JOU SEUN, JOU ENIGSTE WAT JY LIEFHET...
  In die boek Genesis lees ons van die aartsvader Abraham, en hoe hy gewag het op die geboorte van sy seun, Isak. Hy was reeds honderd jaar oud toe sy seun gebore is. Hoe lank het hy en Sara vir hierdie wonderlike geleentheid gewag! Baie geloofstoetse sou op hulle wag vóór hierdie gebeurtenis, met baie skadelike nagevolge (Ismael). Wie sou kon dink dat 'n mens nog op hierdie ouderdom 'n kind in die lewe kon bring? Dit is wat Sara self gedink het, want die gedagte daaraan het haar laat lag. Net so het Abraham ook gelag oor hierdie vreemde gedagte. Maar God het Abram (Verhoogde vader) se naam verander na Abraham (Vader van 'n menigte) en Sarai (Prinses) na Sara (Die Prinses of Koningin). Voortaan sou Abraham vir almal waar hy kom, vir etlike jare, moes sê: "My naam is Vader van 'n Menigte", terwyl hy nie eers 'n eie kind gehad het nie! Vir jare sou Sara onthou sy is 'n koningin (van nasies) terwyl haar seun nog nie gebore was nie! Tog het God hulle nie vergeet nie en Sy belofte gestand gedoen. Hy skenk aan hulle 'n wonderkind. Hy was hulle lieflingseun. Hulle het hom Isak genoem wat "gelag" beteken, nie omdat hulle gelag het nie, maar omdat hy soveel vreugde in hulle lewens gebring het. Nadat die seun 'n jongman geword het, sê God aan Abraham: "Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys" (Gen. 22:2). Hierdie seun van die belofte, vir wie hulle so lank gewag het? Vir wie hulle so ontsettend baie lief was? Ja, God vra die hoogste offer. "Enigste" in Hebreeus is "Yachid". Enigste. Enigste kind. Kosbare lewe. Dit beskryf Abraham se unieke lieflingskind. Wonderkind. Sag. 12:10 beskryf hoe Israel eendag gaan ween oor hulle Messias wat hulle gekruisig het - soos oor 'n "Yachid". God se Seun is Sy "Yachid". Sy Enigste wat Hy liefhet. Op dieselfde berg waar Abraham sy seun moes offer, het God ook Sı Seun geoffer vir ons sondes. In Joh. 3:16 staan daar: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun (Hebreeuse Bybel: "Yachid") gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." Sy naam is Jesus, wat beteken: "Yahweh is Redder". Hy sê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie" (Joh. 14:6).
Het u al God se Enigste wat Hy liefhet, aanvaar as u Persoonlike Saligmaker? Het u Hom al in u hart ingenooi? Dit was Sy hoogste offer vir jou en vir my!

Indeks     Index