DIE STRANDLOPERTJIE | |
![]() |
|
  |
Sy was maar 'n skamele 6 jaar oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het... Ek gaan gewoonlik strand toe elke keer as die wêreld vir my te klein begin word. Sy was besig om 'n sandkasteel of iets te bou, en toe sy opkyk, kyk ek in die pragtigste blou oë, so blou soos die see self. "Hallo," sê sy. Ek antwoord met 'n knik van die kop, nou nie juis in 'n bui om gepla te word deur 'n klein dogtertjie nie. "Ek bou," sê sy. "Ja, so sien ek. Wat bou jy?" Ek gee nie juis om wat sy bou nie. "Aag, ek weet nie, ek voel maar net lus om in die sand te speel." Die idee trek my nogal aan, en ek trek my skoene uit. 'n Strand-lopertjie vlieg verby. "Dis 'n vreugde," sê sy. "Dis 'n wat?" "'n Vreugde! Mamma sê dat 'n strandlopertjie vir 'n mens vreugde bring." Die strandlopertjie verdwyn oor die duin. "Tot siens, vreugde," mompel ek vir myself, "hallo, pyn!" Ek draai om om te loop. Depressie het aan my geknaag - my lewe was 'n gemors! "Wat is jou naam?" Hierdie dogtertjie gaan nie maklik tou opgooi nie. "Robert," sê ek, "Robert Peterson." "Ek's Wendy" ek is ses." "Hallo, Wendy." Sy giggel. "Jy's snaaks," sê sy. Ek lag, ondanks die donker wolk wat oor my gemoed hang, en ek stap aan. Haar giggel-laggie volg my. "Kom weer, meneer P," skree sy, "kom sodat ons nog 'n gelukkige dag kan hê!" Ná 'n paar dae van onbeheerbare Boy Scouts, frustrerende vergaderings en 'n ou kranklike moeder, het die son een oggend so vrolik geskyn dat ek die skottelgoedwater van my hande afgeskud het, en vir myself sê: "Robert, jy het 'n strandlopertjie nodig." Die heerlike soutseelug wag vir my, en ek gryp my jas. Die windjie is ysig, maar ek stap aan en probeer die rustigheid van die strand indrink, daardie rustigheid wat ek so nodig het. "Hallo, meneer P," roep sy my, wil jy kom speel?" "Wat het jy in gedagte?" Ek voel vieserig vir hierdie inbreuk op my gedagtes. "Aag, ek weet nie "Wat dink jy?" "Wat van kennetjie?" vra ek half-sarkasties. Haar laggie weerklink oor die strand. "Ek ken nie daai speletjie nie." "Nou dan loop ons net." Ek kyk af na die lewendige figuurtjie, en ek kan nie help om die delikate bleek gesiggie raak te sien nie. "Waar bly jy?" "Daar anderkant," sê sy, en beduie in die rigting van 'n paar vakansiehuise. Dis snaaks, dink ek - om in die winter in vakansiehuise te kom bly - "En waar gaan jy skool?" "Ek gaan nie skool toe nie - Mamma sê ons is met vakansie." Sy babbel aanmekaar terwyl ons stap, maar my gedagtes is ver weg. Toe ek haar later groet, sê Wendy dat dit 'n lekker dag was. Ek glimlag vir haar - snaaks genoeg voel ek ook beter. Drie weke later hardloop ek na my strand toe. Dinge het nou te veel vir my geraak, en ek is nie in 'n bui om vir Wendy te groet nie. Ek sien iemand op die vakansiehuis se stoep sit - seker Wendy se ma - en ek voel asof ek vir haar wil skree: "Hou jou dogtertjie asseblief vandag tuis!" Ek stap vinnig, maar Wendy haal my in. "Asseblief, nie vandag nie!" snou ek haar toe, "ek wil vandag alleen wees!" Sy lyk vandag onnatuurlik bleek en uitasem. "Hoekom?" vra sy. Ek gaan staan, draai om na haar en skree: "Want my ma is dood!" En skielik wonder ek waarom ek dit vir hierdie kind vertel. "O," sê sy saggies, "dan is dit 'n slegte dag." "Ja," sê ek, "én gister, én eergister, en " aag gaan tog net weg!" "Was dit seer?" Sy kan net nie ophou nie. "Was wát seer?" Ek is moedeloos, met die dogtertjie en met myself. "Toe sy dood is?" "Natuurlik was dit seer!" kap ek terug, sonder om die bedoeling agter haar vraag te verstaan. Ek draai om en stap haastig weg, diep ingedagte. 