene van Gadara, 'n stad in Dekapolis in Sirië. Nee, daar was 'n ander rede vir Sy aanvanklike stilswye. Hy, wat alles geweet het, het geweet dat hierdie vrou 'n uitstaande geloof gehad het, 'n geloof wat 'n voorbeeld vir Sy dissipels en vir alle gelowiges deur die eeue heen sou wees. En dit sou weldra duidelik word...

Open my oë, Here, sodat ek kan leer wat ware geloof in U is. Amen.

LEER BY 'N HEIDENVROU

Stel jou voor jy staan in hierdie vrou se skoene. Jy het 'n groot smart in jou huis - jou dogter is erg onder die invloed van 'n bose gees. Jy het van Jesus gehoor, dat Hy graag genade betoon en wonders doen vir mense in nood. Jy hoor dat Hy in jou stad is en gaan soek Hom. Wanneer jy Hom vind, roep jy gelowig na Hom en bely dat Hy die Messias is. Maar dan ignoreer Hy jou! Hy antwoord jou nie eens nie. Dan raak jy lastig in die oë van Sy dissipels, en hulle vra Hom om jou weg te stuur. Sy antwoord is ontmoedigend. Hy sê dat Hy nie vir heidene, vir mense soos jy, gekom het nie, maar vir die uitverkore volk, die Jode.

Hoeveel van ons sou daarna steeds probeer het? Steeds gevra het? Wie sou dan nog aangehou bid en glo het? Hierdie vrou het! Ons kan aflei dat Jesus hierdie "verskoning" - dat Sy bediening tot die Jode beperk was - net gebruik het om aan Sy dissipels en aan ons almal te wys wat ware geloof is - volhardende geloof - geloof wat nie moed opgee nie. Hy wou ons ook wys hoe 'n mens moet optree wanneer jou gebed oënskynlik nie dadelik beantwoord word nie. Miskien het ook jy al die lering gehoor dat 'n mens net een maal vir die Here moet vra wanneer jy in geloof bid, en dat dit eintlik 'n teken van ongeloof is om meer as een keer te vra. Nadat jy gevra het, moet jy net in die geloof dankie sê. Hierdie vrou het egter nie van hierdie opvatting geweet nie. Sy het geweier om deur enigiets of enigiemand afgesit te word. Leer by haar.

Here, ek skep moed en wil met nuwe vasberadenheid my versugtinge na U toe bring. Amen.

PRAGTIGE SKAAMTELOOSHEID

Hoeveel van ons sou ná hierdie desperate, gelowige, maar futiele pogings om 'n wonderwerk van die Here te ontvang, steeds aanhou vra het? Hierdie vrou gaan selfs nog verder. Haar smeking word meer intens. Sy openbaar nou wat Johannes Chrisostomus, die bekende Kerkvader uit die vyfde eeu, "pragtige skaamteloosheid" genoem het. Sy kniel voor Jesus neer. Die 1953-vertaling sê sy het voor Hom neergeval. Sien die beeld, daar in 'n stofstraat in antieke Tirus: 'n vrou wat haar smekend verneder in die stof aan die voete van Jesus. Haar smart is só groot, haar desperaatheid só intens: "pragtige skaamteloosheid!"

'n Mens voel amper dat hierdie twee woorde nie saam gebruik kan word nie. Kan skaamteloosheid pragtig wees? Is dit reg dat 'n mens so knaend by die Here kan aandring op iets? Of kan dit wees dat juis dít geloof in die uiterste vorm is, en dat dít die Here nie aanstoot gee nie? Die einde van hierdie verhaal bevestig dit inderdaad.


Daar is 'n algemene persepsie onder baie dat 'n bulhond nie sommer los as hy eers vasgebyt het nie. Mense glo dat hierdie honde se kake as't ware sluit wanneer hulle vasbyt. Dis waaraan hierdie vrou se desperaatheid en geloofsvolharding my laat dink. Sy was desperaat genoeg om Jesus in die geloof vas te gryp, net soos Jakob wat daar by Jabbok met die Engel geworstel en gesê het: "Ek sal jou net los as jy my seën" (Gen. 32:26). Jesus sou uiteindelik te kenne gee dat Hy nie aanstoot geneem het nie, maar dat Hy eerder in verwondering oor haar geloof gestaan het.

Ek wil U - onbeskaamd en desperaat - vasgryp in die geloof, my Here. Amen.

WANNEER KOM DIE WONDER?

"Hy sê vir haar: 'Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.' 'Dit is waar, Here,' sê sy, 'maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.' 'Mevrou,' sê Jesus vir haar, 'jou geloof is groot. Jou wens word vervul.' Van daardie oomblik af was die dogter gesond" (Matt. 15:26-28).

