MOENIE LYDING VERKWIS NIE



 
"Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. Die swaarkry het vir my te veel geword" (Psalm 88:3-4).

Gister nog het ek so voor die wind geleef - en nou, skielik, in één oomblik is my hele bestaan uitmekaargeskeur en ek is geskud tot in my fondamente! Ek wil wat gebeur het, ontken. Nie ék nie! Dít is nie my lyding nie.

Opstandgevoelens wel in my binneste op, my hele lewe is deurmekaargekrap en van koers af. Deurentyd wroeg en wonder ek of my lewe ooit weer "normaal" sal wees. Sal ek weer gesond word? Diep, diep binne-in my hart wéét ek: Hierdie verlies wat 'n gat in my binneste geruk het, het myne geword.

Ons was dan so 'n gelukkige gesin! Dood was vir ons net 'n woord; statistiek. En nou is ons 12-jarige dogter, Adri, by 'n kruising doodgery deur 'n groot trok! En my hele lewe het verander...

As daar nou 'n tyd in elke mens se lewe is wanneer daardie persoon werklik ernstig oor die sin van die lewe begin nadink en diep vrae stel, dan is dit juis in tye van swaarkry, beproewing en lyding. Lyding dwing ons om te besin oor die lewe. Ironies genoeg, doen mense nie dieselfde in goeie tye nie. Mense geniet bloot die goeie tye, maar besin oor die lewe in tye van lyding.

Daar is soveel verskillende maniere van lyding dat dit nie so maklik is om 'n algemene definisie van lyding te gee nie. Die graad en intensitieit van lyding verskil. Elke mens se situasie en lyding is uniek. Vir jou is jou pyn skreiender as wat enigiemand op aarde ooit sal verstaan of al ervaar het. (Het jy al iemand anders se situasie probeer "verstaan" en "deurleef"?)

Om mý swaarkry met dié van 'n ander te vergelyk, gaan nie help nie en gaan ook geen verskil maak nie. Swaarkry is dikwels persoonlik en privaat. Finansiële druk - sal ek in my gesin se behoeftes kan voorsien? Spanning, angs, depressie, bekommernis oor 'n dierbare wat die pad byster geraak het, stukkende verhoudinge, die seer van verwerping toe jou lewensmaat in iemand anders se arms geluk gevind het, en vele meer. Hierdie is nie die soort seerkry waarmee 'n mens te koop rondloop nie; dit word dikwels sorgvuldig weggesteek.

Staan God nie tog maar agter alle lyding nie? Om net te sê "Lyding is die wil van God" is te eenvoudig; te maklik. Die Bybel wys vir my "dit is teen Sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring" (Klaagl. 3:33). Om aan die ander kant te sê God wil nie dat ons ly nie, Hy laat dit net toe, laat God weer na 'n ongenaakbare Toeskouer lyk wat uit die hoogte op ons afkyk. Of God lyding in ons eie of ander se lewens wil - dit weet ons nie verseker nie.

Job se vriende het ook gedink dat hulle sy lyding kon verklaar. Volgens hulle redenasie moes Job sonde gedoen het en nou straf God hom. Uit en gedaan. Die Fariseërs het dieselfde mening as Job se vriende gehuldig toe hulle vir Jesus gevra het: "Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?" Jesus se antwoord verras hulle. "Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal word" (Joh. 9:3). Daar is dus nie noodwendig 'n verband tussen sonde en lyding nie.

Moenie verbaas wees oor jou swaarkry nie. In Fil.1:29 lees ons: "God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly." Hier op aarde is ons in God se leerskool. Pyn, droefheid, lyding en beproewing is die leermeesters wat ons karakters ontwikkel en geestelike volwassewording laat plaasvind. God laat nie lyding noodwendig oor ons lewens kom om ons te straf nie, maar om ons geloof te versterk. Tydens lyding moet ons dus nie aanhou om, "Waarom ek?" te vra nie, maar veel eerder, "Hoe kan ék in my lyding verander?"

Ons houding en ingesteldheid teenoor lyding moet begin verander. Wanneer ons na lyding kyk, sien ons nie net meer pyn, swaarkry en vernietiging raak nie. Ons leer om met dieper insig te kyk - ons sien nou reeds die ewige binne die tydelike raak (2 Kor. 4:18). Met hierdie lewensvisie kan ons sê: "Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly" (2 Kor. 4:17).

Hoe gemaak met my lyding en swaarkry? Bring jou swaarkry en kom plaas dit naas die lyding van Christus. "Christus het Self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sonde dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur Sy wonde is julle genees" (1 Pet. 2:24).




  Lyding en swaarkry is nie God se straf op my sonde nie. Hou aan hierdie troos vas. Neem jou kruis en gaan plaas dit aan die voet van die Kruis op Golgota. Jesus is by jou en Hy ken jou lyding. By Hom sal jy 'n simpatieke oor vind...

Daar is verborge seëninge in elke las van beproewing wat God op ons lê. Ons moet dit net ontdek en die seën daarvan nie vir onsself hou nie, maar dit met ander deel. So word ons eie smart getemper en word ons op ons beurt 'n instrument van troos in die Hand van die Groot Trooster. Dan was ons beproewing nie tevergeefs nie en groei ons na die voorbeeld van ons Heer en Meester in diensbaarheid.

God stuur beproewings in ons lewe om die beste wat in ons is, te voorskyn te bring. Satan stuur versoekings in ons lewe om die swakste wat in ons is, te voorskyn te bring. Moenie jou droefheid verkwis nie - God is besig om die beste wat in jou is tot eer van Sy Naam te voorskyn te bring!

- INA DE BEER (079 332 0798)


Indeks     Index