GEBED WORD LATER BEANTWOORD |
|
  |
Jesus het Martha, Maria en Lasarus liefgehad. Hulle huis in Betánië was vir Hom ‘n tuiste en 'n rusplek waar Hy gereeld tuisgegaan het. Daar het Hy ook hulle gasvryheid en vriendskap geniet. Martha en Maria het hulle na Jesus gewend toe Lasarus siek geword het. Hulle was oortuig daarvan dat Hy hulle kon help, want hulle het Hom heel waarskynlik al wondertekens sien doen. Maria het immers sy voete gesalf (vgl. Joh. 12:1–8). Die susters het Jesus nie ontbied nie, maar net laat weet van Lasarus se ernstige siekte. Hulle het Hom laat weet: "Here, hy vir wie U liefhet, is siek." Dit is al. Niks verder nie, omdat hulle die vaste vertroue in Hom gehad het dat Hy die nodige sou doen. En tog was daar ‘n verskuilde verwagting by hulle waar te neem. Wanneer ons die hoofstuk verder lees, word dit duidelik dat hulle verwag het dat Hy onmiddellik aan hulle verwagting sou voldoen. Daar was by hulle geen twyfel dat Hy sou kom en Lasarus genees nie. Maar ons lees verder: “En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.” (Joh. 11:6). Hoekom het Hy twee dae vertoef? Hoekom het Hy nie dadelik gekom en Lasarus genees nie? Hy het hulle mos tog liefgehad? Somtyds wag Hy ook "twee dae" of twee maande of selfs twee jaar voordat Hy ons gebedsversoeke antwoord. Hoe langer dit neem voordat die antwoord kom, hoe groter word die nood. En hoe groter die nood, hoe groter word ons besef van afhanklikheid van Hom. Ons wéét: Dit is nét die Here wat kan help! Hoe groter ons behoefte, hoe groter is die getuienis agterna wanneer Hy ons gehelp het. Indien Hy Lasarus onmiddellik genees het, sou ons nie die verhaal gehad het van die opwekking van Lasarus uit die dood nie. Dan sou daar nie die getuienis van die groot wonderwerk van opwekking, genesing en herstel van 'n liggaam, wat al vier dae in die graf was en wat besig was om te ontbind, gewees het nie. Wat 'n groot wonderwerk! Wat 'n groot heerlikheid wat God toekom! In ons "wagperiode" vir 'n antwoord op ons gebed, is die Here gewoonlik ook intens met ons as mens besig. Hy toets hoe getrou ons in geloof aan Hom sal vashou, en Hy laat ons opnuut besef hoe afhanklik ons van Hom moet wees. Dan sal ons uiteindelik uitroep: Dit is nét die Here wat my nou kan help! In diepe dankbaarheid erken ons dan sy hulp, en die uitkoms, die wonderwerk wat ons voor gevra het. "Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!" (Ps. 27:14). "Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog…" (Ps. 37:34) "Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!" (Ps. 62:6). |