Ten spyte daarvan dat dit lyk of Jesus die rug op hierdie vrou draai, het sy skynbaar vir haarself gesê: "Ek sal my nie opruk omdat ek nie 'n antwoord gekry het nie. Ek sal my nog verder verneder, hier in die stofstraat van Tirus."

Dink aan hierdie ongewone toneel: 'n Vrou, 'n heiden, kniel in die stof voor 'n Joodse man neer. Sy breek deur alle grense en beperkings. Haar woorde is nou min. Diepe smart het immers nie baie woorde nodig nie: "Here, help my!" (Matt. 15:25).

Die getal woorde in ons versoeke aan die Here is dikwels 'n teken van die intensiteit en grootheid van ons smart en nood. Wanneer die smart regtig groot word, word die verootmoediging meer intens, en die woorde dikwels minder. Met so 'n groot versoek, en so 'n volhardende geloof, sou 'n mens sekerlik 'n deernisvolle respons van Jesus verwag. Maar Sy woorde laat 'n mens steier; dit wil jou as't ware in verontwaardiging en teleurstelling laat wegstap: "Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie" (Matt. 15:26).

Wat sy van Hom gehoor het en nou ondervind, is twee verskillende dinge! Waar is die genade en barmhartigheid, die medelye vir mense wat swaarkry, al Sy liefdevolle eienskappe waarvan sy hier in haar land gehoor het? Om darem deur Hom 'n hondjie genoem te word! Maar wag, moenie te gou ontmoedig word nie. Met alles wat hier gebeur, het Jesus 'n doel. Christus is besig om Sy dissipels, en vir my en jou, 'n belangrike les in geloofs- en gebedsvolharding te leer.

Dankie vir 'n voorbeeld wat my die moed gee om nie tou op te gooi nie, Here. Amen.
JA, HERE!

Die boodskap wat Jesus aan hierdie vrou wou oordra, is duidelik: Die "kinders" is die Jode, en die Jode het die heidene "honde" genoem. Alhoewel Jesus die kwetsing daarvan ietwat versag deur haar hondjie te noem, was die sinspeling ondubbelsinnig. Die "brood" verwys duidelik na Jesus Self. Hy word die "Brood van die Lewe" genoem.

Asof haar ontmoediging nie reeds erg genoeg was nie! Eers is sy geïgnoreer, toe sê Jesus dat Hy eintlik vir die Jode en nie vir die heidene gekom het nie, en nou kry sy hierdie afjak, hierdie belediging - om met 'n hond vergelyk te word! Wie sou dit kon verdra? Wel, hierdie vrou het - en nie sonder rede nie! Luister na haar antwoord: "Dit is waar, Here" (Matt. 15:27).

Die 1953-vertaling sê sy het vir Hom gesê: "Ja, Here." Na hierdie krenkende antwoord van die Here word sy nie opstandig nie. Sy ruk haar nie op nie. Al maak dit seer, erken sy dat dit waar is - omdat die Here dit sê. "Ja, Here."

As meer van ons maar "ja" wou sê vir die Here en Sy Woord! Ek dink nou aan die ryk man in die vlamme van die doderyk. Hy wou hê Abraham moet vir Lasarus vanuit die dood stuur om sy broers op aarde te waarsku, omdat hulle op pad was hel toe. Toe Abraham hom daaraan herinner dat hulle Moses en die profete (die Bybel) het om te lees, was sy antwoord: "Nee, vader Abraham" (Luk. 16:30). "Nee," vir die Bybel. "Nee," vir die Woord van God!

Die gevaarlikste woord om ooit uit te spreek, is om vir die Here "nee" te sê!

Vergewe my vir elke keer wat ek "nee" gesê het vir U Woord, Here. Ek wil altyd na U luister. Amen.

DIT IS WAAR

Nie alles wat die Here in Sy Woord vir ons sê en oor ons sê, is vir ons aangenaam om te hoor nie. Vir die onbekeerde is dit nie lekker om te hoor dat die Bybel sê hy of sy is 'n sondaar en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Rom. 3:23).

Dis nie strelend vir mense wat in die een of ander boosheid vasgevang is om te hoor dat hulle die Koninkryk van God nie as erfenis sal verkry nie (Gal. 5:21). Toegewyde, maar ongeredde godsdienstiges wil nie hoor dat hulle die Koninkryk van God nie sal sien as hulle nie weergebore word nie (Joh. 3:3).

Vir dié wat hulleself as volgelinge van Jesus beskou, kan dit ontmoedigend wees om te hoor dat iemand wat sy of haar hand aan die ploeg slaan en steeds omkyk agtertoe, nie geskik is vir die Koninkryk van God nie (Luk. 9:62).

