SIN UIT TRAGEDIE
 
By die Hoërskool Driehoek, Vanderbijlpark het iemand hierdie skrywe geplaas:

"Nadenke gee weer 'n bietjie 'n ander perspektief op alles."

WAAROM HET HIERDIE TRAGEDIE GEBEUR?

"Na aanleiding van kommentaar wat ek op ons blad gelees het, wil ek graag die dame se vraag beantwoord. Sy wou weet waarom so 'n tragedie gebeur het. En in alle eerlikheid weet ons dat daar sekere dinge is wat ons nie kan verklaar nie. Selfs die Woord sê daar is dinge wat ons nie nou weet of kan verklaar nie... Ek wil egter iets met julle deel wat dalk meer duidelikheid en perspektief sal gee."

Jare gelede moes my man 'n begrafnis waarneem van 'n paar-weke-oue babatjie. Hy het 'n hele week geworstel oor wat hy vir almal moes sê. Hóé kon hy hulle bemoedig as hyself oor alles gewonder en vrae gehad het? Maar die aand voor die begrafnis toe praat die Here met hom... En daardie dag het die boodskap werklik 'n geweldige impak op die mense gehad.

Hy vra toe vir die gemeente die vraag... Waarom... Waarom?? Dit was die enigste vraag wat almal gevra het. Waarom het die mamma hierdie dogtertjie 9 maande gedra om haar net 'n paar dae na geboorte te verloor? Wat was die doel van hierdie dogtertjie se lewe? Wat was die nut van haar kortstondige lewetjie?

"En toe sê hy: 'Kyk vanoggend om julle rond.'"

"Mense wat in geen jare gebid het nie, het werklik die afgelope week op hulle knieë neergesak en gebid... Familielede wat vir mekaar kwaad was en jare nie met mekaar gepraat het nie, het arms om mekaar geslaan en saam gehuil.... Mense wat jy as vyande beskou het, het bakke en bakke kos aangedra...."

"Mense wat jy as onbekendes sku aangekyk en behandel het, het skielik geliefde vriende geword wat alles gegee het wat jy nodig gehad het..."

"Geharde sondaars het God aangeroep..."

"Hierdie dogtertjie se doel om gebore te word, was om mense bymekaar uit te bring.... Om gebroke verhoudings te herstel... Haar werk op aarde was voltooi en God het haar Self kom haal."

"Sy het méér vir God gedoen in haar kort lewetjie as wat baie van ons in 'n volle leeftyd doen!"

"Ek sê vandag vir julle almal wat so diep geraak is deur Vrydag se tragedie dieselfde: Kyk om jou rond... Hierdie tragedie se uitvloei het veroorsaak dat mense verenig kon word... Swart en wit het saamgebid... Alle rasse het boodskappe gestuur... Die gemeenskap is saamgebind... Mense het ongelooflik na mekaar uitgereik... Hulp is aangebied..."

"Dan sê ek vir julle die Here het hierdie vreeslike tragedie in 'n groot getuienis omskep. Hierdie ontslape kinders het nie net hulle skool en gemeenskap saamgebind nie... Hulle het die hele land teruggeruk na samesyn... Hulle het ons oë oopgemaak dat ons almal ander mense sien as mense wat almal deur God geskape is... Hulle wat nou weg is, was nie net gewone skoolkinders nie... Hulle het 'n hoër roeping gehad."

- Georgie.


Indeks     Index