GELOOF WORD IN AKSIE OMSKEP | |
  |
"Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het... soos 'n vuur weer moet aanblaas. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie..." (2 Tim 1:6 en 8). Die feit dat Paulus vir Timoteus so 'n gloeiende getuigskrif aangaande sy geloof gee, was nie genoeg nie. In sy tweede brief vra hy dat Timoteus daardie geloof in aksie sal omskep, deurdat hy die gawes wat hy van God ontvang het, in diens van die gemeente ontwikkel en gebruik. Verder mag hy ook nie skaam wees om die Evangelie te verkondig nie en moet hy sy probleme met die krag wat God gee, oplos. Ook jou geloof behoort in dade omskep te word. Kan jou vriende aan die dinge wat jy doen en sê, sien dat jy 'n Christen is? En wat maak jy met die talente wat die Here aan jou gegee het? Steek jy hulle weg omdat jy skaam is, of ontwikkel en gebruik jy hulle in God se diens? God gee aan elkeen van Sy kinders een of meer talente wat in Sy diens gebruik en ontwikkel kan word. En hierdie talente mag nooit begrawe word soos in die Bybelse gelykenis nie. Het jy al uitgevind wat jou spesifieke gawe is? Miskien is jy nog maar skrikkerig om daardie gawe in diens van jou gemeente te stel en ook skaam om vir jou vriende van jou verhouding met die Here te vertel. As dit van jou waar is, gaan lees weer 2 Timoteus 1:7 - "Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing" - en vra die Heilige Gees om die vrees weg te neem. Hy belowe om vir jou krag te gee, en vir jou, soos vir Timoteus, met liefde en selfbeheersing toe te rus. Onthou: die krag, liefde en selfbeheersing wat die Heilige Gees aan Sy kinders gee, is tot jou beskikking! Ook wanneer daar moeilikhede en krisisse op jou pad kom, kan jy jou op daardie krag beroep - God sal Sy kinders nooit in die steek laat nie. Hy sal jou elke keer help en bystaan. Gebed: Here, sal U my help om my geloof in dade om te sit, sodat ek 'n lewende getuie vir U sal wees. Wys ook vir my hoe ek my talente in U diens kan gebruik. [Met GOD op pad! CUM, 1994]. |