'n Maand of wat later, toe ek weer op die strand kom, was sy nie daar nie. Ek voel skuldig en skaam oor my gedrag, en" ek het haar nogal gemis. Ek stap na die vakansie-huis en klop aan die deur. 'n Vrou maak oop. "Ek is Robert Peterson," sê ek, "ek mis jou dogtertjie vandag, en ek het gewonder waar sy is." "O ja, meneer Peterson, kom in asseblief. Wendy het so baie van jou gepraat. Ek is so jammer dat ek toegelaat het dat sy jou pla. As sy 'n oorlas was - dan vra ek om verskoning." "Aag nee wat, sy is so 'n lewendige dogtertjie." En skielik besef ek dat ek werklik bedoel wat ek sê. "Wendy is verlede week dood, meneer Peterson. Sy het bloedkanker gehad - het sy jou nie gesê nie?" Skielik draai die wêreld om my, en ek gryp haastig na 'n stoel. Ek is sprakeloos. "Sy was so lief vir hierdie strand, en toe sy vra dat ons hierheen kom, kon ek nie nee sê nie. Sy het soveel beter en gelukkiger gelyk. Maar die laaste paar weke het sy baie vinnig agteruitgegaan." Haar stem bewe. "Sy het iets vir jou gelos" as ek dit net kan kry. Sal jy omgee om 'n bietjie te wag - ek soek dit net gou?" Ek knik my kop, ek soek vir woorde, maar hulle ontbreek. Wat sê ek vir hierdie pragtige jong vrou? Sy gee vir my 'n koevert met "MNR. P" in groot kinderletters daarop geskryf. Binne is 'n tekening in helder kleure - 'n geel strand, 'n blou see en 'n bruin voël, en onderaan die woorde: " 'n Strandlopertjie om geluk te bring." Ek kan die trane nie keer nie, en my kliphart wat lankal vergeet het wat dit is om lief te hê, kraak en breek. Ek neem Wendy se ma in my arms. "Ek is jammer, so bitter jammer," is al wat ek kan uitkry, en saam huil ons. Daardie kosbare prentjie is geraam, en hang in my studeerkamer. Ses woorde - een vir elke jaar van haar kort lewe - dit sê vir my iets van harmonie, dapperheid en onvoorwaardelike liefde. 'n Geskenk van 'n dogtertjie met see-blou oë en hare die kleur van die seesand - sy het my geleer van die geskenk van ware liefde" Hierdie ware verhaal is opgeteken deur Robert Peterson. Dit het meer as 20 jaar gelede afgespeel, en dit het sy lewe onherroeplik verander. Ons kan hieruit leer dat ons tyd moet maak vir mekaar, en om die lewe te geniet. Die lewe is so gekompliseerd - die gejaag, en elke dag se probleme en traumas kan maak dat ons fokus verloor en van die dinge wat regtig saak maak, vergeet. Gaan gee vir die mense in jou lewe vir wie jy lief is, vandag 'n ekstra drukkie - net om te sê dat jy omgee en vir hulle lief is. Gaan stap 'n draai in die tuin en ruik aan die blomme. Drink die skeppings-wonder van God in, en gee aan Hom die eer! Wendy het nie toevallig op Robert se pad gekom nie - daar is nie so iets soos toeval nie. Sy was daar met 'n doel. Só bring die Here dinge op ons pad met 'n doel. Soms is dit nie lekker nie, soms raak dit daar diep binne-in, waar 'n waslap nie kan was nie, aan jou hart. Maar sien die hand van God daarin, en dank Hom daar daarvoor. Ek bid vir jou 'n strandlopertjie-dag toe! [Uit: Shrink-stories, Eugene Kemp, Naledi, 2009]. |