DIE BUSBESTUURDER | |
![]() |
|
  |
In my kinderdae het ons plaaskinders die hele week soggens en smiddae per skoolbus die pad na 'n klein plaasskooltjie, ongeveer 20 km vanaf ons huis, afgelê. Toe ons later in die hoërskool was, moes ons steeds elke dag met dieselfde bus nog verder ry om by die hoërskool op die dorp te kom. Dit was 'n verdere 25 km. Daar was 'n paar skoolbusse wat vanuit verskillende rigtings gekom het. Plaaskinders kon om hierdie rede nie aan na-skoolse aktiwiteite, soos skolesport, deelneem nie. Die koshuiskinders kon wel en ons ander kon darem daagliks by die skool uitkom. As 'n mens op die reguitpad gery het, was die afstand van ons pad skool toe ongeveer 25 km vanaf die laerskool, maar aangesien die bus baie roetes moes ry om al die kinders op en af te laai, het dit baie tyd in beslag geneem. Ons moes dus baie vroeg opstaan en het eers laatmiddag by ons huise aangekom. Oom Jorrie Jordaan was ons busbestuurder. Wat my altyd opgeval het, was hoe versigtig en behendig hy die bus hanteer het. Die groot stuurwiel van die bus het hy altyd met albei hande stewig vasgehou. Op 'n bepaalde dag het ons nog rustig gery toe die linkervoorwiel met 'n groot slag bars! Binne oomblikke het die bus skielik op die skuinste van die pad se skouer afgegly. Met oom Jorrie se stewige greep op die stuurwiel het hy egter die bus met albei sy hande reguit gehou al langs die grondpad en die bus veilig tot stilstand gebring. Toe ons almal uitklim, het ons gesien hoedat ons van rampspoed gered is. 'n Hele bus vol kinders! Wat kon die gevolge gewees het! Een outjie het opgemerk: "Oom Jorrie het hom darem baie mooi vasgehou!" Op ons lewenspad kom daar ook baie rampspoede. Alle soorte, 'n wye verskeidenheid. Daarom moet ons elke dag ons lewens aan ons Groot Bus-bestuurder, Jesus Christus, toevertrou. Hy sal ons bus veilig bewaar op ons lewenspad. Jesus vertel die gelykenis van die goeie herder en verwys daarmee na Homself: "En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken" (Johannes 10:4). En ook: "My skape luister na My stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit My hand ruk nie" (Johannes 10:27-28). Ken jý Jesus? Gee jou lewe aan Hom oor dat Hy ook jóú "Busbestuurder" kan wees! Hy red nie net van lewensrampspoede nie, maar Hy red in die eerste plek elke mens wat wil, van die ewige dood - die hel - deur ons kinders van God te maak. Dit verkry ons nie deur natuurlike geboorte of outomaties nie. Ons moet Hom daarvoor vra in gebed en Hom aanneem as ons Redder en Saligmaker. Hy sê vir elke mens: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is" (Johannes 1:12-13). Om Hom aan te neem, beteken om Hom te ontvang in jou lewe en dan ook jóú lewe aan Hóm oor te gee. Hy het immers op die kruis vir elke mens gesterf. Dus ook vir jou. Hy het met Sy bloed - die volmaakte offer voor God - vir elke mens se sonde, siekte en smarte betaal! Wat elke mens met hierdie geweldige, onbeskryflike offergawe maak, is sy eie keuse. Op die kruis het Jesus uitgeroep: Tetelestai! "Dit is volbring!" "Dit is voltooi!" Die prys is volmaak betaal! Daar kan niks bygevoeg word nie, en daar kan ook niks daarvan weggeneem word nie. Kom jy nou na Jesus toe, want Hy het jou uitgenooi: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig" (Matt. 11:28-30). Kies Hom vandag as jou Redder en maak Hom jou "Busbestuurder!" Jesus sal elke bus van elkeen van God se kinders baie behendig en veilig bestuur tot die einde van elkeen se lewe. Dit is ons keuse om onsself aan Hom toe te vertrou! © Dr. J J Venter |