WAAROM GEBEUR SLEGTE DINGE?
 
Ná sanger Jan de Wet se ernstige motorongeluk in Namibië, het hy met die vraag geworstel waarom God dit nie verhoed het nie.

Waarom gebeur slegte dinge?

In sy worsteling het Jan vyf lesse geleer op sy reis tot aanvaarding.

"Ons was op pad om vakansie te hou op my swaer se plaas in Namibië. In die laaste gedeelte van ons 1300-kilometer-lange roete moes ons op 'n stukkie grondpad tot by die plaas ry. 'n Motor het van voor af verby ons gery wat baie stof veroorsaak het. Toe die stof effens gaan lê, was daar meteens 'n donkiekar reg voor ons in die pad! Ek het uitgeswaai en nie besef dat ons op 'n draai met 'n enkelbrug was nie. Ons is oor die brug se reling en die motor het op sy dak bo-op 'n rots in die droë Namibiese rivierloop te lande gekom. Die motor was afgeskryf!

"Met moeite het ons huisgesin uit die motor geklim. Ons was styf en seer, maar nie een is ernstig beseer nie. Waar ek langs die motor gestaan het met die wiele wat steeds draai, het dit tot my deurgedring dat nie een van ons dood is nie. Ek was dankbaar en het God geprys. Hierna het ek besef dat ek 'n tweede kans gegun is om God se Woord te verkondig. Ek was baie opgewonde daaroor.

"Dit is egter toe dat die vraag my tref: As God ons dan so bonatuurlik in die ongeluk kon beskerm, waarom het Hy dit in die eerste plek toegelaat? Was dit weens sonde of iets in ons lewens wat nie reg is voor God nie?

"In my worstelstryd met hierdie vrae het ek vyf belangrike lewenslesse geleer wat van waarde kan wees vir enigiemand wat dalk tans sukkel om sin te maak uit trauma waardeur hulle moet werk.

Les 1: Swaarkry is deel van die lewe.
Jesus sê in Johannes 16:33: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin". Slegte dinge gebeur, maar Jesus gee aan ons die outoriteit om dit te oorwin. En Hy maak ons sterk te midde van die stryd.

Les 2: Jy kan God se grootheid beleef.
Stormtye in ons lewens skep 'n geleentheid waar ons God se grootheid kan beleef. In Johannes 9:2-3 vra Jesus se dissipels vir Hom waarom 'n spesifieke man blind was. Was dit weens sy ouers se sonde? Jesus antwoord hulle egter: "Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen" (Die Bybel vir almal).

Les 3: Jy kan bewus word van die krag van Jesus se Naam.
In Spreuke 18:10 lees ons: "Die Naam van die Here is 'n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling." In swaar tye beleef ons die krag van Sy Naam. Toe ons van die brug afry, het ons hele gesin geskree: "Jesus, Jesus, help!" Hy hét ons gedra en beskerm!

Les 4: Jy kry nuwe fokus.
In daardie oomblik toe ons langs die motor staan en ek die kar afskryf, het ek meer as ooit besef dat ek in my lewe wil fokus om weg te stap van die onbelangrike dinge wat soms my tyd beroof sodat ek eerder aandag kan gee aan dít wat werklik van belang is.

Les 5: Nou kan ons ander mense help.
"Omdat ek self deur 'n diep worstelstryd gegaan het, kan ek ander mense met meer empatie en wysheid ondersteun."


Indeks     Index