Hoe dikwels lees ons die Bybel met ons eie "filter". Ons onthou dié woorde wat ons troos wanneer ons in die moeilikheid is. Ons skryf die beloftes van die Here op kaartjies neer en plak dit teen die yskasdeur of spieël vas. Ons onderstreep dié verse in die Bybel wat vir ons soet op die oor val. En dit alles is reg. Maar wat van die woorde wat ons vermaan oor ons geskinder en ons liefdeloosheid teenoor ander? Wat van daardie verse wat ons waarsku teen ons wêreldsheid en afvalligheid van God? En wat maak ons met Jesus se bergrede wat die waardes en beginsels van Sy Koninkryk vir ons uitspel?

Here, ek buig voor die gesag van U Woord en erken alles wat U vir my sê as die waarheid. Amen.

NET 'N KRUMMEL


"'n Vrou wie se dogtertjie van 'n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor Sy voete neergeval. Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. Maar Hy het vir haar gesê: 'Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.' Sy het Hom geantwoord: 'Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet'" (Markus 7:25-28).

"Ja, Here, ek erken U Woord. U uitspraak oor my is waar. Ek erken ek is 'n hondjie. Ek erken ek is 'n heiden. Ek erken ek is nie een van die uitverkore volk, die Jode, die kindertjies, nie. Ek wil ook nie die kindertjies se kos hê nie."

"Ek vra ook nie dat U moet afwyk van die wil van die Vader en nou die kindertjies se brood vir 'n hondjie moet gee nie. Maar, Here, U self het gesê daar is 'kinders' en daar is 'brood'. Het U al ooit kindertjies gesien brood eet sonder dat daar 'n paar krummeltjies val?"
"Ek vra nie vir 'n hele brood nie, nie eens vir 'n sny nie. Net maar 'n krummeltjie. As daar kinders is en daar is brood, is daar altyd krummeltjies. En die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval." "Hulle sal die krummeltjies nie eens mis nie, maar vir my is dit genoeg. Dis al waarvoor ek vra. Een krummel van die krag en genade van U tafel sal die duiwel uit my dogter uitdryf. Één krummel is genoeg, Here. Net een krummel!"

Die woorde van die ou evangeliese gesang kom by my op: "Een druppel bloed kan red my siel; maak my gebroke hart weer heel; een druppel net van U gena', vir my gestort op Golgota." Kyk wat doen hierdie vrou.

Martin Luther het gesê sy het Jesus met Sy eie woorde gevang; sy het die swaard uit Sy hand geneem. Sy moes tussen Sy woorde rondkrap, tussen die reëls lees, om net ietsie te kry om aan vas te hou. En sy hét dit gekry.

Net 'n krummel sal ook vir my genoeg wees, o Here! Amen.

TUSSEN DIE REËLS

"Toe sê Hy vir haar: 'Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.' Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit" (Markus 7:29-30). Jesus wou vir Sy dissipels, en vir alle gelowiges deur die eeue heen, wys hoe vasbeslote geloof behoort te wees. Hy het van die begin af hierdie vrou se onwrikbare geloof raakgesien, en 'n paar struikelblokke op haar pad na 'n wonderwerk geplaas.

Maar feitlik ongemerk, hoewel met opset, het Hy vir haar 'n gaping gelos. Hy het nie 'n belofte met hoofletters vir haar uitgespel nie. Hy het dit nie opsigtelik neergeskryf nie. Subtiel, tussen die woorde en begrippe wat Hy gebruik het, het Hy die stukkie geloofsbelofte vir haar weggesteek. En sy het dit raakgesien! Sy het dit gekry!

Haar geloof, haar desperaatheid, haar deursettingsvermoë het haar laat deurdruk tot daar.

Sy het nie, soos ek en jy, talle beloftes gehad om aan vas te hou nie. Daar was nie vers op vers en hoofstuk op hoofstuk om te bely en aan te haal nie.

Net 'n krummel. Net 'n halwe woord. 'n Halwe kans. Weggesteek tussen die reëls. Maar sy het dit raakgesien, vasgegryp, en daaraan vasgehou!

Slegs twee keer in die Evangelies word Jesus deur iemand se geloof beïndruk - en al twee kere was dit die geloof van 'n heiden, en nie van 'n Jood nie, wat Hom beïndruk het. Die een keer was dit die offisier van Kapernaum wat vir sy siek slaaf by Jesus laat intree het, en nou hierdie vrou.

"Jou wens word vervul." Die 1953-vertaling sê: "Laat dit vir jou wees soos jy wil hê."

Waar sy eers oënskynlik tevergeefs om 'n krummel moes pleit, gee Jesus haar nou as't ware die sleutels van die bakkery! "Van daardie oomblik af was die dogter gesond" (Matt. 15:28).


Nou verstaan ek, Here! Daar is vir my meer as 'n krummel. Ek het U - die Brood van die Lewe! Amen.

[Uit: Die Jesus Bybel, Isak Burger, Carpe Diem Media, 2010
www.carpediem.co.za
Tel: 016 982 3617].


Indeks     Index