'N WARE STORIE DAAR UIT BETHLEHEM, VRYSTAAT SE WÊRELD | |
  |
Ek kom vanoggend so 07:15 by die werk, sluit my werkswinkel oop en dank my Hemelse Vader vir die werkswinkel, gesondheid en omdat ek SY vrede en vreugde ervaar. 'n Kliënt kom vinnig nader en klim uit sy motor met 'n Wimpy-koffie in sy hand en kla dis nie meer die koffie soos van ouds nie. 'n Ander persoon wat ek ken, kom van die slaghuis af aangestap met 'n pakkie vleis en al kouende aan sy biltong grom-groet hy so asof dit 'n stryd is om te lewe. Ek besluit: "Vandag wil ek luister." En ek het goed geluister... Dit is nou 18:00, en ek wil jou vertel wat ek vandag gesien en ervaar het. Ouens met baie geld het gekla oor pryse wat te hoog is. Die biltong-man het gesê daar is amper geen vleis op die rakke nie. 'n Ander een het gekla oor ou brood en 'n ander persoon oor 'n koue hamburger wat hy wou vat en in Steers se 'manager' se keel wou afdruk. My suster het gekla oor haar CD-speler wat skoongemaak moet word en dit kos R80 wat sy nie kan betaal nie, want sy het nie geld nie! Ek vertel jou net kortliks wat ek vandag gesien en ervaar het. Mense kla en kla en ek wens hierdie klakouse met wie ek net vandag te doen gehad het, kon sien en ervaar wat ek vroeg-oggend beleef het. Ek wonder of hulle dan nog so sou kla... Terwyl die een persoon nog so oor sy koue hamburger kla, vang my oog 'n ou Kleurlingman wat in die slaghuis se vullissakke krap. Die ou krap so tussen al die sakke en ek hou hom dop. Hy krap iets uit, ruik daaraan, hap en sluk sonder om te kou. Ek stap nader na hom. "Môre," groet ek. "Wat is jou naam?" "My naam is ou Abraham, my Lanie," antwoord hy. "Nou wat doen jy so vroeg hier tussen die ou vrot goed, ou Abraham?" "Ek is honger, my Lanie." "Maar ou Abraham, die goed is vrot, jong!" "Ek weet my Lanie, maar die Jere het nog nie vandag vir my 'n ietsie afgegooi nie, maskien Hy is kwaad vir my." "Ou Abraham, hoekom vra jy nie vir geld as jy iets wil koop om te eet nie?" "Ek het my Lanie, maar daardie man..." (en hy wys na die biltongvreter) "hy het my amper netnou gaslaan, hy sê ek moet voertsek, my Lanie." "Hoe oud is jy ou Abraham?" "78, my Lanie." "Waar bly jy ou Abraham?" "Daar bo teen die berg." (Dis 8 km ver van ons af). "En jou mense, ou Abraham?" "Net my vrou bly by my, mar sy bene kan nie meer werk nie. Nou kan sy nie uit die huis kom nie." "Kry jy oumens-pensioen, ou Abraham?" "Nee my Lanie, nog nie, maar Mandela se mense sal nog plan maak, so ek wag maar my Lanie." Abraham se broek is nie meer 'n broek nie - sy skoene het nie sole nie - en daar is iets aan sy lyf wat dalk lank terug 'n hemp kon gewees het. Ek vra in my binneste 'Here, wat nou Here?' maar ek kry geen antwoord nie. Ek hoor niks. "Ou Abraham, ek dink regtig nie die Here het van jou vergeet nie." "Ja, my Lanie." Die ou oë is glasig en dof, sy kop hang al vooroor soos hy jare lank al probeer om naby hom te sien. Die vulliswa trek in om die vullis te verwyder, en die manne verskreeu ou Abraham. "Waarnatoe gaan jy nou, ou Abraham?" "Ek gaan brood soek om huis toe te vat my Lanie ek het klaar 'n kannetjie vir die water." Ou Abraham het 'n glimlag om sy geplooide mond. "As my Lanie wil, kan ek 'n besem bestuur en die plek mooi skoon vee vir 'n stukkie brood." Ek dink by myself: 'Is dit nou U HERE, wat deur Abraham met my praat?' "Ou Abraham, is jy seker jy het 'n 'liksens' om die besem te bestuur?" "Ja, my Lanie, my vrou het dit vir my gegee toe sy bene siek geword het." "Dis goed so ou Abraham, die mense jaag jou oral, maar vandag het die HERE vir jou 'n groot werk gegee - jy is van vandag af die 'General Manager' van die besems. Jy is die Baas van die besems; hierdie besems gaan vir jou koffie gee in die plek van water en vars kos in die plek van vrottes. 'n 'Manager' moet ook mooi skoon aantrek, so ek gaan vir jou elke dag 'n skoon oorpak gee! En ek gee jou ook 'n geldjie vir die ou vrou by die huis. Ek sien jy is 'n man wat vir ons nog baie in die toekoms gaan leer oor die lewe, ou Abraham." "Kan ek elke dag inkom, my Lanie?" "Ja Abraham, want Vrydae kry die 'Besem-Managers' 'n lekker "Sitdown-Wimpy-ontbyt" en 'Besem-Managers' werk net van 8 tot 11uur, want hulle het tyd nodig vir hulle siek vrouens." "Is reg so my Lani, ek sien nou die Jere het 'n ander plan gehad vandag en amper dink ek Hy het my en die ou vrou gaforgeet. Jammer Jere, omdat ou Abraham nie reg vastaan het nie." Ek is die Here my God vandag so dankbaar vir iemand wat nie oor biltong kla nie, iemand wat nie oor leë rakke in die vleismark kla nie, en iemand wat nie oor koue hamburgers en koue koffie kla nie. Ek is my Vader só dankbaar dat Hy ou Abraham nie vergeet het nie! Doen my, jouself, en ander 'n guns, en probeer net een dag om oor niks te kla nie, want ou Abraham was vandag vir my so 'n groot inspirasie. 'n 78-jarige half-blinde man met toiings aan sy lyf wat nog steeds glimlag en nie kla nie! En ek sê met trots: "Vandag het ek 'n waardige, my beste ooit, Besem-bestuurder gekry!!!" Die Here is vir ons so goed en as ek voel die lewe druk, kyk ek na my Besembestuurder en ek weet ek het niks om oor te kla nie! - Werkswinkeleienaar |