TWEEDE VIOOL



 
En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: 'Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.' En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is. Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels; en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: 'Dáár is die Lam van God!' En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg. En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: 'Wat soek julle?' En hulle antwoord Hom: 'Rabbi - dit wil sê, as dit vertaal word, Meester - waar is U tuis?' Hy sê vir hulle: 'Kom kyk.' Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur. Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes [die Doper] gehoor en Hom gevolg het. Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: 'Ons het die Messías gevind' - dit is, as dit vertaal word, die Christus. En hy het hom na Jesus gelei... (Johannes 1:32-43a).

Baie mense sal feitlik enigiets doen om bekend en beroemd te wees. Net 'n beperkte aantal mense ontvang egter die talente en geleenthede om uit te styg bo die gewone. Petrus was so 'n mens. Die meeste van ons is doodgewone mense. Ons haal nie die koerante en die nuus nie. Ons is soos Andréas.

In 'n simfonie-orkes is daar onder meer die eerste en tweede viole. Die eerste viole is meer promi-nent. Hulle staan meer op die voorgrond, is meer in die kollig. Hulle speel die melodie. 'n Mens sou kon dink hulle is die belangrikste.

Dit sou egter jammer wees as daar nét eerste viole in 'n orkes sou wees. Daar sou 'n groot gemis wees, want sonder die tweede viole wat die melodie ondersteun en "vol" maak, sou 'n groot deel van die harmonie en skoonheid van die musiek verlore gegaan het. Dankie tog vir tweede viole!

En dank aan die Here dat Hy vir ons die "Petrusse" van die lewe gee. Dankie ook dat almal nie Petrusse is nie! Te veel Petrus-karakters en Petrus-geaardhede sou die lewe baie gekompliseerd gemaak het.

Dankie aan die Here vir die vele "gewone" mense, vir die Andréasse. Ek het 'n gevoel dat die meeste van ons in hierdie kategorie val. Dit is mense wat nie noodwendig die leiding neem nie, maar mense wat ons samelewing en ook die kerk van Christus bymekaarhou en die lewe vol en mooi maak.

As jy die gawes en persoonlikheid van 'n Petrus het, leef dit opreg en ten volle uit. Wees nederig oor die spesiale talente en geleenthede wat die Here aan jou toevertrou het. En jy, Andréas, speel jou tweede viool. Die orkes van die lewe sou ondenkbaar wees sonder jou!

Of ek geroep is as eerste of tweede viool, Here, in U hand is my lewe die moeite werd. Amen.

[Uit: Die Jesus Bybel, Dr. Isak Burger, Carpe Diem Media, 2010].





"An admirer once asked Leonard Bernstein, the American compo-ser, author, music lecturer, pianist, and celebrated orchestra conductor, what was the hardest instrument to play. He replied without hesitation: 'Second fiddle. I can always get plenty of first violinists, but to find one who plays second violin with as much enthusiasm, now that's a problem. And yet if no one plays second, we have no harmony.'"


Indeks     Index