NUWE HOOP VIR 2013...
  Benescke Janse van Rensburg

Ek lees onlangs van ‘n navorsingstudie wat op Jode gedoen is wat die Nazi-konsentrasiekampe oorleef het. Die doel van die studie was om te bepaal of daar enige gemeenskaplike faktore onder die groep oorlewendes was, aangesien geweldig baie mense in die kampe gesterf het. Die interessante bevinding: Al die mense wat oorleef het, het HOOP gehad. Soms in die vorm van ‘n manier om te ontsnap, ander kere met die wete dat ‘n geliefde nog geleef het en dat hulle moontlik weer bymekaar kon uitkom. Die oomblik wat die mense in die konsentrasiekampe hoop verloor het, het hulle gesterf.
Met hoop kan ons berge versit, die mees uitdagende situasies vierkantig in die oë kyk en nog ‘n tree vorentoe gee, al voel dit asof ons laaste krag uit ons liggame gepers word. As ons egter hoop verloor, tuimel ons lewens inmekaar. Watter tipe jaar was 2012 vir jou? Een gevul met hoogtepunte in die vorm van ‘n verlowing, ‘n troue, ‘n nuwe baba in die familie, of ‘n deurbraak waarvoor jy al lank gebid het?
Of was dit ‘n jaar wat jy liefs so vinnig moontlik wil vergeet aangesien ‘n geliefde van jou gesterf het, jy deur ‘n egskeiding moes gaan, jy slegte nuus ontvang het, of dalk omdat jy die afgelope Kerstyd alleen moes spandeer? Om terug te kyk na die vorige jaar, herinner ons aan tye waar God vir ons deurbrake bewerkstellig het, maar ook waar ons Sy teenwoordigheid in die moeilikste oomblikke tasbaar ervaar het.
Dít skep ‘n geleentheid om Hom te dank, maar ook te beleef hoe ons hoop in die proses hernu word met die wete dat Hy ons nie in hierdie nuwe jaar alleen sal laat nie!
My wense vir jou vir 2013 kom uit Romeine 12:12: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”
En ook uit Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”
Mag ons gedurende hierdie jaar nooit hoop verloor nie, omdat ons weet dat God, ons Bron van hoop, ons deur elke situasie sal dra! Hy is Almagtig en vir Hom is niks onmoontlik nie.
Kom ons vertrou op Hom. Hierdie jaar mag dalk net jou beste jaar nog wees!

Gebed:
Vader God, baie dankie dat U van elke hartseer, teleurstelling en seer van my verlede weet. Help my om hierdie nuwe jaar my hoop in U te vind.
vers@versndag.co.za 14 Jan. 2013

Indeks     Index