HOE GOD VIR HOMSELF LOF GENEREER



 
Gedurende Oktober 2016 het ek 'n geweldige pyn in my linkerskouer beleef. Soveel so dat ek naderhand nie my hand kon oplig of gebruik nie. Ek kon net my elmboog buig en my hand gebruik as my arm teen my lyf was. Dit het met soveel geweldige pyn gepaard gegaan dat ek selfs in die nag nie kon slaap nie en moes net op sekere maniere lê.

Ek moes alles met een hand doen. Toe eers het ek besef hoe vanself-sprekend 'n mens altyd aanvaar dat jy twee arms het om te kan gebruik.

As kind van die Here het ek alles gedoen wat gebed en geloof aan-betref om genesing te ontvang, maar niks het gebeur nie. Na vier maande het ek die pad tot medi-syne geloop met ortopeed, plate en sonar om die slegte nuus te kry dat my skouerspier losgeskeur het en niks anders as 'n operasie sal werk nie. Doen ek dit nie, sal dit net erger word totdat ek my arm glad nie meer kan gebruik nie.

Aangesien ons hospitaalplan dit nie wou betaal nie, was daar net een uitweg: Ek moes die Here, aan Wie ek my lewe gegee het, ver-trou. Deur Sy wonde het Hy vir ons genesing gebring en ek moes aanhou bid, sonder ophou...

Die volgende maande begin daar toe 'n stadige genesingsproses teen alle mediese verwagtinge in plaasvind. Met voortdurende pyn en elke beweging wat ek nie kon uitvoer nie, het die lesse wat my Vader my hierna geleer het, begin.

Eerste les: Sê dankie vir die ander arm wat nog kan werk. En so begin daar 'n proses van bid, leer, en dankie-sê. Gedurende die maande wat kom, maak ek aanspraak op die Bloed van Jesus en dat Hy ons krankhede op Hom geneem het. Telkemale wanneer ek die pyn in my skouer beleef het, het ek besef hoe Sy skouers op Golgota moes voel en dan het my gebede oorgegaan in lofprysing tot Hom, en daarna het dit spontaan voortgevloei tot aanbidding.

Tweede les: God genees nie noodwendig met wonderwerke wat onmiddellik gebeur nie. Soms is dit 'n proses van genesing wat groter wonderwerke in my gees laat gebeur en waardeur Hy meer en langdurige lof en aanbidding kry.

Derde les: My vrae word al hoe minder en die lofprysing vir wat Hy besig is om te doen, al hoe meer. God was besig om die een ding wat Hy glad nie kan doen nie - om mense Hom uit eie vrye wil te laat prys, om Hom lof en eer te gee, lof uit 'n waarlik eerlike, egte, opregte hart wat weet dis net HY wat nou besig is om genesing te bewerkstellig - te laat plaasvind.

Vierde les: Dat my liggaam my aanhou herinner om nie net te bid nie, maar ook om God te prys namate my arm en hand beter word. Hierna gaan my lofprysing oor in aanbidding tot die groot, almagtige God.

Met verloop van tyd besef ek dat 'n wonderwerk besig is om met my skouer te gebeur. My groot versoek om net weer my arm te kan oplig na die Hemel om Hom te eer, het 'n werklikheid begin word - eers 'n entjie en toe al hoe hoër! PRYS SY NAAM!

Vyfde les: Soos God "vas" (om vir 'n tyd sonder kos te wees) gebruik om my te leer om met erns te bid, so het Hy nou nie net die pyn nie, maar ook die genesing gebruik om my te herinner om Hom te loof.

Ewe skielik is my voortdurende gebed en lofprysing die sleutel tot gemeenskap met my Vader. En elke beweging wat ek skielik weer kan doen, word 'n lied oor Sy goedheid en grootheid!

Twintig, dertig keer elke dag begin ek met 'n opregte "Dankie Jesus" dat ek my hemp weer sonder moeite kan aantrek, my beursie uit my broeksak kan haal, en so baie dinge kan doen wat ek voor-heen nie meer kon doen nie.

Hoeveel lof en aanbidding sou Hy van my ontvang het as my arm maar altyd gesond was? Nou het ek geleer om Hom aanhoudend met dankbaarheid te aanbid. God het vir Homself lof gegenereer! Ek kan geen krediet daarvoor neem nie, net dankbaarheid aan Hom betoon.

Twaalf maande is verby en ek loof Sy Naam! Dankbaarheid, lof en eer aan Hom het nou 'n gewoonte in my lewe geword.

Ek verstaan al hoe meer die woorde van Kolossense 2:7 - "Laat julle harte ALTYD vol dankbaarheid teenoor God wees." Ook Kolossense 4:2 - "Bid GEREELD en sê ALTYD vir God dankie vir wat Hy doen."

Voeg daarby 1 Tess. 5:16 - "Julle moet ALTYD bly wees. Bid sonder ophou. Dank God vir ALLES." En dink ook aan Heb.13:15 - "Laat ons God gedurig prys."

- Thys Smit 083 459 9245


Indeks     Index